Breadcrumb
Departement Filosofie
Welkom by die Departement Filosofie
Die Departement Filosofie van die Universiteit Stellenbosch is een van die mees vooraanstaande in Afrika en bied ʼn uitstekende opvoeding van voorgraadse tot op PhD-vlak. Ons personeel is almal internasionaal erkende navorsers met kundigheid op ʼn groot verskeidenheid gebiede, waaronder morele filosofie, die filosofie van wetenskap, die filosofie van die bewussyn en kognisie, metafisika, die filosofie van taal, Afrika-filosofie, fenomenologie, politieke filosofie, feministiese teorie, kritiese regsteorie en kritiese sosiale teorie. Ons het ook die bekende Sentrum vir Toegepaste Etiek, met navorsingseenhede wat aan bio-etiek, sake-etiek, omgewingsetiek, en maatskaplike en politieke etiek gewy is. Vir meer inligting oor spesifieke programme of inisiatiewe, klik gerus op die onderstaande skakels.
Wat is filosofie?
Filosofie is eerstens eerder ʼn denkwyse as ʼn vasgestelde kenniskorpus. Meer besonder is filosofie die praktyk van dink oor wat, waarom en hoe ons dink. Hierdie ‘denke oor denke’ behels die vra van vrae oor wat ons weet en glo, oor wat ons dink waar en vals, reg en verkeerd, regverdig en onregverdig, werklik en onwerklik, waardevol en waardeloos is, die verband tussen taal en die werklikheid, die aard van bewussyn, vryheid, geregtigheid, waarheid, geluk, goedheid en nog talle ander onderwerpe.
Die doel van hierdie filosofiese bevraagtekening is tweeledig – om ons eie denke op te klaar en te bepaal of ons goeie redes vir ons denkwyse het. Die redes vir ons oortuigings en die geldigheid van daardie redes het ʼn direkte impak op die betroubaarheid van daardie oortuigings. En sodra dit aangebied word, stel hierdie redes hulleself vir evaluering deur ander beskikbaar. Filosofie bied dus nie gemaklike sekerhede nie, maar ʼn intellektuele avontuur waar alles bevraagteken en geherassesseer kan word.
Terselfdertyd bied filosofie aan ons die middele vir die hantering – eerder as die oorkoming of ontkenning – van radikale onsekerheid. Die waarde van filosofie is dat dit ons leer om die perke van ons kennis te herken, sonder om ons oor te gee aan hopeloosheid in die aangesig van wat ons nie weet nie.