Skip to main content
USE celebrates the CEOs behind the 35 spinout successes

USE vereer die hoof- uitvoerende beamptes agter die 35 afwentelsuksesse

Stellenbosch University
19 Februarie 2026
  • Universiteit Stellenbosch Enterprises (USE) het die hoof- uitvoerende beamptes (HUB's) van sy 35 afwentelmaatskappye by ’n jaarlikse HUB-geleentheid vereer vir hul suksesse, aanpasbaarheid en veerkragtigheid. Die geleentheid, aangebied deur USE en met trots geborg deur Von Seidels, het die prestasies van USE se portefeulje van maatskappye uitgelig wat, in net die eerste kwartaal van die jaar, reeds R8 miljoen in winste oorskry het. Dit oortref die totale winste van verlede jaar.

Universiteit Stellenbosch Enterprises (USE) het die hoof- uitvoerende beamptes (HUB's) van sy 35 afwentelmaatskappye by ’n jaarlikse HUB-geleentheid vereer vir hul suksesse, aanpasbaarheid en veerkragtigheid. Die geleentheid, aangebied deur USE en met trots geborg deur Von Seidels, het die prestasies van USE se portefeulje van maatskappye uitgelig wat, in net die eerste kwartaal van die jaar, reeds R8 miljoen in winste oorskry het. Dit oortref die totale winste van verlede jaar.

Die aand het ook uitstaande prestasies regoor die afwentel-portefeulje erken, met ses gesogte toekennings wat aan uitsonderlike HUB’s toegeken is. Hulle was:

Die Voorsitterstoekenning – Nanosene (Géstel Kuyler)

Nanosene (Edms) Bpk, onder leiding van Géstel Kuyler, het die Voorsitterstoekenning ontvang, wat die span se hoogste prestasiestandaarde erken in die bevordering van die maatskappy se doelwitte oor die afgelope jaar. Nanosene is Afrika se eerste pasgemaakte polimeerverskaffer wat fokus op die ontwikkeling en vervaardiging van amfifiliese polimere om molekulêre geneesmiddelteikens te isoleer. Hierdie deurbraaktegnologie kan ’n omwenteling in geneeskunde meebring deur navorsers en geneesmiddel-ontwikkelaars te bemagtig om nuwe maniere te verken om verskeie siektes te behandel.

Die Hoofbedryfsbeampte-toekenning – CubeSpace (Mike-Alec Kearney)

Mike-Alec Kearney, die hoof- uitvoerende beampte van CubeSpace, het hierdie vooraanstaande toekenning ontvang. Die maatskappy is persoonlik deur die Universiteit Stellenbosch se hoofbedryfsbeampte, prof Stan du Plessis, aangewys as wenner. Die toekenning gee erkenning aan die afwentelmaatskappy se geweldige groei, tesame met uitstekende finansiële prestasie oor die afgelope jaar. CubeSpace (CS) word wêreldwyd erken as leier in oriëntasiebepaling‑en‑beheerstelsel bondels en bedien meer as 250 kliënte in meer as 30 lande.

Die Toekenning vir Volhoubaarheid en Impak (omgewingsvriendelike inisiatiewe) – SharkSafe Barrier (Sara Andreotti)

Sharksafe Barrier, verteenwoordig deur Sara Andreotti (hul hoofbedryfsbeampte), het hierdie toekenning ontvang vir uitmuntende toewyding aan ’n omgewingsvriendelike inisiatief met ’n betekenisvolle en meetbare impak. Die omgewingsvriendelike SharkSafe Barrier™ boots die visuele effek van ’n kelpwoud (groot seewiere) na en genereer ’n sterk magnetiese veld deur keramiekmagnete; dit vorm ’n dubbele versperring (visueel en magneties) wat verhoed dat haaie daardeur swem.

Die Toekenning vir Operasionele en Bestuursuitnemendheid – Unistel Mediese Laboratoriums (Leonora Theart)

Hierdie gesogte toekenning is aan Unistel Medical Laboratories toegeken en deur hul hoof- uitvoerende beampte, Leonora Theart, ontvang vir hul uitsonderlike prestasie in die vestiging en handhawing van voortreflike operasionele raamwerke en bestuurspraktyke. Die toekenning vereer die maatskappy se uitnemende sakebedrywighede, strategiese bestuur en korporatiewe toesig. Unistel Medical Laboratories (Edms) Bpk (UML) is in 1999 gestig en is ’n menslike en dierlike genetika-toetssentrum.

Die Pivot-toekenning – Spesiale toekenning (vir aanpassing by verandering) – Stellenbosch Nanofiber Company (Eugene Smit)

Hierdie unieke toekenning het Stellenbosch Nanofiber Company vereer vir hul buitengewone aanpasbaarheid en veerkragtigheid te midde van verandering. Dit erken die suksesvolle transformasie van hul sakemodel, strategie en bedrywighede in reaksie op ontwikkelende marktoestande, tegnologiese ontwrigting en onvoorsiene uitdagings. Stellenbosch Nanofiber Company, onder leiding van dr Eugene Smit, is in 2011 gestig. Die maatskappy ontwikkel produkte aan die voorfront van nanowetenskap en -tegnologie. Hierdie tegnologieë sluit twee prosesse in vir die hoë-deurset elektrospin van polimeriese nanovesels, en ’n proses vir die maak van onafgebroke nanoveseldrade. Die nanoveselmateriale wat met behulp van hierdie prosesse vervaardig word, het uiteenlopende toepassingsvelde, insluitend hoë werkverrigting-filtrasie van vloeistowwe en gasse, biomediese materiale (insluitend wondbedekkings, materiale vir die lewering van geneesmiddels en stellasies vir selkultuur en weefselingenieurswese), energie (insluitend elektrodes met ’n hoë oppervlakarea vir volgende-generasie batterye en brandstofselle, batteryskeidingsmembrane en superkapasitors) en liggewig saamgestelde materiale (bv. vir motor- en lugruimtoepassings).

Die Deep Tech-toekenning – SUN Magnetics (Coenrad Fourie)

SUN Magnetics het die Deep Tech-toekenning ontvang, wat erkenning gee aan sy deurbraak-innoverings verteenwoordigend van wêreldklas tegnologiese vooruitgang. Hierdie toekenning erken organisasies wat indrukwekkende, baanbreker-tegnologieë, gebaseer op diepgaande wetenskaplike ontdekkings en ingenieursuitnemendheid, ontwikkel. Met Coenrad Fourie aan die stuur ontwikkel die maatskappy sagteware vir driedimensionele parameteronttrekking, simulasie en analise van supergeleier-geïntegreerde stroombane en kwantumelektronika-uitlegte.

Warm huldeblyk

In ’n bittersoet oomblik het Anita Nel, Hoofdirekteur van die Afdeling vir Innovasie en Kommersialisering, ’n hartlike huldeblyk gebring aan prof Stan du Plessis wat sy ampstermyn as die US se Hoofbedryfsbeampte aan die einde van Mei 2025 sal afsluit.

Prof Du Plessis se reis by die US strek oor drie dekades, beginnende in 1991 as ’n BCom-wiskundestudent. Jare daarna het hy na die US teruggekeer as professor in ekonomie. Later is hy aangestel as die dekaan van die US Fakulteit Ekonomie en Bestuurswetenskappe, waar hy ’n belangrike rol gespeel het in die intensivering van die fakulteit se navorsingspogings en internasionale mededingendheid. Prof Du Plessis was nie net die eerste dekaan wat die US se sake-inkubator, die LaunchLab, aktief ondersteun het nie, maar hy het ook later die voorsitter van die raad geword en was instrumenteel in die formele integrasie van die LaunchLab in die universiteitstruktuur. Hy sal tot die einde van sy ampstermyn dien op die raad van USE, wat toesig hou oor die US se maatskappygroep. Nel het gesê sy sal sy wysheid, leiding en kundigheid mis.

In sy laaste toespraak aan die HUB’s van die afwentel-maatskappye het Du Plessis gewaarsku teen die toenemende bedreiging van Kunsmatige Intelligensie (KI) wat diepgaande vervalsings genereer, met verwysing na ’n nagemaakte boodskap aan ’n Ferrari-bestuurder en ’n gemanipuleerde video van Rory McIlroy, wat die Masters-toernooi op Sondag 13 April 2025 gewen het.

“’n ‘Deepfake’ is ’n hoogs realistiese video, beeld, teks of stem wat volledig of gedeeltelik gegenereer is met behulp van KI-algoritmes, masjienleertegnieke en generatiewe teenstrydige netwerke, of GTN’e. GTN’e is ’n tipe KI-model waarin twee neurale netwerke, een wat inhoud genereer en die ander wat dit evalueer, saamwerk om hoogs realistiese video’s of klank te skep wat regte individue naboots. Een netwerk, genaamd die generator, skep die vals media terwyl die ander, genaamd die diskriminator, evalueer hoe eg of vals die gegenereerde inhoud lyk. Hierdie proses duur voort totdat die generator media produseer wat so realisties is dat die diskriminator nie meer kan onderskei of dit vals is nie,” het Du Plessis verduidelik.

Namate KI toenemend gesofistikeerd raak, moet hoof- uitvoerende beamptes meer bewus word van die tegnologiese bedreiging wat “deepfakes” inhou, maar ook van die sielkundige kwesbaarhede wat hulle effektief maak. Du Plessis het drie belangrike kognitiewe vooroordele uitgelig: vertrouensvooroordeel, bevestigingsvooroordeel en ons natuurlike afhanklikheid van sensoriese inligting – wat alles deur swendelaars uitgebuit word om selfs die mees ervare leiers te mislei.

“Ons kan nie meer ons oë en ore vertrou nie, maar ons kan ons kritiese denke vertrou,” het Du Plessis gesê en die wetenskapsfilosofie aangevoer as ’n leidende beginsel vir sakeleiers wat onsekerheid navigeer.

Al die visionêre persone wat by hierdie jaarlikse geleentheid vereer is, word ondersteun en ontwikkel deur die US se Afdeling vir Innovasie en Kommersialisering se LaunchLab, die Innovus Tegnologie-oordragkantoor en die USE-direksie. Saam dryf hulle die transformasie van baanbrekersnavorsing in maatskappye wat ’n betekenisvolle impak op ons samelewing het.

[EINDE]

Oor die Universiteit Stellenbosch (US) se Afdeling vir Innovasie en Kommersialisering (I&K)

Die Afdeling I&K het die uitsluitlike mandaat om die US se sakegeleenthede, insluitend die gebruik van sy fasiliteite, te bestuur en te kommersialiseer in oorleg met relevante fakulteite en PASS-omgewings. Die afdeling verseker nakoming van sleutelbeleide en regulasies, insluitend:

• Beleid oor die beskerming en kommersialisering van intellektuele eiendom van die US (PCIPP)
• Beleid met betrekking tot die aanbieding van kortkursusse aan die US
• Beleid met betrekking tot die gebruik en lisensiëring van die US se handelsmerke
• Korttermynverhuringsbeleid
• Innovus-regulasies vir die Interne Innoveringsfonds (R777)
• Regulasies vir kommersialisering aan die US
• Langtermynverhuringsbeleid
• Mobiliteitsplan
• Regulasies vir die aanspreek van intellektuele eiendomskending en verbreking van die US se PCIPP

Deur hierdie strategiese funksies speel die I&K-afdeling ’n deurslaggewende rol in die bevordering van innovering, die bevordering van entrepreneurskap en die versekering van die volhoubare kommersiële groei van die US.

Oor US LaunchLab

US LaunchLab funksioneer as ’n integrale deel van die I&K-afdeling en werk nou saam met die Innovus Tegnologie-oordragkantoor om sake-inkubasieondersteuning aan US-entrepreneurs te bied. US LaunchLab bied verskeie dienste, insluitend studente-entrepreneurskapsprogramme, die skep van nuwe maatskappye, ondersteuning vir portefeuljemaatskappye en fondsbestuur. Deur die ontwikkeling van pasgemaakte inisiatiewe soos entrepreneuriese denkwyse-werkswinkels, fakulteitspesifieke opleidingskampe, hackathons en inkubasieprogramme, help US LaunchLab om die volgende generasie entrepreneurs by die US te ontwikkel. Die departement bied ook administratiewe, bestuurs- en strategiese ondersteuning aan afwentelmaatskappye, wat hul langtermyn sukses binne die US-ekosisteem verseker.