Skip to main content
Discovery - GradHack
Ekonomie, ondernemingsbestuur en openbare bestuur

BDatSci-finalejaars wen die 2025 Discovery GradHack

Paul Mostert
11 November 2025
  • BDatSci-finalejaars wen die 2025 Discovery GradHack

Foto: Van links na regs: Discovery se Jamie Whittaker, Hoofinligtingsbeampte: Gebruikerskoppelstelsels (Systems of Engagement), by Jaime Kruger, Mia Olivier, Kayleigh Koekemoer, David Nicolay en Discovery Groep se Hoofinligtingsbeampte, Derek Wilcocks.

Die Universiteit Stellenbosch (US) se VitaliTeam bestaande uit Mia Olivier, Kayleigh Koekemoer, Jaime Kruger en David Nicolay – almal finalejaarstudente in die B-graad in Datawetenskap (BDatSci) – het met die louere weggestap in die 2025 Discovery GradHack-kompetisie.

Foto: Die wenspan het bestaan uit (van links na regs) US se Jaime Kruger, Kayleigh Koekemoer, David Nicolay en Mia Olivier.

Die span het drie van die BDatSci-program se fokusareas verteenwoordig (Gedrags¬ekonomie, Rekenaarwetenskap en Statistiese Leer) en het die interdissiplinêre krag en innovasie gedemonstreer wat US se BDatSci-graad kenmerk.

Byna 200 spanne van universiteite regoor Suid-Afrika het aan die kompetisie deelgeneem. Elke span moes idees voorlê in antwoord op Discovery se uitdaging om ’n tegniese oplossing te ontwikkel wat óf Discovery-produkte en -dienste verbeter, óf ’n wyer Suid-Afrikaanse probleem pak. VitaliTeam se voorstel het hulle onder die top 14 spanne geplaas wat vir die aanlyn GradHack-geleentheid gekies is.

“Wat as ’n spontane inskrywing begin het, het gou in een van die bevredigendste ervarings van ons finale jaar verander,” het die span vertel. “Saam het ons InsureShield gebou, ’n KI-gedrewe stem- en teksanalisestelsel wat potensiële versekeringsbedrog intyds opspoor.”

Binne een naweek het die studente ’n proefmodel ontwikkel wat maatstawwe uit oudio-data onttrek, soos toonhoogte, stemtoon en die gemiddelde lengte van pouses. Dit is toe in ’n klassifikasiemodel gevoer. Die stelsel het ’n bedrogvoorspelling gegenereer wat op ’n interaktiewe gebruikerskoppelvlak (dashboard) vir oproepsentrum¬konsultante vertoon is. “Dit maak intydse besluitneming moontlik en verander bedrogopsporing van reaktief na proaktief,” het hulle verduidelik.

Teen die Sondagaand het VitaliTeam gehoor dat hulle onder die top drie spanne was. Hulle is na Discovery se hoofkantoor in Sandton gevlieg om hul oplossing aan ’n paneel senior bestuurders voor te lê. Daar is hulle as die algehele wenners aangewys en het elk R15 000, asook R50 000 vir US ontvang.

“Ons BDatSci-kursuswerk het ons beslis vir hierdie uitdaging voorberei,” het die span gesê. “Ons verskillende fokusareas het ons ’n breë perspektief gegee oor hoe om dit aan te pak. Om die GradHack te wen was ’n trotse oomblik, maar die eintlike hoogtepunt was om te sien hoe ons kennis en vaardighede in die werklikheid toegepas kan word om betekenisvolle probleme met data en tegnologie op te los.”

Prof Paul Mostert van die Departement Statistiek en Aktuariële Wetenskap het sy trots namens die akademiese personeel van die BDatSci-program uitgespreek: “Ons is ongelooflik trots op ons studente. Dit is bemoedigend om te sien hoe dié jong en dinamiese graad se gegradueerdes hul merk op Suid-Afrika se datawetenskap-landskap maak.

“The success of the VitaliTeam is a testament to the quality, relevance and interdisciplinary nature of the BDatSci programme. We look forward to celebrating the second cohort of BDatSci graduates in December 2025.”

“Die sukses van VitaliTeam is ’n bewys van die gehalte, relevansie en interdissiplinêre aard van die BDatSci-program. Ons sien daarna uit om die tweede groep BDatSci-gegradueerdes in Desember 2025 te vier.”

Die oorwinning beklemtoon die BDatSci-program se verbintenis om veelsydige datawetenskaplikes te ontwikkel wat innovasie en samewerking gebruik om betekenisvolle verandering in die samelewing te bewerkstellig.

Merkers

Ekonomie

Verwante stories