Tonne vrugte en groente gaan verlore, deels weens na-oes verliese
Doktorale studie beklemtoon na-oes voedselafvalkrisis en oplossings in SA
- Tussen 9 124 en 17 969 ton vrugte en groente jaarliks op groothandelsvlak vermors.
- Onderbreking in koue ketting 'n beduidende uitdaging in die mark.
- Koue berging, vervoer en hantering van produkte moet verbeter.
Verslae dui daarop dat meer as 63% van Suid-Afrikaanse huishoudings verskillende vlakke van voedselonsekerheid ervaar. Tog gaan tussen 9 124 en 17 969 ton vrugte en groente, wat aan sowat 450 tot 900 vol gelaaide groot vragmotors gelykstaande is, elke jaar op groothandelsvlak verlore — deels weens na-oes verliese. Verbeterde na-oes praktyke, infrastruktuur en beleide is die sleutel tot die vermindering van hierdie vermorsing en die verbetering van voedselbeskikbaarheid en voedselsekerheid.
Dit is volgens voedselstelselnavorser dr Ikechukwu Opara wat onlangs sy doktorsgraad in voedselwetenskap aan die Universiteit Stellenbosch verwerf het.
Opara het as deel van sy studie voedselafval by die grootste varsproduktemark in Suid-Afrika gemeet, finansiële verliese geïdentifiseer en masjienleermodelle gebruik om afval te voorspel. Opara sê hy het op die latere stadiums van die voedselwaardeketting gefokus omdat dit dikwels oor die hoof gesien word, wat tot 'n inligtingsgaping op hierdie gebied lei.
“Die gebrek aan omvattende data oor na-oes afval, veral op kritieke punte soos groothandelmarkte, maak dit moeilik om afvalbrandpunte akkuraat te identifiseer en belemmer die ontwikkeling van gespesialiseerde intervensies om vermorsing in spesifieke stadiums van die voedselvoorsieningsketting te verminder.”
Hy het die operasionele prosesse by die varsproduktemark gemonitor en geëvalueer en laboratoriumsimulasies van groothandelbergingstoestande uitgevoer, die fisiologiese eienskappe en raklewe gemeet en gehaltekwessies van vars produkte voordat dit op die mark weggegooi word, geïdentifiseer.
Volgens Opara is die kwessie van voedselvermorsing op groothandelsvlak ingewikkeld en sluit dit verskeie faktore in, insluitende infrastruktuur- en operasionele uitdagings. Hy sê sy studie het 'n onderbreking in die koue ketting as 'n beduidende uitdaging in die mark geïdentifiseer.
“Dit is dikwels weens operasionele uitdagings wat vertragings tussen die ontvangs van produkte en die plasing daarvan in optimale bergingstoestande veroorsaak. Boonop dra die lae beskikbaarheid van koue bergingsinfrastruktuur, veral gedurende die somer, by tot na-oes vermorsing.
“Koue bergingseenhede en bedrywighede moet verbeter word, veral gedurende die somer, om doeltreffend voorsiening vir die volume produkte te maak wat in daardie tydperk aan die mark gelewer word. Dit is belangrik aangesien die meeste produkte in die somer aan die mark voorsien word, en die vatbaarheid vir vermorsing dan hoog is weens hoër temperature.”
Opara voeg by dat vervoersomstandighede, beide na en binne die mark, ook tot vermorsing gelei het.
“Wanneer vrugte en groente in onverkoelde voertuie vervoer word, word hulle aan ongunstige toestande soos onvanpaste temperatuur en relatiewe humiditeitsvlakke blootgestel, wat prosesse soos respirasie en verdamping versnel. Dit kan tot gewigsverlies en verrimpeling lei. Hierdie probleme verminder die fisiese aantreklikheid van die produkte, wat tot afgradering en in uiterste gevalle tot na-oes vermorsing kan lei.”
Volgens Opara kan masjienleer help om voedselvermorsing in praktiese, alledaagse bedrywighede by varsproduktemarkte te verminder. Hy verduidelik:
“Temperatuurbeheerstelsels kan met masjienleer-instrumente verbeter word wat toestande outomaties monitor en toesighouers en mense wat by die mark werk, waarsku wanneer temperatuur- en humiditeitsvlakke van die gestelde reeks afwyk.
“Verder kan masjienleer ook gebruik word om vraag te voorspel en die proses van bestelling, berging, gebruik en verkoop van produkte te optimaliseer, veral in situasies waar dit ondoeltreffend was en tot voedselvermorsing bygedra het.
“Masjienleer kan ook dinamiese prysmodelle ondersteun. In hierdie scenario hou die stelsel outomaties die voorsieningsdatum en raklewe van vars produkte dop, en gebruik dit daardie data om pryse aan te beveel wat vinniger verkope aanmoedig, wat sodoende help om potensiële na-oes verliese en vermorsing te minimaliseer.”
Opara sê dit is noodsaaklik om na-oes verliese en vermorsing te verminder om voedselonsekerheid, wanvoeding, vetsug, diabetes en ander verwante gesondheidstoestande te bekamp.
'n Groot ekonomiese nagevolg van na-oes verliese en vermorsing is die verhoogde koste van voedsel, voeg Opara by.
“Die verminderde beskikbaarheid van vrugte en groente weens hierdie na-oes verliese en vermorsing lei tot hoër pryse. Wanneer lae-inkomste huishoudings hierdie verhoogde pryse vir vrugte en groente moet betaal, het hulle minder geld oor vir ander goedere en dienste.
“Hierdie situasie vererger armoede en vang huishoudings in siklusse van skuld en afhanklikheid van die regering vir maatskaplike toelaes vas. Dit vergroot verder die gaping tussen ryk en arm in een van die ongelykste lande in die wêreld. Met hierdie sleutelpunte in ag genome, verbeter die aanspreek en vermindering van na-oes verliese en vermorsing nie net voedselsekerheid nie, maar verlig dit ook negatiewe ekonomiese impakte.”
Opara sê hy hoop sy navorsingstudie sal as grondslag dien vir die vermindering van na-oes verliese en vermorsing deur masjienleer te gebruik om insigte te skep wat bewysgebaseerde intervensies en strategieë rig wat daarop gemik is om die negatiewe gevolge van hierdie kwessie te verminder.