Breadcrumb
PhD in Maatskaplike Werk
Die PhD in Maatskaplike Werk word toegeken by voltooiing van 'n onafhanklike navorsingsprojek.
SPESIFIEKE TOELATINGSVEREISTES
- 'n Meestersgraad in Maatskaplike Werk. Voorkeur sal gegee word aan kandidate met 'n finale punt van 65% of hoër.
- Jy verkry toelating tot doktorale studie op grond van 'n goedgekeurde navorsingsvoorstel.
SLUITINGSDATUM VIR AANSOEKE
Doen aansoek teen 31 Augustus van die voorafgaande jaar.
PROGRAMSTRUKTUUR
Die program bestaan hoofsaaklik uit selfstudie en oorlegpleging met die studieleier oor jou proefskrif en die navorsing wat jy onderneem. Jy woon ook navorsingsverwante werksessies by. Jou navorsing word in 'n spesifieke veld van maatskaplike werk gedoen en moet voldoen aan die vereistes van die Suid-Afrikaanse Raad vir Maatskaplike Diensberoepe.
DUUR VAN PROGRAM
Die program strek oor 'n minimum tydperk van twee akademiese jare. Die maksimum tyd wat voornemende studente gewoonlik toegelaat word om hul navorsingsvoorstel te voltooi om te kan registreer, is een jaar, en na registrasie mag studente 'n maksimum van drie jaar neem om hul studie te voltooi. Studente se studies kan deur die Departement gestaak word in die geval van onbevredigende vordering.
AANSOEKPROSES
- Laai die Departementele Nagraadse Keuringsvorm hier af.
- Voltooi en dien die Departementele Nagraadse Keuringsvorm in by Prof. Engelbrecht ([email protected]).
- Doen aanlyn aansoek by Hoe om aansoek te doen | Nagraads | Universiteit Stellenbosch
- Indien jou kwalifikasies in Maatskaplike Werk aan 'n tersiêre instelling buite Suid-Afrika behaal is, sal die Nagraadse Kantoor jou toelaatbaarheid tot nagraadse studies bepaal deur 'n geloofwaardigheidsevaluering van jou kwalifikasie(s) te doen by ontvangs van 'n formele aansoek wat by die Universiteit ingedien is.
- Aansoeke open aan die begin van Maart en sluit aan die einde van Augustus.
- Terugvoer oor die sukses van die aansoek sal in Oktober verskaf word met verdere besonderhede oor die nagraadse werksessie wat bygewoon moet word.
- 'n Studieleier sal gedurende die nagraadse werksessie toegewys word.
- Die studieleier werk saam met die student om 'n navorsingsvoorstel voor te berei.
- Sodra 'n studieleier en Departementele Komitee tevrede is met 'n voornemende kandidaat se navorsingsvoorstel, nomineer hulle lede van 'n interdissiplinêre Toelatingskomitee wat die voorstel moet goedkeur tydens 'n voorafbepaalde vergadering waar die student teenwoordig is.
- Die aanbeveling van die Toelatingskomitee word voorgelê aan die Fakulteit se Komitee vir Hoër Grade en Navorsing en indien aanvaar, word die voorstel by die Fakulteitsraad en die Senaat aanbeveel.
- Sodra die navorsingsvoorstel deur die Senaat goedgekeur is, kan die kandidaat registreer.
- Na die eerste registrasie moet studente elke jaar voor die einde van Maart registreer vir die volle studietydperk totdat die graad toegeken word.
Vir meer inligting, raadpleeg asseblief die US-jaarboek: 2026 Jaarboek