Prof. Tulio de Oliveira, Direkteur van CERI; Brandon Paschal, Adjunkdirekteur vir Spin-out Maatskappye en Fondse by SU LaunchLab; Dominique Rocher, medestigter van Urobo Biotech; Dr. Richard Gordon, Direkteur van Spesiale Programme by die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad en Maambele Khosa, Hoof van Kommunikasie en Bemarking by CERI.
Biotegnologie-afwentelmaatskappy van die US wen by SWEAT Afrika 2026
- Urobo Biotech het die eerste prys van R100 000 by die hoëprofiel tweedaagse geleentheid ingepalm.
- Die geleentheid het meer as 100 innoveerders en 50 beleggers bymekaargebring om baanbrekertegnologieë te verken.
- Nog twee afwentelmaatskappye van die US, ReSurfify en Nanosene, het ook hulle innovasies ten toon gestel, wat die Universiteit se groeiende voetspoor in Afrika se beginonderneminglandskap beklemtoon.
'n Biotegnologie-afwentelmaatskappy van die Universiteit Stellenbosch (US) het teen van die beste beginondernemings in Afrika meegeding om die topprys by die 2026 SWEAT Afrika aanbiedingskompetisie te verower.
Urobo Biotech het die eerste prys van R100 000 by die hoëprofiel tweedaagse geleentheid ingepalm wat vandeesmaand by die Bertha Retreat op Stellenbosch gehou is. Die geleentheid het meer as 100 innoveerders en 50 beleggers bymekaargebring om baanbrekertegnologieë te verken. Nog twee afwentelmaatskappye van die US, ReSurfify en Nanosene, het ook hulle innovasies ten toon gestel, wat die Universiteit se groeiende voetspoor in Afrika se beginonderneminglandskap beklemtoon.
Urobo Biotech se medestigter, Dominique Rocher, het gesê hulle oorwinning in SWEAT Afrika bied aan die maatskappy groter sigbaarheid en uiters belangrike hulpbronne in 'n deurslaggewende stadium. "Die prys stel ons in staat om huidige loodsprojekte in kommersiële verkope om te skakel deur plaaslike tegniese kapasiteit uit te brei en Suid-Afrika se groeiende biotegnologie-ekostelsel te versterk. Dit bespoedig ons vermoë om ons tegnologie – wat ensieme gebruik om bioplastiekafval in herbruikbare chemikalieë om te skakel – in werking te stel, wat koste en die uitwerking op die omgewing vir afvaloperateurs verminder."
Volgens Rocher was die US, LaunchLab en die Innovus Tegnologie-oordragkantoor (TTO) instrumenteel in die verskaffing van mentorskap, laboratoriumtoegang en sakeleiding.
"Hulle ekostelsel het ons in staat gestel om ons sakestrategie te verfyn, ons tegnologie te valideer en met beleggers te skakel, wat ons die selfvertroue en voorbereiding gegee het wat nodig was om mee te ding en te wen op 'n platform soos SWEAT Afrika. Dit is ook danksy hulle pogings om die biotegnologie- en hardetegnologie (gevorderde vervaardigingstoestelle) SWEAT Afrika Aanbiedings-kompetisie te skep en aan te bied dat ons op 'n verhoog voor beleggers en ander belangrike ekostelselspelers kon meeding," het sy gesê.
SWEAT Afrika is 'n inisiatief wat die energie, kreatiwiteit en samewerkende gees weerspieël wat nodig is om Afrika se innovasie-ekostelsel te laat groei, en wat waagkapitaliste, stigters, navorsers en ekostelselbouers bymekaarbring om die toekoms van entrepreneurskap in Afrika te vorm.
"Die idee agter SWEAT was eenvoudig; om 'n ruimte te skep waar stigters, beleggers, wetenskaplikes en studente werklike gesprekke kan hê – nie net aanbiedings nie, maar eerlike besprekings oor bou, mislukking, skaal en samewerking regoor Afrika," het prof Tulio de Oliveira, Direkteur van die Sentrum vir Epidemiese Reaksie en Innovasie (SERI) en medestigter en gasheer van SWEAT Afrika, gesê.
Die geleentheid strook met die US se Visie 2040 se strategiese fokus op doelgerigte vennootskappe en inklusiewe netwerke. Met die SERI as hooforganiseerder, het die US in samewerking met LaunchLab, die Stellenbosse Netwerk en ander universiteite en ekostelselbouers die geleentheid aangebied met die doel om samewerking te versterk wat verder as kampusgrense strek. Op hierdie manier koester SWEAT Afrika verhoudings wat kennisuitruiling, entrepreneurskap en innovasie bevorder wat tot sosiale impak bydra.
"Innovasie gebeur nie in isolasie nie. Dit vereis sterk ekostelsels – ruimtes waar navorsers, entrepreneurs, beleggers, bedryfsvennote en studente saamkom om oplossings te skep wat relevant, volhoubaar en skaalbaar is," het prof Deresh Ramjugernath, die US se Rektor en Visekanselier, gesê.
"Universiteite het 'n besonder belangrike rol om te speel. Ons glo by die US in innovasiegedrewe entrepreneurskap en in die bou van vennootskappe wat verder as institusionele grense strek. SWEAT Afrika verteenwoordig presies hierdie soort samewerkende platform, een wat talent, idees en geleenthede regoor Afrika verbind."
Paneelbesprekings by die geleentheid het ondersoek hoe belegging in hoëronderwysinstellings en hulle afwentelmaatskappye die omsetting van navorsing na beleggingsondernemings kan versnel. Die US se afwentelmaatskappy ReSurfify het die Top 10 van die SWEAT Afrika biotegnologie- en hardetegnologie-aanbiedingskompetisie gehaal, terwyl Nanosene een van die dieptegnologiemaatskappye was wat baanbrekende tegnologieë by 'n sessie van die BRAIN (Bridging Research and Innovation) Accelerator aangebied het. Nog 'n hoogtepunt van die program was die SWEAT Billikheidsprogram wat jong innoveerders aan entrepreneurskap en ekostelselbou bekendgestel het.
"Benewens die skep van kennis, moet ons aktief help om navorsing in werklike impak te omskep, entrepreneurskap ondersteun, samewerking moontlik maak en verseker dat innovasie betekenisvol tot die samelewing en die ekonomie bydra. Ons is trots om hierdie inisiatief te ondersteun en saam met vennote te werk om 'n verbintenis tot die versterking van Afrika se innovasietoekoms te deel," het Ramjugernath gesê.