Die toekoms van geneesmiddelontdekking: Nanosene se BzAM-terpolimeerreeks verbeter globale gesondheidsoplossings
- Nanosene (Edms (Bpk)) is die eerste pasgemaakte polimeer-innoveerder en -verskaffer in Suid-Afrika wat toegewy is aan die ontwikkeling en vervaardiging van amfifiliese polimere om gespesialiseerde proteïene te bestudeer wat as molekulêre geneesmiddelteikens dien.
Nanosene (Edms (Bpk)) is die eerste pasgemaakte polimeer-innoveerder en -verskaffer in Suid-Afrika wat toegewy is aan die ontwikkeling en vervaardiging van amfifiliese polimere om gespesialiseerde proteïene te bestudeer wat as molekulêre geneesmiddelteikens dien. Hierdie afwentelmaatskappy van die Universiteit Stellenbosch (US) het hul innovering ’n stap verder geneem en het nou ’n nuwe BzAM Terpolimeer-reeks by hul polimeergebaseerde navorsingsportefeulje ingesluit. Dit merk die oorgang van hierdie fundamentele navorsing na ’n kommersieel lewensvatbare innovering met beduidende implikasies vir die bevordering van globale gesondheidsorg.
Hierdie mylpaal is moontlik gemaak deur die ondersteuning van die US se Tegnologie-oordragkantoor (Innovus) en US LaunchLab, wat ’n sleutelrol gespeel het in die kommersialisering van Nanosene se navorsing en die voorbereiding daarvan vir marktoetreding. Hierdie eenhede se leiding ten opsigte van intellektuele eiendomsbeskerming, sake-ontwikkeling en bedryfsbetrokkenheid het gehelp om Nanosene as ’n leier in polimeer-innovering te posisioneer.
“By Nanosene is ons missie om globale gesondheidsnavorsing deur polimeer-innovering te transformeer, en die BzAM-reeks is ’n bewys van hierdie visie. BzAM-polimere is ontwerp as ’n volgende-generasie alternatief vir bestaande kommersiële polimeer-nanoskyfformulerings en bied verbeterde funksionaliteit en aanpasbaarheid – sleutelvoordele vir navorsers en vir biotegnologie en farmaseutiese maatskappye wêreldwyd,” merk dr. Géstel Kuyler, hoof- uitvoerende beampte van Nanosene, op.
Membraanproteïene speel ’n deurslaggewende rol in selfunksie en dien as primêre geneesmiddelteikens vir die behandeling van talle siektes, insluitend kanker, neurologiese afwykings en aansteeklike siektes. Tradisionele ekstraksiemetodes bring dikwels die inherente eienskappe van hierdie proteïene in gedrang, wat dit moeilik maak om hulle akkuraat te bestudeer en gevolglik geneesmiddelontdekking vertraag.
Die BzAM-terpolimeerreeks oorkom hierdie uitdaging deur membraanproteïene in hul natuurlike toestand te stabiliseer, wat akkurate studies moontlik maak wat weer tot baanbreker- mediese vooruitgang kan lei. Hierdie tegnologie sal die manier waarop navorsers hierdie proteïene isoleer en analiseer verbeter, wat moontlik die ontwikkeling van nuwe, lewensreddende terapeutiese middels kan versnel.
Anders as konvensionele metodes, bv. die gebruik van chemikalieë wat die noodsaaklike sellulêre komponente van proteïene kan verwyder, handhaaf BzAM-polimere membraanproteïenintegriteit, wat lei tot betroubare navorsingsuitkomste. Hul unieke verstelbare eienskappe stel wetenskaplikes in staat om hulle aan te pas vir verskillende proteïentipes en gevorderde toepassings tydens die latere stadiums van navorsing, wat die sukseskoers van die identifisering van belowende geneesmiddelkandidate verhoog.
In ’n kontinent soos Afrika waar baanbreker- mediese innovering beperk is, sal die BzAM-tegnologie vinniger, meer akkurate geneesmiddelontwikkeling moontlik maak, wat sal help om navorsingskoste te verminder en effektiewe behandelings vinniger na die mark te neem.
Met membraanproteïene wat meer as 60% van geneesmiddelteikens uitmaak, kan die verbetering van hoe hulle bestudeer en geteiken word, geneeskunde ingrypend verander. Die BzAM-terpolimeerreeks het ’n wye toepassingsveld, insluitend geneesmiddelontwikkeling, strukturele biologie en biofarmaseutiese navorsing.
Benewens geneesmiddelontwikkeling, brei die moontlikheid uit om polimeerchemie te verfyn en word geleenthede in sintetiese biologie en biosensorontwikkeling geskep. Dit baan die weg vir nuwe innoverings in biomediese navorsing en diagnostiek. Dit kan ’n gunstige omgewing skep vir innovering ten opsigte van siekteopsporing, entstofontwikkeling en selfs volhoubare gesondheidsorgoplossings. Nanosene sluit aktief vennootskappe om die toepassings van BzAM-polimere en toekomstige polimeerontwikkelings te verbreed. Met die steun van Innovus en US LaunchLab kon Nanosene belangrike kommersiële ooreenkomste sluit, insluitend ’n vennootskap met ’n toonaangewende Europese biotegnologiefirma wat reeds BzAM (bemark as SMALP-BZ) te koop aanbied, met verdere internasionale samewerkings in die pyplyn. Vooruitskouend ontwikkel Nanosene gespesialiseerde polimeerformulerings vir geteikende geneesmiddelvoorsiening, mikroskopie en siftingstoetse. Daarbenewens ondersoek hierdie US-gebaseerde navorsingsgroep toepassings buite membraanproteïennavorsing, soos ’n omkeerbare manlike hidrogel-voorbehoedmiddel.
Namate die polimeer-nanoskyftegnologie aanhou ontwikkel, neem die potensiaal toe om die lewensgehalte van miljoene mense wêreldwyd te verbeter, wat die krag van innovering in die aanspreek van globale gesondheidsuitdagings verhoog en sodoende Nanosene se rol in die toekoms van geneeskunde verder verstewig.
Lees meer oor die werk wat Nanosene doen deur op die skakels hieronder te klik:
Pasgemaakte polimere plaas US-loodsonderneming op die kaart
Verstelbare terpolimeerreeks vir die sistematiese ondersoek van membraanproteïene
Oor Nanosene (Edms) Bpk
Nanosene (Edms) Bpk is die eerste pasgemaakte polimeer-innoveerder en -verskaffer in Afrika wat fokus op die ontwikkeling en vervaardiging van amfifiliese polimere om gespesialiseerde proteïene te bestudeer wat as molekulêre geneesmiddelteikens dien. Hierdie deurbraaktegnologie kan die mediese wêreld transformeer deur navorsers en geneesmiddelontwikkelaars te bemagtig om nuwe weë te verken vir die behandeling van verskeie siektes. Nanosene se tegnologie produseer polimere wat dien as onontbeerlike hulpmiddels vir die oplosbaarheid van intakte en funksionele membraanproteïene in nanoskaalskyfies. Hierdie nanoskyf-tegnologie bied aan navorsers die unieke geleentheid om toegang te verkry tot belangrike proteïene in ’n biologies aktiewe toestand.