Intreerede: Professor Reza C. Daniels
Kontakbesonderhede
Sluit by ons aan vir prof Reza C. Daniels se professorale intreerede – Data + teorie = beleid? Die toegepaste ekonoom se epistemologiese uitdaging, aangebied deur die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe.
Professor Reza C. Daniels
Dekaan
Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe
Titel: Data + teorie = beleid? Die toegepaste ekonoom se epistemologiese uitdaging
Besonderhede:
Datum: Dinsdag 28 Julie 2026
Tyd: 17:30 SAST
Plek: Kamer 1046, Van der Sterr-gebou, Victoriastraat, Stellenbosch, 7600
Formaat: Hibriede geleentheid
Klik hier om vir in-persoon-bywoning te RSVP.
Klink hier om vir aanlyn bewoning te RSVP.
Data + teorie = beleid? Die toegepaste ekonoom se epistemologiese uitdaging
Daar word dikwels van ekonome verwag om samelewings te help groei of om ekonomiese agteruitgang te voorkom. Of ekonome betroubare advies kan bied, hang egter daarvan af of die inligting wat hulle gebruik ’n akkurate weerspieëling is van die toestande wat mense, firmas, gemeenskappe, openbare instellings en die natuurlike omgewing ervaar. Hierdie intreerede gebruik Reza Daniels se akademiese portefeulje om te verduidelik waarom data en teorie nié altyd tot sinvolle beleidsgevolgtrekkings lei nie. Anders gestel, is die epistemologiese uitdaging in wese die volgende: Hoe weet ekonome wat hulle dínk hulle weet? Wanneer data ’n onakkurate weerspieëling van die tersaaklike probleme is, is teorie dalk nie meer so nuttig nie, en kan afleidings op grond van die data dikwels swak beleidsontwerp tot gevolg hê. Dít kan die drie vorme van sistemiese mislukking waarvoor ekonome dikwels na beleidsoplossings moet soek – markmislukking, regeringsmislukking en netwerkmislukking – vererger eerder as verminder. Markmislukking gebeur wanneer privaat handel hulpbronne ondoeltreffend toewys. Regeringsmislukking gebeur wanneer openbare intervensies swak geteiken is, power geïmplementeer word, of nie kan leer nie. Netwerkmislukking gebeur wanneer die mense en instellings wat moet koördineer, kennis uitruil en vertroue bou, nie goed genoeg verbind is nie. Die lesing bied ’n teorie van verandering aan op grond van Daniels se werk: Begin met ’n ekonomiese probleem, ongeag of dit met meting, groei of stagnasie verband hou; identifiseer so ver moontlik die ware toestand agter die sigbare simptoom; begryp hoe daardie toestand in data weerspieël word; toets die meganisme wat die teorie voorstel; ontwerp beleid sodat implementering waargeneem kan word; en leer uit wat gebeur. Hierdie benadering word dan gedemonstreer aan die hand van Daniels se werk oor verdienste, welvaart, firma-innovasie, informaliteit, skokke in die arbeidsmark, omgewingsgedrag en regverdige oorgange. Die hoofboodskap? Ekonome moet doelbewus daaraan werk om te verstaan hoe waargenome data dalk nié ’n weerspieëling is van die ekonomiese toestande wat dit veronderstel is om te meet nie, en moet dan gepas optree om die betrokke probleme te hanteer en geskikte beleidsoplossings te ontwikkel.
Biografie
Reza C. Daniels is ’n professor in Ekonomie sowel as Dekaan van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch. Hy dien ook as ereprofessor in die Fakulteit Ekonomie aan die Universiteit van Kaapstad. Reza het aan die universiteite van Auckland, Michigan en Kaapstad studeer en sy PhD in Ekonomie aan laasgenoemde instelling verwerf. Sedertdien het sy werk al in verskeie ewekniebeoordeelde vaktydskrifte verskyn, en tree hy gereeld op as redakteur vir sowel plaaslike as internasionale tydskrifte.
As ’n lid van die Ekonomiese Vereniging van Suid-Afrika, die Amerikaanse Ekonomiese Vereniging, die Ekonometriese Vereniging en die Internasionale Statistiese Instituut, word sy kundigheid sowel binne as buite die akademie op prys gestel. Die Wetenskapakademie van Suid-Afrika het Reza in 2024 in die organisasie se Staande Komitee oor Wetenskap vir die Vermindering van Armoede en Ongelykheid aangestel. Hy is ook vroeër vanjaar aangestel in die Bio-ekonomie-ouditkomitee van Suid-Afrika se Nasionale Adviesraad oor Innovasie (NACI), wat die regering adviseer oor die rol van wetenskap, wiskunde, innovasie en tegnologie om ons land se doelwitte te help bereik.
Daarbenewens was Reza al konsultant vir sowel die openbare as privaat sektor en vir internasionale ontwikkelingsbanke. Hy is ’n lid van die Instituut van Direkteure Suid-Afrika en het al in verskeie sektore as uitvoerende en nie-uitvoerende direksielid gedien, waaronder vervaardiging, konsultasie, navorsing en ontwikkeling, universiteite, organisasies sonder winsoogmerk, en filantropie. In sy hoedanigheid as genoot van die Afrikaleierskapsinisiatief en die Aspen-wêreldleierskapsnetwerk dra hy graag tot positiewe verandering in die samelewing by.