Skip to main content
Photo by Cheryl McEwan

Meet our Team

Prof. Anton van Niekerk Professor Emeritus

[email protected]

Anton van Niekerk (MA, BTh, DPhil, Lisensiaat in Teologie) is ʼn uitgelese professor in filosofie en direkteur van die Sentrum vir Toegepaste Etiek aan die Universiteit Stellenbosch. Hy spesialiseer op die gebied van bio-etiek, die filosofie van godsdiens en die filosofie van die menslike wetenskappe. Hy is die kursusdirekteur van die nagraadse programme in toegepaste etiek wat deur die Departement en die Sentrum vir Toegepaste Etiek aangebied word. Hy is die outeur, mede-outeur en redakteur van 20 boeke en meer as 150 gerefereerde vaktydskrifartikels en boekhoofstukke. Hy het ook al 32 boekresensies en meer as 170 populêre artikels geskryf. Hy word deur die Nasionale Navorsingstigting van Suid-Afrika gegradeer as ʼn navorser met aansienlike internasionale erkenning (B2), en het gedien as sameroeper van die paneel kenners wat betrokke is by die gradering van navorsers in filosofie en politieke wetenskap. Hy is deur die Minister van Gesondheid aangestel en het drie jaar lank (2014-2016) gedien as ʼn lid van die Nasionale Gesondheidsnavorsingsetiekkomitee (NHREC), die hoogste beleidsvormende liggaam vir navorsingsetiek in die land. In 1980 het Van Niekerk die Kanseliersmedalje van die Universiteit Stellenbosch ontvang vir die beste finalejaarstudent op kampus, nadat hy al sy grade cum laude verwerf het. In 1995 het die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns die Stals-prys vir Filosofie aan hom toegeken. Hy is ʼn stigtersdirekteur en voorsitter van die direksie van die Etiekinstituut van Suid-Afrika (EthicsSA). Hy was ʼn lid van die Etiekkomitee van die Mediese Navorsingsraad (2003-2013) en van 2007 tot 2012, ʼn direkteur van die International Association of Bioethics (Internasionale Vereniging vir Bio-etiek; IAB). Hy is ook ʼn lid van die Wetenskapsakademie van Suid-Afrika (ASSAf), en ʼn lid van ASSAf se komitee vir bioveiligheid en biosekuriteit. Hy is ʼn voormalige president van die Filosofiese Vereniging van Suider-Afrika, ʼn voormalige redakteur van die South African Journal of Philosophy en ʼn voormalige lid van die Raad van die Universiteit Stellenbosch. Hy het reeds 80 referate by internasionale konferensies gelewer en was die studieleier vir 77 afgehandelde magistertesisse en 26 afgehandelde doktorale proefskrifte. In 2014 was hy een van slegs 20 professors wat deur die Universiteit Stellenbosch tot die rang van uitgelese professor bevorder is. In 2016 het die Universiteit Stellenbosch hom met die Kanselierstoekenning vereer vir ʼn loopbaan van navorsingsuitnemendheid. In 2017 is hy formeel deur die Universiteit genooi om sy aftrede (hy het in 2018 65 geword) vir nog vyf jaar; dit wil sê, tot 2023, uit te stel.

Sien ook: http://en.wikipedia.org/wiki/Anton_van_Niekerk

anton-van-niekerk