
Eendresies bemagtig vroue en ondersteun kinders
- Vierhonderd plastiekeendjies is op 26 September in die Eersterivier gegooi vir ‘n resies wat nie net oor wen gegaan het nie. Hierdie eendjies het ten bate van Her Voice Kayamandi en die Opvoedkundige Sielkunde Praktikumeenheid geswem.
Vierhonderd plastiekeendjies is op 26 September in die Eersterivier gegooi vir ‘n resies wat nie net oor wen gegaan het nie. Hierdie eendjies het ten bate van Her Voice Kayamandi en die Opvoedkundige Sielkunde Praktikumeenheid geswem.
Dié Sosiale Impak inisiatief is deur Fakulteit Opvoedkunde se Sosiale Impakkomitee aangepak en die publiek kon vooraf eendjies borg en sodoende deelneem aan die resies. Die eendjies is vanaf die voetgangerbrug naby Coetzenburg Atletiekstadion in die Eersterivier gegooi en het sowat 100 meter ver geswem tot by die wenstreep. Elke eend was genommer en donateurs het hulle eendnommers vooraf ontvang. Alle eende is na die resies uit die rivier verwyder.
Prof Madiba, dekaan van Fakulteit Opvoedkunde, het aan me Ayanda Nyoka, Hoof Uitvoerende Beampte van Her Voice Kayamandi, sowel as aan Dr Carmelita Jacobs, Hoof van die Opvoedkundige Sielkunde Praktikumeenheid elk ʼn tjek van R15 000 oorhandig wat met die resies ingesamel is.
Die inisiatief is ondersteun deur die Rektoraat asook deur die dekane van die volgende fakulteite: Ingenieurswese, Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, Regte en Natuurwetenskappe.
Volgens Zintle Nomavuka, Operasionele Bestuurder van Her Voice Kayamandi, gaan hierdie geld aangewend word in hulle program om vrouens te bemagtig. Vroue in Kayamandi kan lede word van Her Voice en moet weeklikse sessies bywoon waarvoor hulle 10 punte (gelykstaande aan +/- R100) per week verdien wat dan omgeruil kan word vir basiese noodsaaklike items soos kos, toiletware en ander. Die weeklikse sessies sluit die ontwikkeling van vaardighede ten opsigte van onder andere ouerskap en gesondheid in. Die impak van hierdie programme het ʼn positiewe invloed nie net op die vrouens wat dit bywoon nie, maar ook op hulle families.
Die Opvoedkundige Sielkunde Praktikumeenheid is ʼn gespesialiseerde opleidingsentrum binne die Meerstersgraadprogram by Opvoedkundige Sielkunde. Dit verskaf aan studente praktiese ervaring onder toesig van ervare opvoedkundige sielkundiges. Volgens Prof Melanie Moen, voorsitter van Departement Opvoedkundige Sielkunde, dien die eenheid die gemeenskap deurdat verwysings vanaf skole regoor Kaapstad ontvang word en bied die eenheid assesserings, loopbaanleiding, berading en terapeutiese intervensies aan kinders en adolessente by skole teen ʼn baie lae koste. Hierdie skenking sal gebruik word om hierdie dienste aan meer kinders beskikbaar te stel.
Crazy Store en Cliffe Dekker Hofmeyr was die hoofborge van die resies en het ʼn kardinale rol gespeel om hierdie geleentheid moontlik te maak. Pryse vir die wenners asook gelukkige trekkings is geborg deur Creation Wines, Maties Shop, Vida e Caffe, Bossa, Gino’s, PNA, Die Laan en Buzz Café.
Die wenners was as volg:
- Eerste: Carla Feenstra
- Tweede: Herman Wasserman
- Derde: Clyntin van der Merwe
Volgens Prof Moen, Hoof van Sosiale Impak by Fakulteit Opvoedkunde word daar beplan om die eendresies ‘n jaarlikse instelling te maak. Sy bedank graag alle rolspelers en is opgewonde oor die groot impak wat hierdie projek maak.