Skip to main content

Intreerede: Professor Hafizah Yousuf Chenia

Datum: 23 Junie 2026 17:30 - 23 Junie 2026 19:30
Voeg by jou kalender: Google | Apple | Outlook
Gehoor:
Gebeurtenistipe:
Vergaderplek:
STIAS

Kontakbesonderhede

Institutional Events
Prof Hafizah Yousuf Chenia

 

Sluit by ons aan vir prof Hafizah Yousuf Chenia se professorale intreerede – Die natuur se fluisteraars – kyk verder as antibiotika om mikrobiese gesprekke te stop, aangebied deur die Fakulteit Natuurwetenskappe.

Professor Hafizah Yousuf Chenia
Groepleier: MARQ-BioNano
Departement Mikrobiologie
Fakulteit Natuurwetenskappe
Titel: Die natuur se fluisteraars – kyk verder as antibiotika om mikrobiese gesprekke te stop

Besonderhede:
Datum: Dinsdag 23 Junie 2026
Tyd: 17:30 SAST
Plek: STIAS, Wallenberg Navorsingsentrum, Maraisstraat 10, Stellenbosch
Formaat: Hibriede geleentheid

Klik hier om vir in-personoon-bywoning te RSVP.
Klink hier om vir aanlyn bewoning te RSVP.


Die natuur se fluisteraars – kyk verder as antibiotika om mikrobiese gesprekke te stop

Mikro-organismes kommunikeer, werk saam en pas aan deur komplekse sosiale interaksies wat hulle in staat stel om oppervlakke te koloniseer, biofilms te vorm, virulensie te koördineer en in vyandige omgewings te oorleef. Prof Hafizah Y. Chenia verken in haar intreerede hoe die studie en ontwrigting van hierdie mikrobiese ‘gesprekke’ innoverende alternatiewe oplossings kan bied vir een van die dringendste wêreldwye uitdagings van ons tyd: antimikrobiese weerstandigheid.

Na aanleiding van meer as twee dekades se navorsing neem die lesing ons op ’n reis van wetenskaplike evolusie, van die studie van antimikrobiese weerstandigheidsmeganismes by kliniese patogene tot die verkenning van mikrobiese ekologie, mariene mikrobiologie, antivirulensieterapieë en nanobiotegnologie as onderling verwante benaderings tot volhoubare infeksiebeheer. Die hoofdoel van hierdie werk is om mikrobiese kommunikasie te stop deur kworumwaarneming te strem en biofilmvorming te ontwrig, en sodoende patogenisiteit te verminder sonder om uitsluitlik op die vernietiging van bakterieë staat te maak.

Die lesing beklemtoon die terapeutiese potensiaal van mariene en plantverwante mikro-organismes, waaronder koraalverwante bakterieë, sponssimbionte, seewierverwante mikrobes en bakteriese endofiete, as bronne van samestellings wat kworumwaarneming, biofilmvorming, mikrobes en kanker teenwerk. Boonop ondersoek die lesing biologies gevormde nanodeeltjies en nanodeeltjiegebaseerde teenbesoedelingstegnologieë wat ontwerp is om mikrobiese kolonisasie in mediese, akwakultuur- en mariene stelsels op ’n omgewingsvolhoubare manier te voorkom. Die ekologiese aspekte van antimikrobiese weerstandigheid word ook bestudeer, soos hoe resistome, plasmiede, integrone en horisontale geenoordrag veroorsaak dat weerstandigheid tussen onderling verwante menslike, omgewings-, landbou- en waterstelsels versprei. Uit sowel ’n internasionale as Suid-Afrikaanse oogpunt bespreek die lesing hoe mikrobiese ekologie, biotegnologie-innovasie en navorsingsgegronde onderwys tot prioriteite op die terrein van gesondheid, watersekerheid, akwakultuur, die oseaan-ekonomie en wetenskaplike vermoëbou kan bydra.

Tussendeur hierdie wetenskaplike narratief dink prof Chenia na oor haar reis as ’n mikrobioloog, opvoeder, mentor en navorsingsleier, en toon sy hoe navorsing, onderrig, nagraadse studieleiding en opvoedkundige innovasie haar benadering tot akademieskap en wetenskaplike leierskap gevorm het. Uiteindelik voer die lesing aan dat ’n meer volhoubare en weerstandigheidsbewuste toekoms in die geneeskunde, biotegnologie en omgewingsbewaring binne ons bereik is as ons na die mikrobiese ‘gefluister’ luister.

Biografie

Prof Hafizah Y. Chenia is ’n professor in die Departement Mikrobiologie aan die Universiteit Stellenbosch (US). Sy verwerf haar HonsBSc- en MSc-graad cum laude en voltooi ook haar PhD in Mikrobiologie aan die voormalige Universiteit van Durban-Westville, waar haar vroeë navorsing oor antimikrobiese weerstandigheidsmeganismes by Neisseria gonorrhoeae handel. Sy begin haar akademiese loopbaan in 2002 aan die US voordat sy haar in 2008 by die Universiteit van KwaZulu-Natal aansluit, waar sy ’n navorsingsprogram oor mikrobiese ekologie, antivirulensieterapieë, antimikrobiese weerstandigheid en mariene biotegnologie tot stand bring. In 2025 keer sy terug na die US.

Prof Chenia se navorsing verken innoverende strategieë om mikrobiese patogenisiteit te bestry deur op bakteriese kommunikasie, biofilmvorming en virulensie eerder as net bakteriese oorlewing te konsentreer. Haar werk integreer mikrobiese ekologie, die ontdekking van natuurlike produkte, mariene mikrobiologie, nanobiotegnologie en toepassingsbiotegnologie om volhoubare alternatiewe vir konvensionele antibiotika te ontwikkel. Haar navorsingsgroep ondersoek metodes om kworumwaarneming te strem, samestellings wat biofilmvorming teenwerk, koraalprobiotika, biogeniese nanodeeltjies, antimikrobiese weerstandigheidsekologie, en natuurgebaseerde terapeutiese benaderings wat van mariene en plantverwante mikro-organismes gebruik maak.

Sy het al meer as 70 ewekniebeoordeelde publikasies die lig laat sien, etlike honneurs-, MSc- en PhD-studente van studieleiding voorsien, en neem aktief deel aan internasionale navorsingsprojekte saam met kollegas in Afrika, Europa, Asië en Suid-Amerika. Prof Chenia beskik oor ’n C2-gradering van die Nasionale Navorsingstigting en is al vir haar leierskap op sowel navorsings- as opvoedkundige gebied erken, soos met haar deelname aan die Amerikaanse Vereniging vir Mikrobiologie se leierskapsprogram vir internasionale opvoeders. Sy is tans ingeskryf vir die US se kursus Akademieskap van Onderwysleierskap. Benewens haar navorsingsbydraes is sy ten diepste verbind tot nagraadse mentorskap, aktiewe leer, innovasie in gemengde leer, en die verantwoordelike integrasie van generatiewe KI in onderrig en leer op hoëronderwysvlak.

Deur haar akademieskap, onderrig en mentorskap gaan prof Chenia voort om volhoubare mikrobiologie, weerstandigheidsbewuste terapieë en biotegnologie-innovasie te bevorder, en op dié manier tot wêreldwye gesondheid en omgewingsvolhoubaarheid by te dra.