Skip to main content
Retiree - Prof Rachel Jafta
Image by: Prof Rachel Jafta
Ekonomie, ondernemingsbestuur en openbare bestuur

Prof Rachel Jafta se toekoms is een van eindelose moontlikhede

Ronél Beukes
03 Desember 2025
  • Prof Rachel Jafta se toekoms is een van eindelose moontlikhede

Die woord “afgetredene” roep dikwels beelde op van ouer persone met ’n stadiger, meer voorspelbare lewensritme. Sommige individue is egter ’n sprekende bewys van die teenoorgestelde van hierdie stereotipe – hulle huiwer nie om nuwe inisiatiewe aan te pak nie en verdiep hulle in hul bestaande passies.

Prof Rachel Jafta, gerespekteerde hoogleraar in Ekonomie in die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch (US), is een van hulle. Vir haar beteken die einde van die jaar nie aftrede nie, maar bloot ’n formele afsluiting van haar voltydse akademiese aanstelling. “Ek tree nie af nie,” sê sy met ’n glimlag. “Ek is ’n ekonoom — nou én in die toekoms.”

Drie lewens, een doel

Rachel beskryf haarself as iemand met “drie lewens”: ’n akademikus, ’n sakeleier, en ’n toegewyde deelnemer aan gemeenskapsinisiatiewe. En geeneen van hierdie rolle kom tot ’n einde nie, beklemtoon sy.

In die sakewêreld sal sy steeds as direkteur van Naspers en Prosus, voorsitter van Media24 en lid van die Bestuurskomitee van die Buro vir Ekonomiese Ondersoek dien. Sy is eweneens passievol oor mentorskap. “Ek geniet dit baie om jong entrepreneurs – plaaslik én internasionaal – te mentor,” sê sy. “Om talentvolle jongmense te help om hul idees en geleenthede te ontwikkel en te benut, is besonder bevredigend.”

Groter gemeenskapsbetrokkenheid

Haar uittrede uit voltydse akademiese aktiwiteite sal haar ook in staat stel om meer tyd aan gemeenskapsprojekte te bestee wat haar na aan die hart lê. Een daarvan is die Kaapstad-karnaval, wat sy gestig het. “Die Karnaval word volgende jaar 16, en ek wil op die volgende fase fokus: om nóg meer mense by hierdie ongelooflike inisiatief te betrek.”

Sy bly toegewy aan WeCode24, die projek wat sy begin het om hoërskoolleerders met die programmeringsvaardighede toe te rus wat noodsaaklik is in ’n vinnig veranderende digitale wêreld. “Ons skakel met besighede wat dalk betrokke wil raak, hetsy deur befondsing om meer leerders te betrek of deur internskappe vir diegene wat die vaardighede bemeester het maar ervaring kort. Daar is net soveel potensiaal,” verduidelik sy.

’n Akademiese tradisie word voortgesit

Volgens Rachel is dit byna tradisie vir emeritus professore van die Departement Ekonomie om betrokke te bly. Sy verwys na proff Estian Calitz en Servaas van den Berg as voorbeelde, en onthou dan met deernis van ’n ontmoeting met wyle prof Jan Sadie. “Ek het op Nuwejaarsdag op kantoor aan my PhD gewerk. Hy was destyds reeds afgetree, maar daar is hy toe – besig om aan sy tweede PhD te werk!” lag sy.

Besprekings oor haar voortgesette betrokkenheid by die Departement is aan die gang. “Ek is mal oor klasgee,” erken sy. “Ek geniet navorsing ook, maar die interaksie met studente is ongelooflik bevredigend.”

Sy het vroeër vanjaar haar alma mater, die Università degli Studi Luigi Bocconi in Milaan, besoek. By beide Bocconi en die Universiteit van St. Gallen in Switserland wag daar nuwe geleenthede en moontlikhede. “Ek verbind my nog nie tot enigiets nie,” sê sy, “maar ek is opgewonde om te sien hoe sake ontvou.”

Weetgierigheid sonder grense

Rachel is al lank ’n lid van die Internasionale Adviesraad van die Fundação Dom Cabral Sakeskool in Nova Lima, Brasilië. Sy beskou dit as ’n kosbare ervaring. “Ek geniet dit regtig baie en ek leer soveel,” sê sy. “Merkwaardig genoeg word besluite wat in Adviesraadsvergaderings geneem word, binne ses maande geïmplementeer. Dis indrukwekkend.”

Reis is een van haar groot vreugdes, veral wanneer sy die taal kan praat, soos in Italië. Sy het onlangs die verre suide van die land vir die eerste keer besoek, en nog ’n reis – saam met ’n vriendin van Milaan – om Italiaanse dorpies op die platteland te verken, word reeds beplan.

Sy is ’n ywerige leser, maar “daar kom altyd nuwe boeke uit en die Desembervakansie is veels te kort!” sê sy grappenderwys. Om lang afstande te stap, tuis en oorsee, is nog ’n gunstelingtydverdryf.

Familie, vriendskap en die vreugde van gee

Rachel sien daarna uit om meer tyd saam met familie en vriende deur te bring. Haar peetkinders — amptelik en nie-amptelik — is ’n bron van vreugde, van die 13-jarige se kuier in die komende Desember-skoolvakansie tot die jong dokter in Windhoek, wie se 21ste verjaarsdaggeskenk ’n reis na Italië was. “Ek wou iets baie spesiaals vir haar doen,” sê sy met warmte.

Prof Rachel Jafta laat nie net haar voltydse akademiese rol agter nie, maar ook ’n nalatenskap wat gekenmerk word deur briljantheid, moed, vrygewigheid en die seldsame vermoë om mense bymekaar te bring. Sy gaan die toekoms in met dieselfde weetgierigheid en opgewondenheid wat so kenmerkend van haar lewe is. Haar lewensverhaal is allesbehalwe besig om te verlangsaam.

•      Die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe eer prof Rachel Jafta vir haar buitengewone bydraes as akademikus, leier en mentor. Haar invloed het geslagte studente help vorm, die Fakulteit se akademiese reputasie bevorder en gemeenskappe verryk, plaaslik en internasionaal. Terwyl ons afskeid neem van haar in haar voltydse hoedanigheid, sien ons uit na die vele wyses waarop sy mense steeds sal inspireer en lei.

Merkers

Ekonomie Ekonomie

Verwante stories