Breadcrumb
Voorgraadse modules
Die Departement Afrikaans en Nederlands bied voorgraads twee strome aan: Afrikaanse Taalaanleer en Afrikaans en Nederlands. Afrikaanse Taalaanleer is vir studente wat nie Afrikaans Huistaal op skool gehad het nie, maar wat belangstel om Afrikaanse taal en kultuur te bestudeer.
Afrikaans en Nederlands is vir studente wat Afrikaans Huistaal en Afrikaans Eerste Addisionele Taal op skool gehad het en wat Afrikaanse en Nederlandse letterkunde en taalkunde wil bestudeer.
Modules
AFRIKAANS AS EERSTE TAAL
Afrikaans en Nederlands 178
Waar kom Afrikaans vandaan, waarheen is dit op pad en wie s’n is dit nou eintlik? En is anglisismes regtig ’n doodsonde? In hierdie module kyk ons na al die fasette van hierdie taal wat ook ’n identiteit, ’n kultuur en, soms, ’n stereotipe is. Ons kyk na die verband tussen Nederlands en Afrikaans, en ook die ander tale wat tot die ontstaan van Afrikaans bygedra het. Ons lees prosa en poësie, oefen ons skryfvaardighede, leer oor klanke en betekenis, en kyk na interessante debatte en onderwerpe in en om die taal. Daar is selfs ’n Nederlandse avontuur!
AFRIKAANS AS TWEEDE TAAL
Afrikaanse Taalaanleer 189
Afrikaans is nie Grieks nie! Kom luister en lees die taal en voor jy kan sê “My ouma in kaneel” kaneel” gooi jy die taal dat dit klap. Hierdie module is vir studente wat nie moedertaalsprekers van Afrikaans is nie en Afrikaans as tweede taal in Graad 12 geslaag het. Verbeter jou vaardighede in Afrikaans vir suksesvolle studie en meer beroepsmoontlikhede. Ons sal fokus op strategiese leesvaardighede en luistervermoë, gevorderde interaksie rondom tekste, visuele media en films, asook praatvaardigheid.
AFRIKAANS AS 'N VREEME TAAL
Afrikaanse Taalaanleer 179
Hierdie is 'n module vir sprekers met geen formele kennis van Afrikaans of wat dit as 'n derde taal in Graad 12 geslaag het. Verbeter jou vaardighede in Afrikaans vir suksesvolle studie- en loopbaangeleenthede deur by ons kursus aan te sluit. Ons sal fokus op woordeskatverbetering, strategiese luister en lees, en elementêre interaksie in Afrikaans rondom tematies verwante tekste. Kom ons geniet dit in Afrikaans!