Intreerede: Professor Rika Preiser
Kontakbesonderhede
Sluit by ons aan vir prof Rika Preiser se professorale intreerede – Wêrelde in wording: navorsing oor kompleksiteit en transformerende verandering, aangebied deur die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe.
Professor Rika Preiser
Medebekleër: UNESCO-leerstoel in Kompleksiteit en Transformerende Afrikatoekomste
Sentrum vir Volhoubaarheidsoorgange
Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe
Titel: Wêrelde in wording: navorsing oor kompleksiteit en transformerende verandering
Besonderhede:
Datum: Dinsdag 4 Augustus 2026
Tyd: 17:30 SAST
Plek: Kamer 1046, Van der Sterr-gebou, Victoriastraat, Stellenbosch, 7600
Formaat: Hibriede geleentheid
Klik hier om vir in-persoon-bywoning te RSVP.
Klink hier om vir aanlyn bewoning te RSVP.
Wêrelde in wording: navorsing oor kompleksiteit en transformerende verandering
Hoe reageer ons op ’n wêreld wat deur onsekerheid, onderlinge verbondenheid en voortdurende verandering gekenmerk word? Prof Rika Preiser besin in haar intreerede oor twee dekades se navorsing op die kruispunt van kompleksiteitswetenskap, sosiaal-ekologiese stelsels, en volhoubaarheids- en toekomsdenke. Deur die lens van kompleksiteitswetenskap, wat ons help verstaan hoe en watter ontwikkelende verhoudings ons wêreld vorm, verken die lesing hoe navorsing ons begrip van transformerende verandering kan verdiep en tot die nodige kennis, sienings en vermoëns kan bydra om meer regverdige, herlewingsgerigte en volhoubare toekomste te skep.
Biografie
Rika Preiser is ’n professor en medebekleër van die UNESCO-leerstoel in Kompleksiteit en Transformerende Afrikatoekomste in die Sentrum vir Volhoubaarheidsoorgange aan die Universiteit Stellenbosch (US). Sy het sowel haar PhD in Filosofie as haar MPhil-grade in onderskeidelik Organisatoriese Verandering en Media-etiek aan die US verwerf.
Haar akademiese werk is gewortel in filosofie, wat sy in navorsing oor volhoubaarheid en sosiaal-ekologiese stelsels toepas. In haar werk op die kruispunt van kompleksiteitsdenke en omgewingsfilosofie verken sy deelnemende navorsingsmetodes en teoretiese raamwerke om komplekse aanpasbare stelsels te verstaan op maniere wat meer etiese en verantwoordelike optrede in onseker en veranderlike omstandighede moontlik maak. Haar werk konsentreer op die ontwikkeling van relasionele en kompleksiteitsgegronde benaderings tot navorsing en praktyk wat die nodige vermoëns skep om onsekerheid te hanteer en tot meer regverdige en volhoubare toekomste by te dra.
As medebekleër van die UNESCO-leerstoel, dra Rika by tot hoëvlakbeleidsgesprekke oor Afrikatoekomste en transformerende wetenskap in internasionale wetenskapbeleidsforums. Sy dien in die uitvoerende komitee van die Internasionale Federasie vir Stelselsnavorsing én in die eindredaksie van verskeie toonaangewende stelselsvaktydskrifte.