Vir ’n beter toekoms: Studente inspireer Graad 12-leerders tydens loopbaanwerksessie
- Vir ’n beter toekoms: Studente inspireer Graad 12-leerders tydens loopbaanwerksessie
’n Groep Honneurs BCom-studente in Bedryfsielkunde het onlangs hul Saterdagoggend gebruik om ’n betekenisvolle verskil in die lewens van Graad 12-leerders uit plaaslike landbougemeenskappe te maak tydens ’n loopbaanwerksessie by Villiera Wyne naby Stellenbosch.
Die werksessie, wat in vennootskap met die Pebbles Project Trust gereël is, het entoesiastiese leerders van omliggende wynplase byeengebring om die vele moontlikhede wat ná matriek op hulle wag, te verken. Die Pebbles Project Trust is ’n niewinsgewende organisasie wat daarop gemik is om kinders en jong volwassenes uit landbougemeenskappe te ondersteun deur toegang tot onderwys, geleenthede en noodsaaklike dienste te bied.
Vir die Bedryfsielkunde-studente was die geleentheid veel meer as bloot ’n akademiese oefening; dit was ’n kans om jong mense te begelei, te motiveer en te bemagtig terwyl hulle begin beplan vir hul toekoms.
Die inisiatief het deel gevorm van die praktiese komponent van die module Beroepsielkunde en Voorligting en is deur Bedryfsielkunde-dosent mev Marietha de Wet georganiseer. Die module rus studente toe met praktiese loopbaanvoorligtingsvaardighede en bied hulle die geleentheid om teorie in ’n werklike konteks toe te pas.
Mev De Wet het nie net die grondslag vir die vennootskap met die Pebbles Project Trust gelê nie, maar ook ’n sleutelrol in die voorbereiding vir die werksessie gespeel. Leerderwerkboeke is onder haar wakende oog ontwikkel en sy het die studente regdeur die beplanningsproses begelei om te verseker dat die werkswinkel boeiend, prakties en relevant tot die leerders se behoeftes was.
Vyf temas
Om te verseker dat die werkswinkel ’n wye verskeidenheid loopbaanrigtings en belangstellings insluit, is die studente in vyf groepe ingedeel; elk met ’n spesifieke tema wat verband hou met geleenthede ná skool. Die groepe het navorsing gedoen, aanbiedings voorberei en leerderwerkboeke vir hul onderskeie temas ontwerp.
Een van die studente, Ayanda Fambisayi, het die ervaring as betekenisvol en bevredigend beskryf. “Ons het die geleentheid gehad om werklik met die leerders kontak te maak. Dit was pret om met behulp van die werkboeke, vasvraery, speletjies en natuurlik, baie lekkers, te kommunikeer!”
“Sulke dinge gebeur nie sommer vanself nie; mense moet dit láát gebeur, en ek is dankbaar teenoor die Universiteit, mev De Wet en Pebbles wat ons dié geleentheid gegee het om ’n betekenisvolle impak op leerders se lewens te maak vir ’n beter toekoms.”
Sy het ook haar medestudente geloof: “Ek is veral trots op my spanmaats vir die samewerking en kreatiwiteit wat in die ontwerp van die werkboek ingegaan het.”
Die werkswinkel het vyf belangrike roetes ondersoek wat ná matriek vir leerders beskikbaar is:
• Indiensneming: Leerders het praktiese leiding ontvang oor toetrede tot die arbeidsmark, insluitend gesprekke oor internskappe, die opstel van CV’s en dekbriewe, hoe om belangstellings by beroepe te pas, en die navigering van die Suid-Afrikaanse arbeidsmark.
• Entrepreneurskap: Studente het leerders aangemoedig om kreatief te dink oor die oplossing van uitdagings in hul gemeenskappe deur middel van besigheidsidees. Gesprekke het die eienskappe van entrepreneurs en die stappe om ’n onderneming te begin, ingesluit.
• Tersiêre onderwys: Hierdie sessie het die verskille tussen grade, diplomas en sertifikate verduidelik en leerders deur die aansoekproses en finansiële beplanning vir verdere studie gelei.
• Ontwikkeling van middelvlakvaardighede: Leerders wat belangstel in beroepsgerigte loopbane het insig gekry in vakleerlingskappe, leerlingskappe en geleenthede wat deur kolleges vir Tegniese en Beroepsonderwys- en Opleiding aangebied word, asook die toenemende vraag na ambagslui in Suid-Afrika.
• Beplanning van ’n oorbruggingsjaar: Vir dié wat ’n oorbruggingsjaar oorweeg, het gesprekke gefokus op persoonlike ontwikkeling, vrywilligerswerk, begrotingsbeplanning en die saamstel van ‘n sinvolle plan vir so ’n jaar.
Volgens klasverteenwoordiger Annaliza Lubbe was die ervaring insiggewend vir alle betrokkenes. “Terwyl ek navorsing gedoen het oor opsies vir middelvlakvaardigheidsontwikkeling, was ek verbaas oor hoeveel moontlikhede daar ná skool bestaan,” het sy verduidelik.
Sy het ook die entoesiasme van die Graad 12-leerders geprys. “Die leerders het ons op ons tone gehou: hulle wou regtig daar wees en het baie relevante vrae gevra.”
Betekenisvolle gesprekke
Die werkswinkel het betekenisvolle gesprekke ontlok en leerders geïnspireer om ernstiger oor hul toekoms na te dink. Terwyl sommige nog onseker was, het ander reeds duidelike ambisies gehad wat gewissel het van ingenieurswese tot haarkappery. Een voornemende entrepreneur het die fasiliteerders beïndruk toe sy vertel dat sy reeds ’n snoepwinkel by haar skool bedryf – ’n onderneming wat sy op eie inisiatief begin het.
Volgens me Ingrid Cupido van die Pebbles Project Trust het die werksessie op presies die regte tyd gekom vir die leerders.
“Dit was ’n hupstoot vir ons Graad 12-leerders en die perfekte geleentheid om oor hul sterk en swak punte na te dink en besluite oor hul toekoms te neem. Diegene wat verder wou studeer, kon steeds daaraan werk om hul punte te verbeter,” het sy gesê.
Mev De Wet glo dat die projek potensiaal vir uitbreiding het. “Ek wil graag die fokus van die jeugontwikkelingsinisiatief verbreed om ook jong plaaswerkers in te sluit. Ek voorsien toekomstige ontwikkelingswerksessies wat ook hul loopbaan- en persoonlike ontwikkelingsbehoeftes sal ondersteun.”
Al is die verpligte praktiese komponent van die honneursstudente se kursuswerk nou afgehandel, sal die impak van die inisiatief voortduur. Verskeie studente het hulle daartoe verbind om hul dienste op ’n vrywillige basis voort te sit ten einde jongmense in plaaslike landbougemeenskappe te ondersteun.
Die werkswinkel het leerders herinner dat daar baie moontlike roetes na sukses is – en dat hul toekomsdoelwitte met leiding, voorbereiding en deursettingsvermoë binne bereik is.