Skip to main content
A picture of a Cape snoek against a black background.
Image by: Brian Gratwicke

Volhoubare bestuur van snoek moet op genetiese bewyse gegrond wees.

Persverklaring

Genetika-navorsing wil Kaapse snoek help bewaar

Alec Basson
03 Maart 2026
  • Snoekbevolkings is in afsonderlike groepe verdeel wat nie vrylik meng nie.
  • Snoekvangste en genetiese diversiteit het afgeneem.
  • Spesie kwesbaar teen omgewingsverandering en visvangdruk.

Kaapse snoek is een van Suid-Afrika se belangrikste visspesies. Dit is steeds baie mense se stapelvoedsel, veral in lae-inkomste huishoudings, en is ʼn reddingsboei vir kleinskaalse vissersgemeenskappe.

Maar ná jare van stabiele vangste is snoek nou meer kwesbaar as wat dit op die oog af lyk. Afnemende vangste het druk op plaaslike vissers geplaas en die deur vir invoere uit Nieu-Seeland oopgemaak. Dit het kommer laat ontstaan oor die toekoms van plaaslike visserye en die oorlewing van kusbewoners wie se bestaan daarvan afhanklik is.

In ʼn nuwe studie deur dr Sihle Mthethwa van die Departement Genetika aan die Universiteit Stellenbosch (US) val die kollig op die kwesbaarheid van Kaapse snoek en word voorstelle gedoen om die probleem aan te pak. Deur dié vis se genetiese samestelling te ontleed het Mthethwa, wat onlangs sy doktorsgraad in genetika aan die US verwerf het, bevind dat snoekbevolkings wêreldwyd én langs die Suid-Afrikaanse kuslyn in afsonderlike groepe verdeel is wat nie vrylik meng nie.

“Dié bevinding daag die idee uit dat Kaapse snoek ʼn enkele, veerkragtige hulpbron is. Pleks daarvan word die behoefte beklemtoon aan omsigtige, plaaslik aangepaste bestuur om hierdie ikoniese vis en die gemeenskappe wat daarvan afhanklik is, vir die toekoms te beskerm,” sê hy.

Nadat hy monsters van veelvuldige streke oor die suidelike halfrond heen versamel het, insluitend in Suid-Afrika, Nieu-Seeland, Chili en afgeleë eilande, het Mthethwa molekulêre gereedskap gebruik om hul DNS te ontleed om die evolusionêre geskiedenis, langtermyn-bevolkingspatrone, onlangse genevloei en bevolkingstruktuur van snoek te verstaan. Hy het ook monsters van Suid-Afrika oor verskillende tydperke heen vergelyk.

“Die DNS-ontledings toon dat Kaapse snoek in Suid-Afrika uit minstens twee geneties afsonderlike groepe bestaan wat nie vrylik kruisteel nie, al het hulle dieselfde ligging op dieselfde tyd gedeel, asook ʼn moontlike derde bron wat met Namibië gedeel word,” sê Mthethwa. “Daar is ook bewyse van ʼn onlangse genetiese bottelnek, wat beteken dat genetiese diversiteit en getalle in onlangse generasies afgeneem het. Hierdie verlies aan diversiteit kan beteken dat die spesie minder in staat is om omgewingsverandering en visvangdruk die hoof te bied.”

Volgens Mthethwa het hy met sy studie antwoorde op drie belangrike vrae probeer vind: Is Kaapse snoek van Suid-Afrika en barracouta-snoek van Nieu-Seeland dieselfde spesie? Hoe onderling verbind is Kaapse snoekbevolkings oor die Suidelike Halfrond heen, en hoe het hulle evolusionêre geskiedenis hierdie verbinding gevorm? Is die Kaapse snoekbevolking in Suid-Afrika geneties eenders, of is daar verskeie afsonderlike bronne?

“Die verifikasie van spesie-identiteit kan help om te verhinder dat ingevoerde Nieu-Seelandse barracouta-snoek verkeerdelik as Suid-Afrikaanse snoek geëtiketteer word, wat verbruikers beskerm en deursigtigheid in die visseryhandel verbeter,” verduidelik Mthetwa.

“Insigte in die verbintenis en evolusionêre geskiedenis van die Suidelike Halfrond se snoek/barracouta is van deurslaggewende belang vir visserybestuur en maak dit moontlik om tussen ʼn enkele, goed gemengde bevolking en afsonderlike bronne te onderskei, asook om die oorbenutting te voorkom van plaaslike of geïsoleerde bevolkings wat verkeerdelik as deel van ʼn enkele globale bron aanvaar word.

“Die wete dat die Kaapse snoekbevolking in Suid-Afrika geneties eenders is, kan help om oorbevissing te voorkom van plaaslike subbevolkings wat vir ʼn enkele, goed gemengde bevolking aangesien word, asook om geteikende kwotas moontlik te maak en om volhoubare bestuur te ondersteun.”

Mthethwa wys daarop dat Kaapse snoekvangste histories relatief stabiel was, maar die afgelope paar jaar merkbaar afgeneem het. Gevolglik het plaaslike voorraad onbetroubaar geword, wat die afhanklikheid verhoog van ingevoerde Nieu-Seelandse barracouta (dieselfde spesie), wat dikwels as ‘Kaapse snoek’ verkoop word. Hy sê die afname in vangste wek kommer oor oorbevissing, verlies aan genetiese diversiteit en die langtermyn-volhoubaarheid van plaaslike bevolkings. Dit bedreig ook die inkomste en voedselsekerheid van gemeenskappe wat van die inheemse vissery afhanklik is.

Volgens Mthethwa is dit problematies wanneer verskillende snoekbevolkings as een bron beskou word, want dit kan die oorbenutting van individuele groepe verberg. “Wanneer die genevloei tussen visbevolkings beperk word, sukkel hulle om hul getalle en genetiese diversiteit ná oorbevissing aan te vul. Dit verhoog die risiko van plaaslike ineenstorting, ʼn verlies aan unieke aanpassings en langtermyn-skade aan visserye en gemeenskappe wat daarvan afhanklik is, selfs wanneer algehele vangsvlakke volhoubaar lyk.”

Hy doen ʼn beroep op diegene wat by die bestuur en bewaring van Kaapse snoek betrokke is om veelvuldige genetiese bronne te erken eerder as ʼn enkele bevolking; vangsbeperkings en bewaringsmaatreëls aan te pas om elke bron individueel te beskerm; genetiese monitering in roetine-bronassesserings in te sluit; en versigtig met invoere en etikettering om te gaan, aangesien ingevoerde snoek nie dieselfde ekologiese of ekonomiese rol as plaaslike bronne speel nie.

Mthethwa sê hierdie veranderinge kan moontlik help om verdere genetiese erosie te voorkom en volhoubare visvang op lang termyn te ondersteun. “Om Kaapse snoek vir toekomstige geslagte te bewaar moet volhoubare bestuur op genetiese bewyse gegrond wees en nie net op vangsgetalle nie.”

Verwante stories