Meer as volpunte: CGW Schumann-medalje vereer uitsonderlike aktuariële student
- 'n Akademiese rekord wat deur konsekwentheid, uitnemendheid en merkwaardige prestasie gekenmerk is, het aan mnr Ulrich Le Roux die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe se hoogste studentetoekenning, die 2025 CGW Schumann-medalje besorg.
Die medalje, wat vernoem is na prof CGW Schumann, 'n baanbrekerdosent en voormalige dekaan van die Fakulteit, word sedert 1986 jaarliks toegeken om die Fakulteit se beste nagraadse student te vereer.
Le Roux se akademiese uitnemendheid was reeds van jongs af duidelik. In 2021 matrikuleer hy aan die Hoër Jongenskool Paarl met 'n gemiddeld van 98% en word aangewys as Suid-Afrika se toppresteerder in die Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen. Op universiteit het hy egter die standaard nóg hoër gestel.
"Hoewel dit nie ongewoon is dat uitsonderlike studente in verskeie modules meer as 90% behaal nie, het Ulrich deurgaans op 'n buitengewone vlak presteer," sê prof Garrett Slattery, hoof van die Departement Aktuariële Wetenskap. "Hy het in ongeveer die helfte van sy voorgraadse modules tussen 97% en 100% behaal, terwyl punte onder 90% seldsaam was. Hy het elke vak in beide sy baccalaureus- en honneursgraad met lof geslaag."
Sy prestasies gedurende sy voorgraadse studie het aan hom die toekennings as topstudent in beide Aktuariële Wetenskap en Wiskundige Statistiek besorg. Verdere erkenning vir sy uitstaande akademiese prestasie het gevolg toe hy 'n Rektorstoekenning vir uitnemende akademiese prestasie ontvang.
As sy voorgraadse uitslae uitsonderlik was, was sy honneursjaar buitengewoon.
Uit sowat 150 honneursstudente van die Universiteit Stellenbosch, die Universiteit van Kaapstad, die Universiteit van die Vrystaat en Noordwes-Universiteit het Le Roux die hoogste punt in die finale Aktuariële Wetenskap-eksamen behaal – 'n ongekende 86%.
Met 'n reeds veeleisende studielading het hy ook vir 'n bykomende meestersvlakmodule in Algemene Versekeringsbeginsels ingeskryf, waarin die toepassing van aktuariële beginsels op korttermynversekering ondersoek word.
Die gehalte van sy akademiese rekord is nie net deur sy universiteitsuitslae weerspieël nie, maar ook deur die professionele erkenning wat hy ontvang het. Op grond van sy prestasie in ooreenstemmende universiteitsmodules gedurende sy baccalaureus- en honneursgraad, het Le Roux vrystelling ontvang van al die beskikbare eksamens van die Aktuariële Genootskap van Suid-Afrika.
Ondanks hierdie merkwaardige prestasies het hy ook tyd ingeruim om hulp aan medestudente te verleen. Gedurende sy honneursjaar was hy nie net 'n tutor vir derdejaarstudente nie, maar het ook as hooftutor opgetree vir die Departement se hoofmodule vir eerstejaars. Buiten sy studies het hy skaak geniet en sy koshuis, Eendrag, in ultimate frisbee verteenwoordig.
Vroeër vanjaar het die volgende hoofstuk van Le Roux se loopbaan aangebreek toe hy by Discovery Life in Johannesburg aangesluit het. Hoewel die universiteit presisie beloon, sê hy die werkplek het hom aan 'n ander soort probleemoplossing blootgestel.
"Op universiteit is antwoorde oor die algemeen óf reg óf verkeerd. In die werkplek is daar nie 'n memorandum om jou te lei nie. Jy moet verskillende stukke inligting teen mekaar opweeg, jou oordeel gebruik en besluit wat die beste plan van aksie is."
Die verhuising van die Wes-Kaap na Johannesburg het ook sy eie aanpassings geverg.
"Dit was my eerste ervaring van op my eie woon en om ver weg te wees van almal wat ek ken," sê hy. "Dit het aanpassing vereis, maar ná ses maande voel ek gevestig. Om naby die kantoor te woon, het die oorgang beslis makliker gemaak."
Vir eers fokus hy daarop om hom in die volgende paar jaar as aktuaris te kwalifiseer. Verder hou hy sy toekomstige loopbaanopsies oop.
Een doelwit bly staan vas.
"Ek wil 'n positiewe verskil in die samelewing maak deur my aktuariële werk."
Vir iemand wie se akademiese rekord herhaaldelik nuwe maatstawwe gestel het, is die CGW Schumann-medalje veel meer as bloot erkenning vir uitsonderlike uitslae. Dit is 'n huldeblyk aan 'n jong professionele persoon wie se talent, nuuskierigheid en toewyding daarop dui dat sy grootste bydrae moontlik nog voorlê.