Skip to main content
A photo of Lloyd Phillips, taken by Karen Winter.
Image by: Karen Winter

Lloyd Phillips

Institusionele nuus

Lloyd gesels oor doelgerigtheid, veerkragtigheid en hoe hy sy pad vind

Ontwikkeling en Alumnibetrekkinge
01 Junie 2026
  • Jeugdag het nog altyd ’n spesiale plek in sy lewe gehad.
  • By die universiteit het hy hom in sy studies, studentelewe en sport verdiep.
  • Hy werk as ’n kwantitatiewe ontleder en praat ook openlik oor die belang van geestesgesondheid.

Vir Lloyd Phillips, ʼn alumnus van die Universiteit Stellenbosch (US), het Jeugdag nog altyd ‘n persoonlike betekenis gehad. Gebore op 16 Junie 2002, vier hy sy verjaardag op dieselfde dag wanneer Suid-Afrikaners die moed en opoffering van die jeug van 1976 herdenk.

"Die belangrikste les van Jeugdag, vir my, is hoe die jeug standpunt ingeneem en teen wat verkeerd was, geveg het. Dit spreek boekdele oor die mag wat ons as jongmense het. Ons vergeet dit partykeer," sê hy.

Lloyd se besluit om by Maties te studeer is gevorm deur akademiese belangstelling en Stellenbosch se reputasie as 'n studente-dorp. Alhoewel hy net 30 minute hiervandaan in Franschhoek grootgeword het, het hy gekies om in Huis Marais te bly vir die volle koshuislewe-ervaring.

"Ek kan nog onthou hoe ek deur Stellenbosch gery het en al die studente gesien het wat vir Vensters oefen. Ek wou regtig hê dit moes eendag ek wees," sê hy.

Wiskunde was die vak wat hy die meeste op skool liefgehad het, en in matriek het daardie passie hom die Bridge House Broker Mathematics-toekenning besorg. 'n BCom-graad in Wiskundige Wetenskappe het soos die logiese stap daarna gevoel, al erken hy hy het "geen idee gehad wat dit regtig behels" of waarheen dit kon lei nie.

In sy tweede jaar het hy Finansiële Risikobestuur ontdek en later sy BCom Honneurs in hierdie rigting cum laude voltooi.

Een van die mees aangrypende aspekte van Lloyd se reis is die onverwagte verband tussen sy loopbaan in finansiële risikobestuur en dié van sy pa, wat oorlede is toe Lloyd drie jaar oud was.

"Ek het altyd aanvaar dat kinders uiteindelik doen wat hul ouers nog altyd gedoen het, omdat hulle in daardie rigting grootgemaak word, so dit was omtrent ‘n ding om te besef dat ek op een of ander manier dieselfde rigting as my pa ingeslaan het," sê 'n trotse Lloyd.

By die universiteit het hy homself in sy studies, studentelewe en sport verdiep, as kaptein van die koshuis se eerste hokkiespan gedien, en vir die Maties- en Franschhoek Dragons-hokkiesklubs gespeel. Hy het ook by die Toastmasters Internasionaal se Stellenbosch-klub en die Beleggingsvereniging aangesluit.

"Toastmasters het my gehelp om selfvertroue vir onderhoude te bou en my netwerk- en aanbiedingsvaardighede vir die werkplek verbeter."

Alhoewel Lloyd uitblink, het sy geestesgesondheid agteruitgegaan terwyl hy gesukkel het met een van sy mees veeleisende modules – sy eerste werklik uitdagende akademiese ervaring.

Teen die einde van sy tweede jaar het hy 'n sielkundige besoek.

"Al het dit met akademiese stres begin, het dit my toegelaat om destydse dinge op te diep, soos my pa wat oorlede is en ek wat nie goed genoeg voel nie. Teen die tyd wat ek honneurs doen, wat verreweg die mees veeleisende jaar was in terme van werkslading, was ek baie meer ontspanne."

Dit het sy benadering tot sy rol as mentor by Huis Marais in 2023 gebeitel, veral om eerstejaars te help om akademiese druk en geestesgesondheidsuitdagings te navigeer.

"Ek het van die begin af vir my mentees gesê waar hulle emosionele ondersteuning kan kry, sodat hulle nie hoef te vra as hulle reeds desperaat voel nie. Vir my is die gedeelde ervaring van daardie inligting ‘n manier om die stigma rakende geestesgesondheid af te breek.”

In 2025 is hy aanvaar in Standard Bank Suid-Afrika se Persoonlike en Privaatbankrisiko Nagraadse Program, waar hy deur die Persoonlike Leningsportefeulje, Kapitaal- en Waardebeperkingsmodellering, en Datawetenskap-spanne roteer. 

"Dit het my gehelp om 'n afgeronde begrip van die end-tot-end kredietlewensiklus te verkry."

 Vandag werk Lloyd as 'n kwantitatiewe ontleder in die bank se Kapitaal- en Waardeverminderingsmodelleringspan, met as fokus "die ontwikkeling en instandhouding van die regulatoriese kapitaalmodelle vir al die kredietportefeuljes".

"My rol behels die toepassing van statistiese tegnieke om akkurate kredietrisikovoorsiening te verseker en die ondersteuning van belanghebbendes met verslagdoening en insigte wat finansiële besluitneming lei."

Vir studente wat voorberei vir die werkswêreld, beklemtoon hy die belangrikheid van 'n geslypte CV, 'n professionele LinkedIn-profiel en vroeë aansoek vir nagraadse programme.

Sy raad aan studente is prakties: "Soek altyd hulp wanneer jy dit nodig het, of dit nou met jou geestesgesondheid of akademie te doen het. Praat met tutors, ouer studente en alumni om te verstaan wat om professioneel en akademies te prioritiseer. Hard werk is belangrik, maar om hard aan die verkeerde dinge te werk, kan steeds tot swak resultate lei."

Merkers

Alumni

Verwante stories