Hoop is 'n daaglikse keuse: Prof Tshepo Madlingozi sluit aan by Sentrum vir Sosiale Geregtigheid
- Nuut aangestelde buitengewone professor by die Sentrum vir Sosiale Geregtigheid.
- Menseregtekommissaris vier 30 jaar van Grondwet, WVK en GEAR.
- Akademiese aktivis bevorder horisontale verantwoordbaarheid en dialoog tussen generasies.
Sou jy ʼn elegante figuur sien wat diep ingedagte oor die Universiteit Stellenbosch (US) se kampus stap – kalm, innemend en stilweg vasberade, is dit bes moontlik prof Tshepo Madlingozi, die nuut aangestelde buitengewone professor aan die Sentrum vir Sosiale Geregtigheid (CSJ). Sy houding straal erns én warmte uit. Die hoop wat hy versinnebeeld is nie ʼn abstrakte sentiment nie; dis ʼn onderneming wat in sy naam gewortel is, verduidelik hy.
“In ons kultuur word die naam wat jy gekry het, dít waartoe jy jouself verbind,” sê hy. “Tshepo beteken hoop. Ek maak heeltyd die keuse om krities optimisties te wees. Madlingozi beteken ‘een wat gevaar eet’. Vir my beteken dit ek kan enigiets te bowe kom.”
Madlingozi se aanstelling formaliseer ʼn verhouding wat oor jare ontvou het en geanker is in intellektuele betrokkenheid, beginselvaste kritiek en ʼn gedeelde verbintenis om met Suid-Afrika se geskiedenis rekening te hou terwyl ‘n beter toekoms verbeel word.
Dié gerekende akademikus en aktivis se eerste ervaring van die US was toe prof Sandra Liebenberg hom vroeg in sy loopbaan na ʼn konferensie oor transformerende konstitusionalisme genooi het. Hy het ʼn skerp kritiese interpretasie van konstitusionele praktyk aangebied. Die ontvangs het hom verras. “Hulle het my uiters kritiese siening regtig verwelkom,” onthou hy. Later, terwyl hy sy meestersgraad in sosiologie afgerond het, het hy meer as ʼn maand lank by STIAS (die Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Navorsing) deurgebring. Dit was ʼn vormingstydperk van skryf en nadenke wat hy met akademici soos voormalige hoofregter Arthur Chaskalson gedeel het.
Vir Madlingozi was die besluit om homself aan Stellenbosch te verbind doelbewus. Hy sê die US beklee ʼn unieke plek in Suid-Afrika se geskiedenis met verwysing na die historiese verbintenis met die apartheidsideologie. Tóg is hy aangetrek na wat hy as ʼn ernstige institusionele poging tot selfondersoek beskou het. “Die US het die afgelope paar jaar kritiese selfondersoek gedoen en met ʼn nuwe visie vorendag gekom, met mense wat sê ons moet ernstig en eerlik oor ons geskiedenis en ons bydrae vorentoe wees. Ek wil saam vorentoe beweeg.”
Die stigting van sentrums soos die CSJ, die Sentrum vir die Bestudering van die Nadraai van Geweld en die Soeke na Herstel (AVReQ), en die Stellenbosse Sentrum vir Kritiese en Kreatiewe Denke het vir hom gedui op ʼn voorneme om dié selfondersoek in volgehoue intellektuele werk en sosiale impak te omskep.
ʼn Jaar van herdenkings en rekening hou
Madlingozi se professoraat begin in ʼn jaar wat heelwat simboliese gewig dra: drie dekades sedert die aanvaarding van die Grondwet; drie dekades sedert die bekendstelling van die Waarheids-en-versoeningskommissie (WVK); en drie dekades sedert die aanvaarding van die makro-ekonomiese beleid van groei, werkskepping en herverdeling (GEAR).
“Vir my is dit ʼn gelukkige toeval dat my werk by die CSJ begin terwyl ons die belangrikste jaar in Suid-Afrika se onlangse geskiedenis herdenk,” sê hy. Die Grondwet het ʼn visie van ʼn getransformeerde samelewing verwoord. Die WVK wou versoening en genesing meebring. GEAR het ʼn makro-ekonomiese wending gebring waarvan die gevolge steeds betwis word.
Hy beskou hierdie herdenkings as ʼn uitnodiging vir wat hy “kritiese bifokale nadenke” noem – om met eerlikheid terug en met verbeelding vorentoe te kyk. “Kom ons wees eerlik oor kolonisasie, oor apartheid, oor korrupsie en oor die hoë vlak van misdaad en geslagsgebaseerde geweld,” sê hy. Tóg is terugskouing alleen onvoldoende. “Van kardinale belang is om met ʼn nuwe visie van ʼn samelewing vorendag te kom. Dis nie genoeg om te sê ons wil ʼn nie-rassige, nie-seksistiese samelewing wees nie. Wat beteken dit?”
Suid-Afrika ervaar spanning én potensiaal, voer hy aan. Strukturele rassisme en rassespanning duur voort. Ongelykheid is in skerp ruimtelike verskille sigbaar, insluitend dié wat Stellenbosch en die omliggende gemeenskappe kenmerk. Koalisiepolitiek het onsekerheid ingelui. “Akademici en aktiviste word gedwing om anders te dink. Die werk wat voorlê vereis intellektuele en geestelike eerlikheid.”
Horisontale geregtigheid
By die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie, waar pres Cyril Ramaphosa hom in 2024 as ʼn heeltydse Kommissaris aangestel het, is Madlingozi aan die spits van werk oor anti-rassisme, onderwys en gelykheid. Hy is ook die voorsitter van die Kommissie se Regskomitee en hou toesig oor strategiese litigasie, beleidshervorming en openbare dialoog. Voordat hy by die Kommissie aangesluit het, was hy die Direkteur van die Sentrum vir Toegepaste Regstudies (CALS) – ʼn regskliniek en navorsingsentrum – aan die Universiteit van die Witwatersrand, asook ʼn medeprofessor aan Wits se Regskool, waar hy sosiale geregtigheid en menseregte onderrig het.
By die CSJ is hy voornemens om ʼn aanvullende ondersoekarea te verdiep: die horisontale toepassing van die Grondwet. “Ons was almal op die vertikale toepassing van die Grondwet en die aanspreeklikheid van die staat gefokus,” sê hy. “Maar groot ondernemings en prominente private rolspelers is soms selfs magtiger as die staat.”
Sonder aanspreeklikheid wat strek tot by korporasies wat besoedel, gemeenskappe verplaas of ekonomiese ongeregtigheid voortsit, sal grondwetlike beloftes aanhou om min om die lyf te hê. Dieselfde geld vir groot tegnologiemaatskappye wat die verspreiding van waninligting moontlik maak. Sosiale geregtigheid moet horisontaal én vertikaal wees, voer hy aan.
Hierdie klem sluit nou aan by die CSJ se mandaat om gestrenge akademieskap met openbare impak te kombineer. Madlingozi se aanstelling versterk nagraadse toesig, interdissiplinêre samewerking en beleidsgerigte navorsing in die Fakulteit Regte.
Intergenerasionele dialoog en morele verantwoordelikheid
Madlingozi is veral bekommerd oor die afstand tussen generasies. “Ons is dikwels afwysend teenoor jongmense,” sê hy. Ouer aktiviste het misluk om ruimtes te skep waar foute en lesse eerlik gedeel kan word. Ongeveer 15 jaar gelede het hy “Tshepo’s Legal Shebeen” gestig – ʼn forum waar studente in ʼn toeganklike omgewing oor reg en geregtigheid debat kan voer.
Hy romantiseer egter nie die jeug nie. Sommige jongmense onderskat die diepte van Suid-Afrika se historiese erfenis, sê hy. Verandering ná eeue van kolonialisme en apartheid sal tyd neem. Tog weerspieël ongeduld dikwels ontnugtering. Korrupsie, beide ekonomies en seksueel, het vertroue ondermyn. Omgewingsagteruitgang en ongebreidelde materialisme bedreig die toekoms.
“Ons dra intergenerasionele vooroordeel en rassisme aan ons kinders oor,” waarsku hy en verwys na prof Jonathan Jansen se bekende frase “kennis in die bloed”. Sonder doelgerigte versoening en dekolonisasie word vooroordeel oorgedra.
Opvoeders dra ʼn groter verantwoordelikheid, meen Madlingozi. In ʼn era van woede-uitlokking (deur aanlyn inhoud) en waninligting is die kweek van integriteit noodsaaklik.
Doodeenvoudige goed gee Madlingozi krag vir elke dag: sy naam, sy spiritualiteit, sy familie en om te stap. “Ons erf nie die aarde van ons voorouers nie; ons leen dit van ons kinders,” haal hy die bekende gesegde aan wanneer hy oor sy hoop en drome vir sy sesjarige seun praat. Ure lange wandelings deur Stellenbosch se boomryke lane, joga en meditasie anker hom ook.
Hoop, in sy woordeskat, is nie naïef nie. Dis gedissiplineerd. Dis ʼn daaglikse keuse. En by ʼn universiteit wat sy geskiedenis én sy verantwoordelikhede onder die loep neem, is dít ʼn gepaste metgesel.
Die Direkteur van die CSJ, prof Thuli Madonsela, sê sy is verheug dat prof Madlingozi die benoeming as Buitengewone Professor aan die Fakulteit Regte aanvaar het, en om in die besonder met die CSJ geassosieer te word. “Prof Madlingozi word erken as 'n gesaghebbende stem oor sosiale geregtigheid, menseregte en transformerende konstitusionalisme en word wêreldwyd erken vir sy akademiese kundigheid, prestige en besondere intellektuele vermoëns. Die CSJ, die Regsfakulteit en die US in die algemeen staan geweldig te baat by ‘n kenner van sy kaliber, veral in die diversifisering van akademiese denke en die dryf van navorsing in diens van die samelewing.”