Breadcrumb
Departement Filosofie
Welkom by die Departement Filosofie
Die Filosofiedepartement bied 'n opwindende verskeidenheid kursusse en programme vanaf voorgraadse tot op PhD-vlak aan, gelei deur internasionaal-erkende navorsers met kundigheid in 'n wye reeks vakgebiede, insluitend morele filosofie, wetenskapsfilosofie, kritiese sosiale teorie en meer. Ons ondersoek grondliggende vrae oor die wêreld en ons plek daarin, onder andere: Wat is werklik? Hoe kan ons met enige sekerheid iets weet? Wat is reg en wat is verkeerd? Bestaan God? Hoe sou 'n beter samelewing lyk? Het diere regte? Studente word aangemoedig om hul eie filosofiese denkvaardighede te ontwikkel, om radikale onsekerheid te navigeer, en om 'n intellektuele avontuur aan te pak, waar alles bevraagteken en heroorweeg kan word.
Filosofie leer kritiese lees-, denk- en denkvaardighede aan, wat dit 'n ideale aanvulling tot 'n wye verskeidenheid ander studiegebiede maak, insluitende regte, politieke studies, geskiedenis en joernalistiek.
Wat is filosofie?
Filosofie is eerstens eerder ʼn denkwyse as ʼn vasgestelde kenniskorpus. Meer besonder is filosofie die praktyk van dink oor wat, waarom en hoe ons dink. Hierdie ‘denke oor denke’ behels die vra van vrae oor wat ons weet en glo, oor wat ons dink waar en vals, reg en verkeerd, regverdig en onregverdig, werklik en onwerklik, waardevol en waardeloos is, die verband tussen taal en die werklikheid, die aard van bewussyn, vryheid, geregtigheid, waarheid, geluk, goedheid en nog talle ander onderwerpe.
Die doel van hierdie filosofiese bevraagtekening is tweeledig – om ons eie denke op te klaar en te bepaal of ons goeie redes vir ons denkwyse het. Die redes vir ons oortuigings en die geldigheid van daardie redes het ʼn direkte impak op die betroubaarheid van daardie oortuigings. En sodra dit aangebied word, stel hierdie redes hulleself vir evaluering deur ander beskikbaar. Filosofie bied dus nie gemaklike sekerhede nie, maar ʼn intellektuele avontuur waar alles bevraagteken en geherassesseer kan word.
Terselfdertyd bied filosofie aan ons die middele vir die hantering – eerder as die oorkoming of ontkenning – van radikale onsekerheid. Die waarde van filosofie is dat dit ons leer om die perke van ons kennis te herken, sonder om ons oor te gee aan hopeloosheid in die aangesig van wat ons nie weet nie.