Skip to main content
Gradlinc partners with EdTech startup FRED to encourage student entrepreneurship

Gradlinc werk saam met EdTech-loodsonderneming FRED om studente-entrepreneurskap te bevorder

Stellenbosch University
19 Februarie 2026
  • Gradlinc, ’n werwingsonderneming vir gegradueerdes wat deur die Universiteit Stellenbosch (US) gestig is, neem ’n proaktiewe standpunt in teen Suid-Afrika se verstommende werkloosheidsyfer van 31.9%, soos berig in ’n onlangse persverklaring van die regering.

Gradlinc, ’n werwingsonderneming vir gegradueerdes wat deur die Universiteit Stellenbosch (US) gestig is, neem ’n proaktiewe standpunt in teen Suid-Afrika se verstommende werkloosheidsyfer van 31.9%, soos berig in ’n onlangse persverklaring van die regering. Hierdie innoverende inisiatief help gegradueerdes nie net om werk te vind nie, maar berei hulle ook voor vir ’n dinamiese werkplek.

Gradlinc is ’n inisiatief van Factory209, 'n onderneming wat ontwikkel is deur Innovus, die US se Afdeling vir Innovasie en Kommersialisering. Factory209 staan ​​ook agter suksesvolle US-besighede soos die Matie Winkel, Maties Coffee Hub en die US Botaniese Tuinwinkel. Hierdie verbintenis beklemtoon Gradlinc se rol – nie net in die fasilitering van werksgeleenthede nie, maar ook in die bevordering van entrepreneuriese geleenthede.

Die graduandi-platform, wat nou spog met 15 290 aktiewe gebruikers, neem sy missie ’n stap verder deur kollaborasie met FRED, ’n EdTech-loodsonderneming wat spesialiseer in die vaardigheidsontwikkeling en opleiding van hoërskoolleerders en universiteitstudente sodat hulle oor die nodige vaardighede sal beskik om suksesvolle entrepreneurs te word.

Deur hierdie vennootskap kan Gradlinc-studente toegang verkry tot ’n KI-versterkte platform wat aan hulle ’n persoonlike KI-afrigter en -tutor bied wat help met die daarstelling en bereik van persoonlike doelwitte. Dit verskaf ook die nodige hulpbronne om studente se indiensneembaarheid, aanpasbaarheid en probleemoplossingsvermoëns te bevorder. FRED-studente sal baat vind by onbeperkte interaksie met hul KI-afrigter en -tutor, wat verseker dat hulle pasgemaakte ondersteuning ontvang om beide die entrepreneuriese en professionele omgewings te navigeer.

Hierdie samewerking het ten doel om Gradlinc-studente te help om toegang te verkry tot die hulpbronne wat hulle benodig vir groei, selfvertroue en loopbaangereedheid.

Om van hierdie geleentheid gebruik te maak, kan Gradlinc-studente op hul Gradlinc-profiel aanmeld en die Hulpbronne-oortjie verken. Studente wat nog nie ’n rekening het nie, kan hier gratis registreer.

Deur die gaping tussen onderwys en die ekonomie te oorbrug, bemagtig Gradlinc en FRED die volgende generasie om as werknemers of entrepreneurs (of beide) te slaag.

Verwysings
1. https://www.sanews.gov.za/south-africa/sas-unemployment-rate-declines-319