Skip to main content

Open Days

Fisika Opedag vir leerders en die publiek - 17 Julie 2026

Ontdek die Heelal tydens die Fisika Departement se Opedag! Sluit by ons aan in die Merensky-gebou om opwindende navorsing te besigtig - van fundamentele deeltjies tot die enorme struktuur van die Heelal. Almal is welkom - leerders, ouers, voorgraadse studente en die algemene publiek.

Sprekers van al ons navorsingsfokusareas - Sterrekunde en Astrofisika, Teoretiese Fisika, Laserfisika en Kernfisika - sal inligting verskaf oor hul onderskeie velde, studie-opsies en huidige navorsing. Gaste sal ook die geleentheid hê om interaktiewe fisika-demonstrasies te verken en deel te neem aan begeleide toere van ons laboratoriums. Die navorsers en studente wat die laboratoriumuitstalling en begeleide toere lei, sal beskikbaar wees tydens die verversingsessie om vrae te beantwoord en te gesels oor hoe dit is om fisika te studeer, asook hul eie navorsing en loopbaangeleenthede.

Die Fakulteit Natuurwetenskappe se studente- en akademiese sakekoördineerder sal inligting verskaf oor toelating- en keuringsvereistes vir die Fisika-program en vrae beantwoord oor Fisika as 'n studierigting op universiteitsvlak.

Quicket kaartjies sal vanaf 1 Junie beskikbaar wees

Community Interaction

Aandag alle voorgraadse studente: Vind meer uit oor nagraadse opsies in Fisika - 19 Augustus 2026

Oorweeg jy nagraadse studie in fisika? Kom kry ’n voorsmakie van die nagraadse omgewing en die navorsingsgeleenthede wat op jou wag. Hierdie geleentheid bied jou meer as die brosjure – jy kan ook die belangrike (en onbelangrike) vrae vra, en met die mense agter die navorsing kennis maak. 

Huidige nagraadse studente sal praat oor die mees algemene uitdagings en die onsekerhede wat gepaardgaan met hierdie oorgang in jou akademiese reis van voorgraadse tot nagraadse student. 

Kom ontdek die wetenskapsvrae wat die dryfveer agter die departement se navorsing is. Akademiese personeel en navorsers sal gesels oor hul huidige navorsing en jy sal eerstehandse inligting kry oor projekte waarby jy betrokke kan raak.  

En na afloop van al die gesprekke is daar tyd vir netwerk en kuier oor ligte verversings. Ontmoet potensiële studieleiers en toekomstige medestudente en vind uit waar jou belangstellings en akademiese nuuskierigheid die beste sal inpas.  

Plek: sal bevestig word
Datum: Woensdag 19 Augustus 2026
PhD student Dina Ratsimandresy in the lab

Stuur gerus 'n e-pos indien jy meer wil uitvind!

Stephan Jonker