Skip to main content
A picture of Baobab fruit and oil isolated on white background.
Image by: Adobe Stock
Menings en artikels

Internasionale Biodiversiteitsdag: Oes van wilde Afrika-spesies vir globale skoonheidsmiddelbedryf

Francis Vorhies
25 Mei 2026
  • Internasionale Biodiversiteitsdag is op 22 Mei gehou.
  • Dr Francis Vorhies van die Afrika-instituut vir Natuurlewe-ekonomie het ʼn meningsartikel geskryf.
  • Hy het verduidelik hoe die oes van Afrika se wilde spesies landelike bestaansmiddele en die globale skoonheidsmiddelbedryf ondersteun.

Internasionale Biodiversiteitsdag is op 22 Mei gevier. In ʼn meningsartikel vir die Cape Argus het Dr Francis Vorhies van die Afrika-instituut vir Natuurlewe-ekonomie verduidelik hoe die oes van Afrika se wilde spesies landelike bestaansmiddele en die globale skoonheidsmiddelbedryf ondersteun.

  • Lees die vertaalde weergawe van die artikel hier onder of klik hier vir die stuk soos geplaas.

Francis Vorhies*

Die tema van vanjaar se Internasionale Biodiversiteitsdag (22 Mei) is “Plaaslike optrede vir globale impak”. Dit het ten doel om te beklemtoon “dat sukses met die stuit en omkeer van biodiversiteitsverlies afhang van die wêreld se vermoë om die uiters belangrike tapisserie van plaaslike optrede wêreldwyd te benut”.

ʼn Belangrike deel van hierdie plaaslike optrede wat dikwels nie erkenning geniet nie, is die oes van en handel in wilde spesies vir menslike voordeel. Dit dra direk by tot Teikens 5 en 9 van die Kunming-Montreal- Globale Biodiversiteitsraamwerk (GBF) oor die volhoubare gebruik van wilde spesies, en indirek tot die teikens oor gebiedsgebaseerde bewaring, besigheid en finansies (onderskeidelik Teikens 3, 15, 18 en 19).

Die oes van wilde spesies reg oor Afrika vir die skoonheidsmiddelbedryf is minder algemeen bekend, maar het ook ʼn globale impak. Hierdie spesies – van kremetart tot maroela tot shea – genereer inkomste en ondersteun landelike bestaansmiddele. Maar die onbesonge helde is die maatskappye wat hierdie handel moontlik maak deur Afrika-landskappe met die globale skoonheidsmiddelbedryf te verbind.

By vanjaar se handelskou van dié bedryf – in-cosmetics Global – wat verlede maand in Parys aangebied is, was daar minstens 18 uitstallers van bestanddele afkomstig van die oes van wilde spesies oor Afrika heen, insluitend verskaffers van Ghana, Kenia, Namibië, Somalië, Suid-Afrika en Zimbabwe. Hierdie maatskappye is voorvegters vir plaaslike optrede vir ʼn globale biodiversiteitsimpak. Hier volg ʼn keur van ses Afrika-maatskappye wat plaaslik verkry en globaal verkoop:

Bubune Africa (Ghana) spesialiseer in rou, outentieke Afrika-bestanddele, insluitend shea, kakaobotter, asook neem-, kremetart- en moringa-olie. Hulle werk in die noorde van Ghana saam met koöperatiewe groepe onder vroue se leiding om volhoubare en inklusiewe verkryging te verseker. Toepassings sluit in haar- en velsorg, asook baba- en kinderspesifieke produkte.

African Agency for Arid Resources Limited (Kenia) is ʼn produsent en uitvoerder van wilde kosmetiese bestanddele uit Oos-Afrika, insluitend essensiële olies van kremetart, wierook en mirre. Die maatskappy is verbind tot volhoubare verkryging en etiese biohandel (volhoubare handel in natuurlike produkte). Hul produkte word vir haarversorging, parfuum, geure en velsorgtoepassings gebruik.

Namib Desert Oils (Namibië) werk saam met plaaslike gemeenskappe om natuurlike olies vir die kosmetiese bedryf te verkry, insluitend Kalahari-meloen-, mongongo-, maroela- en !Nara-olies. Laasgenoemde (uitgespreek met ʼn klik vir die !) is ʼn doringagtige rankplant wat langs die Atlantiese kuswoestyn groei. Die olies wat uit die sade onttrek word, kan met die behandeling van sensitiewe veltoestande help.

Younis Aroma Ltd (Somalië) isin die noorde van Puntland in Somalië gevestig en spesialiseer in die oes en verwerking van wierookhars van die wierookboom (Boswellia) en mirrehars van die kanniedoodboom (Commiphora) – natuurlike aromatiese gomme of sappe. Die olies wat onttrek word, word vir ʼn wye verskeidenheid van toepassings gebruik, soos geure, toiletware, baba- en kinderprodukte, troeteldiersorg en kleurkosmetiek. Die maatskappy se slagspreuk is “Waar natuur, gemeenskap en handel saam groei”.

Sphile Holdings (Suid-Afrika) bied ʼn innoverende, diergebaseerde, bioaktiewe olie bekend as Vuyotide. Hierdie kosmetiese bestanddeel word volhoubaar verkry van mopaniewurms – ʼn groot, eetbare ruspe wat hoofsaaklik die blare van die mopanieboom eet. Die vetsure, vitamiene en natuurlike antioksidante daarvan kan in serums, rome, velmiddels en haarolies gebruik word. Die maatskappy was ʼn nuwe uitstaller en was op soek na verspreiders in die Amerikas en Europa.

Kaza Natural Oils (Zimbabwe) posisioneer hulleself as ʼn Suider-Afrikaanse endemiese bestanddeelvervaardiger wat die Groot 5 van bome vir skoonheidsmiddels bevorder—die kremetart, Kalahari-meloen, maroela, mongongo en suurpruim – “waar tradisionele skoonheidsgeheime, wetenskap, bewaring van biodiversiteit en landelike bemagtiging ineenvloei”.” By in-cosmetics Global was hulle spesifiek op soek na verspreiders in China vir hul plantekstrakte, botaniese produkte en essensiële en aromatiese olies.

Drie van hierdie maatskappye—Kaza Natural Oils, Namib Desert Oils en Younis Aroma—het FairWild-sertifisering, wat kopers en verbruikers wêreldwyd gerusstel dat plaaslike insamelingspraktyke ekologies volhoubaar, sosiaal regverdig en kommersieel verantwoordbaar is. Soos blyk uit die groeiende belangstelling in FairWild-sertifisering by die handelskou, vereis die wêreldwye skoonheidsmiddelbedryf toenemend naspeurbare wildgeoeste bestanddele wat tot biodiversiteitsbewaring en gemeenskapsbemagtiging bydra.

Deur verantwoordelike verkryging dra bestanddeelwaardekettings van die skoonheidsmiddelbedryf direk tot GBF-teikens 5 en 9 by deur te verseker dat die bestuur, oes en verbruik van en handel in wilde Afrika-spesies volhoubaar, wettig en voordelig vir mense wêreldwyd is. Dit spreek tot die geleenthede wat vanjaar se Internasionale Biodiversiteitsdag vir regerings reg oor Afrika uitlig om bemagtigende omgewings te skep wat bevorderlik is vir inklusiewe en betekenisvolle deelname deur plaaslike gemeenskappe in die oes en gebruik van wilde spesies vir globale nywerhede soos skoonheidsmiddels.

*Dr Francis Vorhies is verbonde aan die Afrika-instituut vir Natuurlewe-ekonomie aan die Universiteit Stellenbosch.

Verwante stories