Skip to main content
Dr Allison Matroos photographed holding her degree outside the Coetzenburg Centre
Image by: Henk Oets

Dr Allison Matroos by die gradeplegtigheid.

Toekennings en mylpale Institusionele nuus

Dr Allison Matroos is Atlantis se trots

Alec Basson
24 Maart 2026
  • Verwerf doktorsgraad in Afrikaans en Nederlands.
  • Moes verskeie uitdagings oorkom op haar pad na sukses.
  • Wil help om gemeenskappe soos Atlantis ʼn stem te gee.

Die Weskus-dorp Atlantis word dikwels met armoede, werkloosheid, bendegeweld en dwelmmisbruik vereenselwig. Maar dit is ook ʼn plek van uitskieters. Van mense waarop die dorp trots kan wees. Een so 'n persoon is dr Dr Allison Matroos. 

Dié boorling van Atlantis het Maandag (23 Maart 2026) die kruin van akademiese sukses bereik toe sy haar doktorsgraad in Afrikaans en Nederlands by die Universiteit Stellenbosch (US) se Maart-gradeplegtigheid ontvang het. Wat Matroos se prestasie nog merkwaardiger maak, is dat sy haar doktorale studie in twee jaar kafgedraf het. Sy is tans ʼn nadoktorale genoot en tydelike dosent by die US se Departement Afrikaans en Nederlands.

As die eerste een in haar familie om aan ʼn universiteit te studeer, was dit nie vir Matroos maklik nie. Sy moes verskeie uitdagings oorkom op haar pad na sukses. Sy het by haar ouma grootgeword. Matroos sê hoewel haar kinderjare moeilik was, was sy vasbeslote om bo haar gebrekkige huislike omstandighede en finansiële uitdagings uit te styg. 

“Om in Atlantis groot te word beteken mens leer op ’n vroeë ouderdom van oorlewing, maar ook wat die woord ‘deursettingsvermoë’ werklik beteken. My reis was nie maklik nie. Ek het ’n kronkelpad gestap van val en weer opstaan in ’n omgewing waar mens se drome dikwels deur geweld oorskadu word en buite jou bereik voel.”

Matroos sê soms het twyfel haar op hierdie kronkelpad vergesel. Soms het sy daaraan gedink om die handdoek in te gooi. 

“As ek R1 betaal kon word vir al die tye wat ek aan opgee gedink het, sou ek vandag ’n miljoenêr gewees het. Die wete dat my ma en ouma vir my bid en dat niemand my gaan kom red nie, dat ek verantwoordelik is vir my eie toekoms, het my aan die gang gehou.” 

Matroos is baie ingenome met haar PhD en sê dit is ’n bewys dat harde werk werklik beloon word. “Dit gaan nie oor die slimste wees nie, maar oor om die tyd in te sit en op te daag – selfs in die tye wat jy voel om weg te hardloop.”

Sy dra haar PhD aan haar lewensmaat, McKenzie, op. “Sy het onwrikbaar in my geglo en haar ondersteuning het gemaak dat ek dit in twee jaar, in stede van drie jaar, voltooi.” 

Matroos is ook dankbaar vir die ondersteuning en inspirasie van haar oorlede broer. “Ek wil hê hy moet trots wees op my vanuit die hemel.”

Matroos het vir haar PhD die rol van letterkunde, spesifiek kortverhale en gedigte, om die vier makrovaardighede (lees, praat, luister en skryf) van tweedetaalstudente te bevorder, ondersoek. Sy het lesse ontwerp waar studente nie net reëls leer nie, maar deur stories en gedigte aktief met die taal “speel” om sodoende hulle vaardighede en selfvertroue te bou.

“My fassinasie met die Afrikaanse taal en -letterkunde lê in die affektiewe krag van die taal, met ander woorde hoe ’n lae affektiewe filter, soos die Amerikaanse taalkundige Stephen Krashen dit stel, noodsaaklik is vir die suksesvolle aanleer van ʼn taal. Letterkunde bied daardie ‘veilige ruimte’. Dit fassineer my hoe ’n enkele gedig of kortverhaal ’n student se angs kan verlaag en ’n passie vir ’n taal kan ontsluit wat voorheen dalk as ‘moeilik’ of ‘vreemd’ ervaar is.”

Matroos is nie net ʼn belowende opkomende navorser nie; sy is ook 'n kortverhaalskrywer van formaat. Sy het reeds in graad 9 begin skryf en op 21-jarige ouderdom haar eerste digbundel en kortverhale, getiteld Kaleidoskoop, laat verskyn.

“Die dryfveer vir die eerste gedig wat ek geskryf het, is my broertjie se dood. Skryf help my om my gevoelens te verstaan. Ek ondersoek onder meer temas soos liefde, die mensdom/-wees, sosiale kwessies.”

Matroos sê storievertelling is vir haar 'n manier om die ervarings van gemeenskappe soos Atlantis te weerspieël.

“My navorsing beklemtoon dat die keuse van kultureel toepaslike tekste studente se betrokkenheid en motivering dramaties verhoog. Deur stories te vertel wat die realiteit van ons gemeenskappe weerspieël, gee ons erkenning aan ons eie bestaan. Dit herposisioneer ons ervarings as iets wat waardevol genoeg is om te bestudeer en oor te skryf. Dit is belangrik om veral bruin mense se ervaringe vas te vang, sodat hulle stem gehoor kan word.”

Sy hoop haar reis stuur aan jongmense wat in gemeenskappe soos Atlantis grootword, die boodskap dat hulle nie moet toelaat dat hulle omstandighede die pen uit hulle hand steel nie. 

“Neem beheer oor jou lewe en skryf jou eie storie. Vra vir hulp as jy hulp makeer. Om skaam te wees gaan jou niks in die sak bring nie.”

Wanneer Matroos nie navorsing doen of klas gee nie, skets en verf sy graag, kyk die gewilde Amerikaanse mediese drama Grey’s Anatomy en gaan op staptogte.

Noudat sy haar doktorsgraad verwerf het, sê Matroos sy wil haar model vir die gebruik van kortverhale en gedigte verder uitbou, moontlik vir onderwysopleiding of kurrikulumontwikkeling om die leemte in Afrikaansonderrig nasionaal aan te spreek. 

Sy gaan ook akademies én kreatief aanhou skryf om te verseker dat die stemme uit Atlantis en soortgelyke plekke nooit weer stil word in die klaskamer nie. Matroos is tans besig om artikels oor haar navorsing te skryf. 

Verwante stories