Skip to main content
Bookshelf with hardcover academic texts
Kunste, tale en sosiale wetenskappe Toekennings en mylpale

Leksikografie kraai koning by die US

Willemien Engelbrecht
24 April 2026
  • Die US beklee die toppunt van die leksikografiese navorsingslandskap as een van die invloedrykste navorsingsinstellings.

’n Bibliometriese studie wat pas in die tydskrif International Journal of Lexicography verskyn het, bied 'n analise van die leksikografiese navorsingslandskap in die tydvak 2003-2023.  Daar word onder meer gekyk na die invloedrykste navorsingsinstellings asook die invloedrykste navorsers in dié periode. 

Die inligting is gebaseer op die aantal aanhalings in navorsingsartikels uit die gesaghebbende Web of Science se databasis. Die analise verdeel die tydperk 2003-2023 in twee onderafdelings, te wete 2003-2012 en 2013-2023. 

In albei hierdie subtydvakke, en dus ook vir die tydvak as geheel, is die Universiteit Stellenbosch bo-aan die lys van invloedrykste navorsingsinstellings wat die aantal gepubliseerde artikels betref. Wat invloedrykste navorsers betref, gemeet aan hoe gereeld hulle aangehaal is, vaar Stellenbosch ook besonder goed. 

Prof Rufus Gouws, tans emeritus professor in die Departement Afrikaans en Nederlands, is onderskeidelik derde en tweede in die twee subtydvakke, maar 'n berekening vir die volle tydvak 2003-2023 as geheel plaas hom bo-aan die lys. Proff. Henning Bergenholtz en Sven Tarp, twee buitengewone professore in die Departement Afrikaans en Nederlands in die betrokke tydvakke, is onderskeidelik derde en vierde op die lys vir die tydperk 2003-2023.

(Bron: Zhang, S., Zhang X, Xu, H. & Hu, X. 2026. A bibliometric study of lexicography between 2003 and 2023. International Journal of Lexicography 39: 1-18.)



 

Verwante stories