Skip to main content
A picture of the Rooi Plein on the Stellenbosch Campus
Image by: Stefan Els
Menings en artikels

By administrasie verby: tyd om NSFAS soos ons dit ken te herstruktureer

Nicola Smit
17 Junie 2026
  • Die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente (NSFAS) het steeds probleme.
  • NSFAS het ’n volledige herstrukturering nodig.
  • Die toekoms van hoëronderwysfinansiering en universiteite se volhoubaarheid is op die spel.

Die tyd het aangebreek om die sukkelende Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente (NSFAS), wat nou al vir die derde keer sedert 2018 onder administrasie geplaas is, volledig te herstruktueer om toegang tot hoër onderwys te verbreed en te onderhou en die volhoubaarheid van universiteite in Suid-Afrika te verseker. Só skryf Prof Nicola Smit, Dekaan van die Fakulteit Regsgeleerdheid en ook waarnemende Uitvoerende Bedryfshoof en waarnemende Hoof- Finansiële Beampte, in ʼn meningsartikel vir Sunday World.

  • Lees die vertaalde weergawe van die artikel hier onder of klik hier vir die stuk soos geplaas.

 

Prof Nicola Smit

In ’n beleidsomsendbrief wat onlangs aan universiteite gestuur is, is daar ’n verskuilde erkenning dat Suid-Afrika se studentefinansieringsmodel dalk nie meer in sy huidige vorm finansieel volhoubaar is nie.

Die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente (NSFAS), wat nou al vir die derde keer sedert 2018 onder administrasie geplaas is, het nie nog ’n tydelike administrateur nodig nie. 

Dit het ’n volledige herstrukturering nodig. 

Die rede hiervoor lê nie net in die bestuursmislukkings of bedryfstekortkominge daarvan nie, maar in ’n beleidsverskuiwing wat fundamentele vrae laat ontstaan oor die volhoubaarheid van die huidige finansieringsmodel.

Die jongste Beleidstandaard-dokument wat NSFAS-kriteria en -voorwaardes vir finansiële hulp uiteensit wat deur Buti Manamela, die minister van hoër onderwys en opleiding, onderteken is en eers in Mei gefinaliseer en versprei is, stel ’n nuwe beginsel bekend: finansiering is “onderhewig aan die beskikbare begroting”.

Die wysigings is van toepassing op alle studente wat deur NSFAS gefinansier word, ongeag of hulle terugkeer, hulle studie voortsit of die eerste keer registreer.

Studente wat aanhou voldoen aan die akademiese en finansiële kriteria wat in hierdie beleid voorgeskryf word, is daarom geensins verseker van finansiering om hulle studie te voltooi nie, aangesien voortgesette finansiering uitdruklik onderworpe gemaak word aan die beskikbaarheid van geld.

Hoewel die eksplisiete uiteensetting van die voorwaardes vir finansiële hulp aan NSFAS ietwat van 'n vangnet bied indien die fonds tekorte ervaar – wat die geskiedenis wys reeds herhaaldelik gebeur het – bied dit min troos vir kwalifiserende studente; hulle kan nie studeer met die gemoedsrus dat hulle ondersteun sal word om hulle studie te voltooi as hulle bloot aanhou om hulle deel te doen nie.

Die visie agter die uitbreiding van studentefinansiering was noodsaaklik én moreel dwingend. NSFAS is veronderstel om, soos Manamela onlangs opgemerk het, “een van die belangrikste openbare instellings in ons demokratiese projek” te wees.

Tog laat hierdie jongste beleidsdokument fundamentele vrae ontstaan oor die langtermynvolhoubaarheid van die huidige finansieringsmodel.

Sistemiese swakhede

Die vinnige oorgang van ’n leningsgebaseerde model na ’n ten volle gefinansierde beursskema was miskien polities gerieflik, maar dit is nooit geëwenaar deur die beleidsekerheid, administratiewe vermoë of langtermyn- finansiële beplanning en toewyding wat nodig is om dit in stand te hou nie.

Verskeie aspekte van die skema het nie daarin geslaag om saam met Suid-Afrika se ekonomiese werklikhede te ontwikkel nie. Om die huishoudelike inkomstedrempel vir beursfinansiering byvoorbeeld op R350 000 te beperk ondanks inflasiedruk, ondermyn toenemend die geloofwaardigheid en regverdigheid van die hele model.

Hierdie sistemiese swakhede beteken vir universiteite toenemende finansiële blootstelling.

By die Universiteit Stellenbosch (US) het die bedryfsinkomste gedaal van ’n surplus van R304 miljoen in 2015 tot ’n tekort van R39 miljoen in 2024, grootliks gedryf deur uitstaande NSFAS-verwante skuld. Teen die einde van Desember 2025 het die US se bruto uitstaande studenteskuld op ’n kommerwekkende R1,12 miljard gestaan – ’n styging van 60% sedert 2024 wat direk skakel met die kumulatiewe uitstaande betalings van NSFAS aan die US. Selfs met die uitsluiting van NSFAS was daar ’n toename van 23% in uitstaande studentegelde van 2024 tot 2025, wat beklemtoon dat uitstaande studenteskuld ’n aansienlike finansiële risiko vir universiteite inhou.

Hierdie druk is nie uniek aan die US nie. Regdeur die sektor absorbeer instellings toenemend die finansiële en administratiewe gevolge van NSFAS-onstabiliteit wat deur ’n studentefinansieringsmodel vererger word wat al hoe meer onvolhoubaar blyk te wees.

Administratiewe vertragings

Administratiewe vertragings vererger die krisis. Teen Maart 2026 het die US slegs 17% van die geld wat van NSFAS geëis is (uitsluitend studentetoelaes), vir die huidige akademiese jaar ontvang. Dit volg op die lae betalingskoers vir 2025, waar NSFAS nog R296 miljoen wat aan die US verskuldig is, moet uitbetaal. Hoewel die skema hierdie vertragings aan kontantvloeibestuur en die prioritisering van direkte studentetoelaes toeskryf, is die praktiese gevolg dat universiteite gedwing word om finansiering voor te skiet voordat hulle terugbetaal word.

Die toename in NSFAS-verwante skuld het ’n primêre drywer van US se kontantvloei-uitdagings geword en vertragings in betalings het operasionele likiditeit beduidend verminder. Hierdie finansiële druk word deur histories stadige en disfunksionele appèl- en migrasieprosesse vererger, waar portaalfoute en geslote aansoekvensters verhoed dat afgekeurde studente hul status opklaar. Universiteite gaan voort om hulle tydens voortslepende appèlle te finansier en absorbeer sodoende ’n enorme finansiële risiko.

Nog ’n nuwe maatreël is die verbod op aanvullende betalings (top-ups), wat vanjaar tot tekorte sal lei. As voorbeeld het instellings gewoonlik registrasiedata bygewerk wanneer ’n student se studiekoste verander het, soos wanneer hulle van die huis of private verblyf na ’n universiteitskoshuis getrek het, of andersom. Histories het hierdie veranderinge aanpassings aan finansieringstoewysings vereis om die student se werklike studiekoste akkuraat te weerspieël, maar dit sal nou nie meer moontlik wees nie. Om hierdie beperking vier maande ná die begin van die akademiese jaar in te stel, is problematies.

Die vertraging in die publikasie van die 2026-Beleidstandaard beïnvloed instellings én studente (dieselfde geld vir die aanwysing van ’n gebied as metropolitaans of nie, ten einde die toepaslike tarief vir verblyftoelaes te bepaal).

Menslike koste

Terwyl hierdie balansstaat-syfers verstommend is, is die menslike tol selfs meer kommerwekkend. Studente wat hulle grade voltooi terwyl hulle met skuld belas is, vind dikwels hulle akademiese sertifikate word weerhou, wat hulle indiensneembaarheid in gevaar stel.

Met Suid-Afrika se jeugwerkloosheidkoers wat op 45,8% staan, en gegradueerde werkloosheid wat volgens Statistiek Suid-Afrika skerp styg, verander die weerhouding van grade wat veronderstel is om ’n ekonomiese lanseerplatform te wees, in ’n selfversterkende siklus van armoede en uitsluiting.

Hoewel die US teen die einde van 2025 die graadsertifikate van 1 429 gegradueerdes weens uitstaande skuld moes terughou, het die Universiteit akademiese rekords en bewyse van kwalifikasies aan voornemende werkgewers verskaf om skuldgeteisterde gegradueerdes te help om werk te kry.

Daarbenewens het die US inisiatiewe soos die Werksgroep vir Studenteskuld en ’n vennootskap met Standard Bank ingestel, waar die universiteit borg staan vir lenings om te verseker dat finalejaarstudente nie weens finansiële redes gekeer word om te registreer of te gradueer nie.

Ons bly een van die min instellings wat aggressief probeer om uitstaande geld wat deur NSFAS verskuldig is, uit die Closeout Project (2017–2022) te verhaal wat ontwerp is om historiese studentevlak-transaksies te rekonsilieer. Deur ons Afdeling Ontwikkeling en Alumni-betrekkinge mobiliseer ons ook steeds skenkerfinansiering en alternatiewe finansiële weë om studente te help. 

Terwyl NSFAS sukkel om homself te stabiliseer, het ’n parallelle krisis verdiep vir die sogenaamde ‘verlore middel’ wie se huishoudelike inkomste die drempel van R350 000 oorskry, maar wat nie in staat is om die volle koste van hoër onderwys te dek nie. Tans kan ongeveer die helfte van die US se toenemende studenteskuld direk aan NSFAS-vertragings gekoppel word, terwyl die res deur selfgefinansierde studente verskuldig is wat sukkel om hulle finansiële verpligtinge na te kom. 

Silwer randjie

As daar enige silwer randjie is aan die feit dat NSFAS alweer onder administrasie geplaas is, is dit dat dit besluitnemers terugdwing na die onderhandelingstafel.

NSFAS ken geld toe vir lenings en beurse aan kwalifiserende studente. Die kriteria en voorwaardes vir die toekenning hiervan word in oorleg met die minister van hoër onderwys en opleiding bepaal. NSFAS kan nie hierdie kwessie onafhanklik oplos nie, selfs al sou hy kon. Die politieke belanghebbendes wat verantwoordelik is vir finansieringsbeleid, asook die sake- en organisatoriese model van volhoubare en inklusiewe studentefinansiering in Suid-Afrika, móét betrek word.

Dit is die ideale oomblik vir uiteenlopende politieke stemme in die Regering van Nasionale Eenheid om gesamentlik die dringendheid van praktiese, volhoubare hervorming te erken as ons hoop om toegang tot hoër onderwys te verbreed en te onderhou.

Ons moet openlik alternatiewe bestuurs- en finansiële raamwerke oorweeg, insluitende inkomste-afhanklike lenings en direkte institusionele finansiering wat die betrokkenheid van tussengangers beperk.

Manamela het Vrydag 29 Mei in die portefeuljekomitee-voorlegging NSFAS as institusioneel broos beskryf weens gefragmenteerde prosesse wat met die hand gedoen word, hoë vakaturekoerse, swak stelselintegrasie en ander bestuursmislukkings. Die administrateur het nou drie maande om ’n aanvanklike stabiliseringsplan in te dien.

Soos die voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee, Tebogo Letsie, later in ’n mediaverklaring opgemerk het waarin daar vir die verbeterde rekonsiliasie van rekords tussen NSFAS en universiteite gevra is, hou studenteskuld – wat nou op R59 miljard staan – aan om te styg.

’n Finansieringstelsel waarin kwalifiserende studente nie verseker kan word van ondersteuning verder as ’n enkele akademiese jaar nie, is nie bloot administratief gebroke nie; dit is ’n teken van ’n finansieringsmodel wat dringend herontwerp moet word.

Daar is geen tyd om te mors nie.

As ons nie die toekoms van hoëronderwysfinansiering kan verseker nie, ondermyn ons nie net ons universiteite se volhoubaarheid nie, maar ook die land se breër ekonomiese en maatskaplike toekoms.

  • Prof Nicola Smit, Dekaan van die Fakulteit Regsgeleerdheid en professor in die regte aan die Universiteit Stellenbosch, tree tans ook op as die Universiteit se waarnemende Uitvoerende Bedryfshoof en waarnemende Hoof- Finansiële Beampte.

 

Verwante stories