Skip to main content
Retiree - Adolph Neethling
Image by: Adolph Neethling
Ekonomie, ondernemingsbestuur en openbare bestuur

Adolph Neethling: Aftrede is ’n reis, nie ’n bestemming nie

Ronél Beukes
03 Desember 2025
  • Adolph Neethling: Aftrede is ’n reis, nie ’n bestemming nie

Vir Adolph Neethling van die Departement Ondernemingsbestuur aan die Universiteit Stellenbosch (US) is sy komende aftrede aan die einde van die jaar nie ’n laaste hoofstuk nie, maar bloot ’n nuwe deel van die reis. Soos hy graag sê: “Aftrede is net ’n fase wat verby is. Ek het nog baie meer om te bied.”

Die beginjare

Adolph se reis het in Kraaifontein op die Kaapse Skiereiland begin, waar hy as die oudste van vier kinders in ’n hegte gesin grootgeword het. Hoewel Afrikaans hul huistaal was, het sy ouers hom by ’n Engelsmediumskool – Spes Bona High School in Athlone – ingeskryf, omdat hulle geglo het dat dit later in die lewe deure vir hom kon oopmaak. Hierdie vroeë besluit het die grondslag gelê vir ’n ’n loopbaan waarin hy moeiteloos in uiteenlopende omgewings en gemeenskappe gewerk het.

Nadat hy sy besigheidstudies aan die Skiereilandse Technikon voltooi het, het Adolph by sy pa se konstruksie-onderneming begin werk, later ’n gebouekompleks bestuur en in 1989 sy eie onderneming begin. Dié tydperk het hom, soos hy dit stel, “omvattende ervaring in die klein-, medium- en mikro-ondernemingsomgewing gegee, beide as entrepreneur en as sakebestuurder in die vinnigbewegende verbruikersgoederebedryf.” Hierdie praktiese ondervinding sou uiteindelik van onskatbare waarde in die lesingsaal wees.

Van die sakewêreld tot die akademie

Terwyl Adolph aan sy loopbaan as entrepreneur gebou het, het hy in 1990 as student by die Universiteit van die Wes-Kaap (UWK) ingeskryf en sy BCom- en HonsBCom-grade behaal.

Dit was gedurende hierdie tyd dat hy sy toekomstige vrou, Lorraine (ook bekend as Lorrie) ontmoet het. Toe haar eerste onderwyspos haar na Lime Acres in die Noord-Kaap neem, het Adolph nie op hom laat wag nie en ’n pos op die Bloemfontein-kampus van Vista Universiteit bekom. Die twee is in Desember 1997 getroud.

Sedert hy hom in 2006 by die Universiteit Stellenbosch aangesluit het, het Adolph die volgende studievelde onderrig: entrepreneurskap, sakebestuur en korporatiewe entrepreneurskap. Hy het ook by sosiale impak inisiatiewe betrokke geraak en gespesialiseer in navorsing oor entrpreneurskapsopleiding en die kommersialisering van innovasie. Sy konsekwente en bekwame bydraes tot die leeromgewing het verder behels dat hy as studieleier vir talle nagraadse studente opgetree het, en as eksterne eksaminator vir meestersgraadverhandelinge.

’n Leier van sosiale impak-inisiatiewe

Een gebied waarop Adolph ’n onweerlegbare uitwerking gehad het, is sosiale impak. Die ontwikkeling en groei van die Young Entrepreneurship Programme (YEP), wat in 2018 in samewerking met die HU Universiteit vir Toegepaste Wetenskappe Utrecht in Nederland van stapel gestuur is, is grotendeels aan hom te danke. Die program bied hoërskoolleerders uit minderbevoorregte gemeenskappe die geleentheid om entrepreneursdenke en praktiese besigheidsvaardighede te ontwikkel. Met sy standvastige leiding het YEP sy voete gevind en gaan dit steeds van krag tot krag, nou met sy kollega Sabrina Matthee aan die stuur van sake.

Adolph het ook internasionale samewerking tussen US se Departement Ondernemingsbestuur en drie Noorweegse universiteite geïnisieer en gekoördineer. Dit het internskappe vir US-studente in Bergen en vir Noorweegse studente in Suid-Afrika moontlik gemaak. Sedert 2020 het die projek uitgebrei en ander US departemente en fakulteite ingesluit. Teen Junie 2026 sal die getal Noorweegse meestersgraadstudente vir wie hy internskappe in Stellenbosch help fasiliteer het, meer as 30 wees. Die inisiatief het boonop ’n nuttige addisionele inkomstestroom vir sy departement geskep. Hy is trots op die praktiese waarde wat dit vir studente aan beide kante bied.

Sy bydraes het hom drie keer US se Sosiale Impak-toekenning besorg, die mees onlangse in 2024 as deel van die YEP-span – erkenning wat hy met kenmerkende beskeidenheid ontvang.

Musiek en ander vreugdes

In sy persoonlike lewe is Adolph iemand wat dit geniet om betrokke te wees. Hy vertel grappenderwys dat hy met die volgende aanhaling kan identifiseer: “God het ons op aarde geplaas om ’n aantal dinge te doen. Tans is ek so ver agter; ek sal nooit sterf nie.” Dit weerspieël sy natuurlike neiging na ’n besige lewenstyl. Selfs na aftrede beplan hy om met gemeenskapswerk voort te gaan, en hy hoop om wiskundige geletterdheidsklasse aan te bied; iets wat hy lankal graag wou doen.

Musiek bly een van sy grootste vreugdes. As toegewyde pianis en jazzliefhebber sien hy daarna uit om meer tyd tot sy beskikking te hê om sy spel te verfyn en dalk weer verwerkings te doen soos in sy jeug. “Musiek was nog altyd ’n leefwyse vir my,” sê hy. “Dis die perfekte manier om te ontspan.”

Deesdae gee Lorraine Engels by Fairmont High School in Durbanville. Hul dogters, Autumn (24) en Sage (22), het altwee aan US studeer: Autumn het ’n BCom-graad behaal, terwyl Sage ’n finalejaarstudent in BA (Regte) is.

Oor naweke en gedurende vakansies geniet Adolph en Lorraine dit om historiese dorpies soos Tulbagh en Greyton te verken. Laasgenoemde herinner Adolph aan sy kinderdae toe hy en sy gesin die nabygeleë Genadendal gereeld besoek het.

Al tree hy uit sy formele rol by US, sien Adolph aftrede nie as ’n einde nie. Hy sien dit eerder as ’n geleentheid om steeds by te dra; net op ander maniere.

“Dis bloot ’n nuwe deel van die reis. Daar is nog soveel wat ek wil doen.”

Merkers

Ekonomie Ekonomie

Verwante stories