Skip to main content

Fisika

Dr Dina Ratsimandresy in the lab

Waarom Fisika studeer?

Fisika is 'n skaars en impakvolle vaardigheid - en die studie daarvan aan die Universiteit Stellenbosch gee jou 'n sterk begin in 'n opwindende, toekomsgerigte veld. Jy sal 'n deeglike begrip kry van hoe die heelal werk terwyl jy praktiese laboratoriumervaring en probleemoplossingsvermoëns opdoen wat in wetenskap, tegnologie en nywerheid waardeer word.

Kom leer by passievolle dosente, verken werklike toepassings en word deel van 'n gemeenskap wat groot vrae met nuuskierigheid en kreatiwiteit aanpak.

Boonop is die Departement Fisika in 1903 gestig en ons het ons eeufees in 2003 gevier, wat dit een van die oudste fisika-departemente in Suid-Afrika maak.


“Ná voltooiing van ’n BSc-graad in Fisika brei ek my kennis van die natuurlike wêreld uit, ontwikkel ek die vaardigheid om objektief en krities te dink, en leer ek om hierdie kennis prakties in die werklike wêreld toe te pas.” – Voorgraadse BSc-student

Ons programme

Hierdie program bied opleiding om goed afgeronde fisici te ontwikkel met die tegniese en spesifieke wetenskaplike vaardighede wat nodig is om 'n unieke bydrae te lewer in navorsings- en ontwikkelingsomgewings waar fisika-verwante probleme ondersoek word.
Raadpleeg die jaarboek vir meer inligting oor die verskillende hoofvakke in die drie fokusareas in hierdie program:

BSc Fisika (fokusarea: Teoretiese Fisika)

Studente word voorberei vir navorsing in die veld van komplekse sisteme en vir die toepassing van kwantumveldteorie, byvoorbeeld in gekondenseerde materie-fisika, die fisika van biologiese sisteme en deeltjiefisika. Algemene relatiwiteit, astrofisika en kosmologie is ook aktiewe navorsingsareas in die departement. Nagraadse studie sal jou voorberei vir ʼn professionele loopbaan as teoretiese fisikus. Die kurrikulum is gefokus op fisika en wiskunde en vereis gevorderde rekenaarvaardighede.

BSc Fisika (fokusarea: Laserfisika, Kernfisika, Bestralings- en Gesondheidsfisika)

Eksperimentele fisici word benodig in die industrie en in navorsings- en ontwikkelingsomgewings. Laserfisici word toegerus om deel te neem aan verskeie metrologiese toepassings wat lig en lig-materie-interaksies gebruik, wat wissel van die identifisering van lae konsentrasies gas oor ʼn afstand, tot diagnostiese tegnieke in geneeskunde, kwalitatiewe analise, en kommunikasie. Instellings soos die Wetenskaplike en Nywerheidnavorsingsraad (WNNR), die Nasionale Metrologiese Instituut van Suid-Afrika, Sasol, verdediging en die industrie benodig hierdie vaardighede.

BSc Fisika (fokusarea: Laserfisika - biologiese)

Weens die vinnige toename in die gebruik van lasers in mediese en biologiese velde, is daar wêreldwyd ʼn behoefte aan opgeleide fisici met spesialiskennis in optika, lasers en lasertoepassings op die gebied van biologie en die geneeskunde. Lasers verskaf innoverende oplossing oor ʼn spektrum tot voordeel van die mensdom. In geneeskunde word lasers gebruik om visie reg te stel, om oogsiektes te genees wat blindheid kan veroorsaak, om velsiektes te behandel en chirurgie te doen. Mikroskopiese tegnieke wat lasers gebruik, het algemeen geword in mediese toepassings. Nuwe materiale en geneesmiddels wat deur laserlig geaktiveer word, word ook nou ontwikkel.

Ons nagraadse programme

BScHons in Fisika

Die BScHons in Fisika is ’n eenjarige spesialisasieprogram met fokusareas in Laserfisika, Kernfisika, Straling- en Gesondheidsfisika en Teoretiese Fisika. Die kurrikulum sluit ’n omvattende Fisika-projek in as deel van die honneursvlak-opleiding.

MSc in Fisika

Die MSc in Fisika kombineer tesisnavorsing met gevorderde seminare en/of kursuswerk, met ondersteuning van ’n departement-aangewese studieleier en begeleide onafhanklike navorsing en literatuurstudie. Jy voltooi die graad deur ’n tesis vir eksaminering in te dien en ’n mondelinge eksamen af te lê.

PhD in Fisika

Die PhD in Fisika is ’n navorsingsintensiewe kwalifikasie wat ’n proefskrif vereis waarin die resultate van onafhanklike wetenskaplike navorsing aangebied word. Dit is ontwerp vir kandidate wat gereed is om oorspronklike kennis tot die dissipline by te dra op doktorale vlak.

Contact us

General enquiries
+27 021 808 3391
Posgraduate student enquiries
Physical address
Merensky Building, Stellenbosch University