Skip to main content
Stellenbosch University (SU) continues to advance its ambitious Vision 2040 strategy.

Die Universiteit Stellenbosch (US) gaan voort om sy ambisieuse Visie 2040-strategie te bevorder. 

Institusionele nuus

Katalisators vir groei – US se Pro-visekanseliers gaan innovasie, vennootskappe en uitnemendheid bevorder

Corporate Communication and Marketing
11 Mei 2026
  • Die US het ses nuwe Pro-visekanseliers om innovasie aan te dryf, vennootskappe te bou en akademiese uitnemendheid te versterk.
  • Pro-visekanseliers dien as ambassadeurs van die Universiteit en die Visekanselier.
  • Hierdie poste vul die werk van Viserektore, Dekane en senior administrateurs aan deur gefokusde kundigheid en strategiese koördinering in prioriteitsareas te bied.

Terwyl die Universiteit Stellenbosch (US) voortgaan om sy ambisieuse Visie 2040-strategie te bevorder, het die instelling sy leierskapskapasiteit versterk met die bekendstelling van 'n reeks Pro-visekanseliers in kernstrategiese gebiede.

"Hierdie aanstellings dui op 'n belangrike stap in die verbetering van die Universiteit se vermoë om in 'n vinnig ontwikkelende hoëronderwysomgewing innovasie te bevorder, vennootskappe te bou en akademiese uitnemendheid te ondersteun," sê die US se Rektor en Vise-Kanselier, prof Deresh Ramjugernath. 

Die Pro-visekanseliers dien as ambassadeurs van die Universiteit én die Visekanselier en verteenwoordig die US op nasionale en internasionale vlak, terwyl hulle gespesialiseerde inisiatiewe lei wat met die instelling se waardes en langtermyndoelwitte strook. 

Gespesialiseerde portefeuljes dryf strategiese prioriteite 

Prof Francesco Petruccione, Direkteur: Nasionale Instituut vir Teoretiese en Rekenaarwetenskappe en professor in kwantumrekenaarkunde aan die US, was een van die eerste aanstellings in hierdie nuwe leierskapstruktuur in 2025. 

Hy is as Pro-visekanselier: Kwantumtegnologie en Kunsmatige Intelligensie daarvoor verantwoordelik om die Universiteit se strategiese rigting in opkomende tegnologieë, veral kwantumwetenskap en kunsmatige intelligensie te bepaal. Sy werk fokus op die versterking van SU se wêreldwye reputasie in gevorderde tegnologieë en om te verseker dat baanbrekernavorsing betekenisvolle maatskaplike en ekonomiese impak oplewer.

Die Pro-visekanselier: Kwantumtegnologie en Kunsmatige Intelligensie doen aan die Viserektor: Navorsing, Innovasie en Internasionalisasie verslag, met 'n bykomende verslagdoeningslyn aan die Rektor en Visekanselier se kantoor. 

Prof Wikus van Niekerk, Dekaan van die Fakulteit Ingenieurswese, dien as Pro-visekanselier: Institusionele Doeltreffendheid. Sy portefeulje fokus op die verbetering van die doeltreffendheid van institusionele bedrywighede regoor die Universiteit.

Hy werk regoor fakulteite en administratiewe afdelings heen en fokus daarop om organisatoriese bekwaamheid en behendigheid te verbeter, prosesse te stroomlyn en deurlopende verbetering te bevorder. Sy leierskap ondersteun die Universiteit se breër doelwit om veerkragtige stelsels te bou wat akademiese en bedryfsuitnemendheid op die lang termyn kan handhaaf.

Die Pro-visekanselier: Institusionele Doeltreffendheid doen aan die Uitvoerende Bedryfshoof verslag, met 'n bykomende verslagdoeningslyn aan die Rektor en Visekanselier se kantoor. 

Bevordering van US se internasionale voetspoor

Internasionalisering bly 'n sleutelprioriteit vir die instelling, met prof Reggie Nel, Dekaan van die Fakulteit Teologie en 'n alumnus van die SU, wat as Pro-visekanselier: Internasionalisering aangestel is. 

Sy rol ondersteun die Universiteit se pogings om internasionale vennootskappe te versterk en die instelling se internasionale voetspoor in onderrig, navorsing en innovasie te vergroot. Dit sluit die versterking van verhoudings met universiteite en organisasies wêreldwyd, die ondersteuning van internasionale studentewerwing en mobiliteit en die bevordering van 'n interkulturele kampusomgewing in. 

Sy portefeulje weerspieël die US se verbintenis tot wêreldwye samewerking en om 'n universiteit te bou wat plaaslik geanker én internasionaal verbind is, sê Ramjugernath.

Die Pro-visekanselier: Internasionalisering doen aan die Viserektor: Navorsing, Innovasie en Internasionalisering verslag, met 'n bykomende verslagdoeningslyn na Ramjugernath se kantoor. 

Versterking van vennootskappe vir impak op die samelewing 

Die Universiteit het vanjaar die Pro-visekanselier-struktuur verder uitgebrei met die aanstelling van drie bykomende leiers wat op die versterking van vennootskappe en navorsingsimpak in die regering, gesondheidsorg, bedryf en liefdadigheid fokus.

Prof Geo Quinot, professor in die Departement Publiekreg en stigterdirekteur van die Eenheid vir Afrika-verkrygingsreg (African Procurement Law Unit) dien as Pro-visekanselier: Regeringsvennootskappe.

Sy rol posisioneer die US as 'n betroubare kennisvennoot vir regeringsinstellings deur samewerking tussen akademiese kundiges en die openbare sektor te fasiliteer. Hy ondersteun deur hierdie vennootskappe bewysgebaseerde beleidmaking, navorsingsinnovasie en kapasiteitsbou-inisiatiewe wat tot nasionale en streeksontwikkeling bydra.

Die Pro-visekanselier: Regeringsvennootskappe doen direk aan die kantoor van die Rektor en Visekanselier verslag. 

Prof Erick Strauss, Departementshoof van Biochemie en mededirekteur van die Afrika-sentrum vir Terapeutiese Innovasie, is as Pro-visekanselier: Geneesmiddelontwikkeling en Kliniese Proefnemings aangestel.

Sy portefeulje fokus daarop om die US as 'n toonaangewende aansluitingspunt in Afrika en vir geneesmiddelontwikkeling en proefnemings vir kliniese navorsing te posisioneer.

Dit sluit die bou van 'n omvattende navorsingsplatform in wat die volle farmaseutiese innovasie-waardeketting – van rekenaarkundige geneesmiddelontwikkeling en laboratoriumtoetsing tot menslike kliniese proewe – dek.

Sy werk behels ook die versterking van vennootskappe met farmaseutiese maatskappye, biotegnologiemaatskappye en internasionale navorsingsorganisasies om groot navorsingsinisiatiewe na die Universiteit te lok.

Die Pro-visekanselier: Geneesmiddelontwikkeling en Kliniese Proefnemings doen aan die Viserektor: Navorsing, Innovasie en Internasionalisering verslag, met 'n bykomende verslagdoeningslyn na Ramjugernath se kantoor. 

Prof Tulio de Oliveira, Direkteur van die Sentrum vir Epidemiese Reaksie en Innovasie (SERI) dien as Pro-visekanselier: Vennootskappe met die Bedryf, die Sakesektor en Stigtings.

Sy rol fokus op die versterking van verhoudings tussen die Universiteit en eksterne vennote regoor die bedryf-, liefdadigheids- en die finansiële toekenningsektor. Hy ondersteun samewerkende innovasie, nuwe finansiële toekenningsgeleenthede en die uitbreiding van skenker- en liefdadigheidsvennootskappe deur die US se sterkpunte in navorsing met werklike uitdagings te belyn.

Die Pro-visekanselier: Vennootskappe met die Bedryf, die Sakesektor en Stigtings doen aan die Viserektor: Navorsing, Innovasie en Internasionalisering verslag, met 'n bykomende verslagdoeningslyn na Ramjugernath se kantoor. 

'n Katalitiese leierskapsmodel vir die toekoms

Die Pro-visekanseliers vorm saam 'n strategiese leierskapsnetwerk wat ontwerp is om vordering in die bereiking van die Universiteit se langtermyndoelwitte te versnel.

Eerder as om bestaande leierskapsrolle te vervang, vul hierdie posisies die werk van Viserektore, Dekane en senior administrateurs aan deur gefokusde kundigheid en strategiese koördinering in prioriteitsareas te bied.

"Die Pro-visekanselier: rol is dus katalities van aard en bied leierskap, integrasie en strategiese uitvoering om sleutelinisiatiewe voort te dryf," sê Ramjugernath. 

"Die US versterk deur die instelling van hierdie rolle sy vermoë om te innoveer, vennootskappe te bou en betekenisvolle impak plaaslik en wêreldwyd te lewer. Sodoende verseker dit dat die Universiteit goed geposisioneer bly om die toekoms van hoër onderwys op die vasteland en verder te vorm." 

Verwante stories