Skip to main content
Photo by Cheryl McEwan

Meet our Team

Prof. Johan Hattingh Professor Emeritus

[email protected]

Johan Hattingh is ʼn emeritus professor aan die Universiteit Stellenbosch. Van 2006 tot 2011 het hy twee termyne as die visedekaan van Sosiale Wetenskappe van die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe gedien en van 2013 tot 2017 was hy die dekaan van die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch. Hy het in 2021 afgetree.

Hy het in 1980 in die Departement begin en het omvattende ervaring van die onderrig van praktiese logika en kritiese denkvaardighede, die filosofie van kultuur, hermeneutiek, kontinentale filosofie, estetika en post-strukturalistiese denke, dié van Michel Foucault in die besonder. Sy magister het gehandel oor Martin Heidegger se kritiese konsepsie van tegnologie, terwyl sy doktorale proefskrif op die filosofiese vraagstuk van die verband tussen kuns en moraliteit gefokus het.

Oor die afgelope dertig jaar het hy gespesialiseer in toegepaste etiek, kritiek op ideologie, ontwikkelingsetiek en veral in omgewingsetiek en die etiek van klimaatsverandering. Hy is sedert 1992 die hoof van die Eenheid vir Omgewingsetiek aan die Universiteit Stellenbosch, en van 1998 tot 2005 was hy ʼn besoekende professor in ʼn magisterprogram in ontwikkelingstudies van die Nagraadse Leierskapskool in die Fakulteit Bestuurswetenskappe van die Universiteit van die Noorde (tans die Universiteit van Limpopo).

Met meer as 70 akademiese publikasies op sy kerfstok en talle referate by akademiese konferensies, vind hy dit fassinerend om te werk op die koppelvlak van teorie en praktyk in die ontleding van waardedispute in die konteks van beleidsformulering, omgewingsbesluitneming en -bestuur, asook etiese kwessies wat met klimaatsverandering verband hou. In hierdie verband volg hy die gevallestudiemetode in toegepaste etiek en ontwikkel dit ook verder.

Op nagraadse vlak onderrig prof Hattingh omgewingsetiek in drie magisterprogramme aan die Universiteit Stellenbosch. Hy was die studieleier of medestudieleier van 15 afgehandelde doktorale proefskrifte en 43 afgehandelde magistertesisse.

In sy huidige navorsing fokus prof Hattingh op die probleem van die integrasie van etiese oorwegings in omgewingsbesluitneming. Hy fokus in die besonder op institusionele response op die etiese kwessies wat met klimaatsverandering verband hou.

Hy het in die redaksiekommissie van Environmental Ethics(1996-2005), wat in die VSA gebaseer is, gedien en hy is/was ook:

  • lid van die redaksiekommissie van die Journal of Agricultural and Environmental Ethics, wat in Nederland gebaseer is (Januarie 2007-2016);
  • lid van die World Commission on the Ethics of Scientific Knowledge and Technology (Wêreldkommissie oor die Etiek van Wetenskaplike Kennis en Tegnologie; COMEST) van UNESCO (van 2004 – 2011), waar hy ook 2005 tot 2011 as rapporteur in die uitvoerende raad gedien het;
  • sameroeper van ʼn COMEST-werksgroep oor omgewingsetiek wat op die etiese kwessies wat met klimaatsverandering verband hou, gefokus het;
  • president van BEN-Africa (die Business Ethics Network – Africa) van 2008 tot 2011;
  • voorsitter van die Navorsingsetiekkomitee van die WNNR van 2009 tot 2011;
  • voorsitter van die Navorsingsetiekkomitee: Menslike Navorsing (Humaniora) van die Universiteit Stellenbosch van 2006 tot 2011;
  • lid van ECRA, die Etiekkomitee vir Navorsing op Diere van die Mediese Navorsingsraad van Suid-Afrika (tot 2011); en
  • president van ʼn ad hoc-groep kenners wat in 2016 deur die Direkteur-Generaal van UNESCO saamgeroep is om ʼn verklaring van etiese beginsels ten opsigte van klimaatsverandering op te stel (wat in Desember 2017 deur die Algemene Konferensie van UNESCO aanvaar is).
johan-hattingh