Die stryd teen MIV/vigs is nog lank nie verby nie.
Luister hierdie Wêreldvigsdag na adolessentema’s
- Wêreldvigsdag is op 1 Desember.
- Ons moet luister na die stemme van adolessente ma’s wat met MIV leef.
- ʼn Fokus op hul stories kan help om MIV uit te wis.
Ons betree ʼn onsekere hoofstuk in die aanpak van die MIV-epidemie en benaderings wat voorkeur aan die behoeftes, prioriteite en stemme van adolessente meisies gee – en struktuur deur ondersteunende volwassenes bied – kan nie meer oor die hoof gesien word nie. Dit is die mening van Christina Laurenzi (Instituut vir Lewensloopgesondheidsnavorsing) en Chuma Busakhwe (Universiteit van Kaapstad) in ʼn opiniestuk vir die Cape Argus op Wêreldvigsdag (1 Desember). Lees die vertaalde weergawe van die artikel hieronder of klik hier vir die stuk soos geplaas.
Vanjaar se Wêreldvigsdag (1 Desember) kom aan die einde van ʼn uiters uitdagende jaar vir die aanpreek van die MIV-epidemie. Jare lange momentum, opgebou deur ʼn wêreldwye gemeenskap van klinici, navorsers, beleidmakers, voorspraakmakers en aktiviste wat werk om MIV/vigs te beëindig, is gestuit deur die ontnugterende werklikheid van finansieringsbesnoeiings ter waarde van miljoene. Vordering in die uitwissing van MIV het weer eens onbestendig en onseker geword.
Adolessentemeisies en jong vroue is in Suid-Afrika dikwels deel van die gesprek rondom MIV. Nuwe MIV-infeksies is baie hoër onder adolessente as wat dit behoort te wees: Adolessentemeisies is ses keer meer geneig om MIV op te doen as seuns in dieselfde ouderdomsgroep. Jare se data uit Suid-Afrika en ander lande met ʼn hoë siektelas toon dat adolessente meer as volwassenes sukkel om by MIV-sorg in te skakel en ingeskakel te bly. Van belang is dat hierdie groep konsekwent ingesluit word by baanbreker-studies om nuwe vooruitgang in sorg te toets, byvoorbeeld inspuitbare pre-blootstellingsprofilakse, wat die belofte inhou om te transformeer hoe MIV voorkom en hoe dit uiteindelik uitgeskakel kan word.
Maar in werklikheid ontbreek die stemme van adolessente meisies, veral dié jonger as 18, dikwels in data en programme. Alle adolessente worstel met vrae oor identiteit, portuurgroepverhoudings en gesinsrolle in die oorgang van kinderjare na volwassenheid. Vroeë blootstelling aan geweld en ongelyke geslagsnorme maak hierdie oorgang vir soveel meisies in Suid-Afrika meer kompleks en verhoog die risiko van MIV. Saam met kritieke data van kliniese proewe en tegnologiese deurbrake, is dit noodsaaklik om op die stories van adolessentemeisies te fokus om werklik te verstaan wat dit sal verg om MIV uit te wis.
Ons span se Masana Young Moms-projek werk met adolessente ma’s in die Oos-Kaap, insluitende diegene wat met of sonder MIV leef. In 2022 het adolessente een uit elke sewe kinders in Suid-Afrika gebaar, en meisies in die Oos-Kaap het ʼn selfs groter kans om ʼn jong ma te word. Ons span navorsers en praktisyns het sedert vroeg in 2024 met adolessente ma’s en sleutel-volwassenes in hulle ondersteuningsnetwerke gewerk om die hindernisse vir MIV- en seksuele en reproduktiewe gesondheidsorg waarmee hulle te kampe het, te help verstaan.
Adolessente ma’s wat met MIV leef en voor die ouderdom van 18 geboorte geskenk het, het vir ons gesê die mees hardnekkige hindernisse vir toegang tot sorg is sosiaal en sielkundig, nie klinies nie. Talle deelnemers het vertel van ʼn besoek aan ʼn kliniek vir ʼn swangerskapstoets, net om uit te vind dat hulle ook met MIV leef. Hierdie ervarings gaan dikwels met skok, ongeloof en hartseer gepaard. Adolessente ma’s beskryf hierdie interaksies by klinieke as moeilik en dikwels traumaties – sonder sensitiewe, pasgemaakte berading wat hulle in staat sou kon stel om die lewe met MIV doeltreffend te bestuur en hulle status met ander te deel. Hulle beskryf ook die sielkundige en sosiale gevolge van hulle onbedoelde swangerskappe. Hulle ervaar gereeld teleurstelling en blaam uit familiegeledere, die verlies van romantiese verhoudings en uitsluiting van skool- en portuurgroepnetwerke – alles voordat hulle amptelik volwassenheid betree.
Gevolglik vind baie adolessente ma’s dat hulle afgesluit is van die ondersteuningstrukture wat hulle die nodigste het. Hierdie isolasie het implikasies vir hulle eie geesteswelstand en lewenslange gesondheid, maar raak ook die toekoms van hulle kinders. Om van MIV-sorg ontdaan te wees verhoog die risiko van swakker gesondheid, asook van die oordrag van MIV aan lewensmaats of kinders. Kritieke lewensgebeure – ʼn MIV-diagnose, skoolverlating en die geboorte van kinders – kan adolessente ma’s en hulle kinders se lewenstrajek fundamenteel verander.
So, wat het adolessente meisies en adolessente ma’s wat met MIV leef nodig om deur hierdie hoërisiko-tydperke te kom en uiteindelik te floreer? Die oplossings – wat deur adolessente ma’s self geopper word, asook deur die sleutel-volwassenes wat ʼn belangrike rol in hulle lewe speel – is dalk eenvoudiger as wat ons geneig is om te dink. Adolessente ma’s het deurgaans die behoefte benadruk aan ondersteunende, volwassenes wat hulle kan vertrou en bereid is om sonder oordeel te luister en leiding te bied. Hierdie volwassenes kan ouers of versorgers, tantes, ouer sibbe, grootouers, onderwysers of ander gemeenskapslede wees wat by adolessente se daaglikse roetine betrokke is.
Sulke volwassenes sluit ook gesondheidsorgverskaffers in. Jong adolessente meisies wat na ʼn kliniek gaan om voorbehoedmiddels te bekom word dikwels deur gesondheidsorgverskaffers beskaam of uitgeskel, wat geleenthede beperk vir vroeë ingryping om swangerskap, maar ook MIV, te voorkom. Empatiese kommunikasie deur gesondheidsorgverskaffers bly ʼn kritieke vaardigheid wat vertroue kan skep en adolessente by die nodige sorg ingeskakel kan hou.
Herverbeelde opvoedkundige en bewusmakingsveldtogte wat stigma en blaam rondom MIV verminder en deernis kweek, is ook noodsaaklik vir adolessente en die volwassenes wat hulle ondersteun. Skole, gemeenskapsgebaseerde organisasies en ander digitale platforms is belangrike toegangspunte om adolessente wat met MIV leef, insluitende adolessente ma’s, te bereik en kan hulle help om ondersteun en gewaardeer te voel sonder dat hulle geoordeel word.
Adolessente kan ook baat vind by portuurgroep-rolmodelle wat soortgelyke ervarings gehad het. Hulle kan hierdie portuurgroepe vind in gemeenskapsgebaseerde ondersteuningsgroepe of op sosiale media, wat reeds as ʼn kragtige platform bewys is waar adolessente met mekaar kan skakel, hulle ervarings kan deel en oor MIV-openbaarmaking en -behandeling kan leer.
Vir jong ma’s kan en moet ondersteuning verder as mense strek om ook dienste en stelsels in te sluit. Doeltreffende dienste in die tydperk ná geboorte kan adolessente ma’s help om geboortesertifikate, ID-kaarte en Sassa-toelaes makliker en vinniger te bekom – wat die weg vir hulle oorgang na moederskap baan, maar hulle ook help om terug skool toe te gaan wanneer hulle gereed is. Weer eens moet voorspraak vir hierdie stelsels met adolessente in gedagte gedoen word, maar dit moet bestuur word deur ondersteunende volwassenes wat verstaan dat sorg en empatie ʼn deurslaggewende vertrekpunt is.
Ons betree ʼn onsekere hoofstuk in die aanpak van die MIV-epidemie en benaderings wat voorkeur aan die behoeftes, prioriteite en stemme van adolessente meisies gee – en struktuur deur ondersteunende volwassenes bied – kan nie meer oor die hoof gesien word nie.
*Christina Laurenzi is verbonde aan die Instituut vir Lewensloopgesondheidsnavorsing aan die Universiteit Stellenbosch. Chuma Busakhwe is verbonde aan die Sentrum vir Sosiaalwetenskaplike Navorsing aan die Universiteit van Kaapstad.