Skip to main content

Intreerede: Professor Anass Bayaga

Datum: 18 Augustus 2026 17:30 - 18 Augustus 2026 19:30
Voeg by jou kalender: Google | Apple | Outlook
Gehoor:
Gebeurtenistipe:
Vergaderplek:
STIAS

Kontakbesonderhede

Institutional Events
Prof Anass Bayaga

 

Sluit by ons aan vir prof Anass Bayaga se professorale intreerede – Van syfers tot senuweepaaie: die herontwerp van wiskundige kognisie noudat mens en KI konvergeer, aangebied deur die Fakulteit Opvoedkunde.

Professor Anass Bayaga
Waarnemende direkteur: Instituut vir Digitale Innovasie en Leer
Kurrikulumstudie
Fakulteit Opvoedkunde
Titel: Van syfers tot senuweepaaie: die herontwerp van wiskundige kognisie noudat mens en KI konvergeer

Besonderhede:
Datum: Dinsdag 18 Augustus 2026
Tyd: 17:30 SAST
Plek:  STIAS, Wallenberg Navorsingsentrum, Maraisstraat 10, Stellenbosch
Formaat: Hibriede geleentheid

Klik hier om vir in-persoon-bywoning te RSVP.
Klink hier om vir aanlyn bewoning te RSVP.


Van syfers tot senuweepaaie: die herontwerp van wiskundige kognisie noudat mens en KI konvergeer

Prof Anass Bayaga ondersoek in sy intreerede hoe wiskundeonderwys op die toenemende konvergensie van menslike intelligensie, masjienintelligensie en ontluikende kognitiewe tegnologieë moet reageer. Die uitgangspunt vir die lesing is ’n bekende onderwysprobleem: ’n Leerder kom dalk met ’n korrekte antwoord vorendag, maar kan nie die denke agter daardie antwoord verduidelik nie. Hierdie onderskeid tussen prestasie en begrip is die grondslag waarop prof Bayaga se kernargument oor die toekoms van onderrig en leer berus.

Die lesing voer aan dat tegnologiese vooruitgang in die hoër onderwys gevaar loop om kognitiewe vooruitgang verby te steek. As gevolg van kunsmatige intelligensie (KI), leeranalitika, outomatisering en immersiewe tegnologieë is instellings tot meer in staat, en tog reproduseer baie stelsels steeds konvensionele leermodelle. Dus word toegang, spoed en doeltreffendheid dalk verbeter, maar met gebrekkige aandag aan hoe leerders redeneer, visualiseer en onthou, hoe hulle denkfoute regstel, en hoe hulle kennis op onbekende probleme toepas. Ons verantwoordelikheid is dus nie bloot om die onderwys te digitaliseer nie, maar om leeromgewings te ontwerp wat kognitief sinvol, kontekstueel responsief en eties verantwoordbaar is.

Die lesing volg die spoor vanaf outomatisering tot verpersoonliking, immersie en kognitiewe interaksie om te verduidelik waarom wiskunde die grondslag van KI bly. Masjienleerstelsels ontwikkel deur rekursiewe kringlope van probeerslae, terugvoering, aanpassing en verfyning. Menslike leer volg ’n soortgelyke patroon, maar behou terselfdertyd duidelike dimensies van betekenis, wil, ervaring en konteks. Intelligente stelsels kan aspekte van leer meer sigbaar en responsief maak, mits dit gebruik word om begrip te verdiep eerder as om net prestasie te bespoedig.

Prof Bayaga se bydrae lê op die kruispunt van neurokognitiewe wetenskap, KI, en die interaksie tussen mens en rekenaar. Sy navorsingstrajek begin by wiskundekognisie en denkfoute by leerders, en beweeg dan na metakognisie, dinamiese visualisering en tegnologieversterkte leer, tot by KI-gesteunde en aanpasbare stelsels. Die lesing bepaal drie risiko’s wat hanteer moet word: foutiewe kognitiewe belyning, generiese KI wat by prestasie aanpas sonder om kognitiewe verskille te erken, en etiese probleme of onbillikheid as gevolg van sydige data en kontekslose ontwerp.

Die lesing sluit af met ’n voorgestelde toekomsplan wat draai om kognitiewe versterking, verantwoordelike samewerking tussen mens en KI, etiese neurotegnologieë, en interdissiplinêre navorsing op die terreine van onderwys, rekenaarkunde en kognitiewe wetenskap. In Afrika- en ander hulpbronbeperkte omgewings vereis dít stelsels wat taal-, kulturele en opvoedkundige diversiteit erken en terselfdertyd mense se wil respekteer. Uiteindelik sal die toekoms van wiskundeonderwys nie bepaal word deur hoeveel tegnologie ons gebruik nie, maar deur die mate waarin intelligente stelsels mense dieper help dink, meer kritiese vrae help vra, en met meer betekenis help leer.
 

Biografie

Anass Bayaga is ’n volprofessor in die Departement Kurrikulumstudie van die Fakulteit Opvoedkunde aan die Universiteit Stellenbosch (US) en dien as waarnemende direkteur van die Fakulteit se Innovasie- en Leerinstituut. Hy het meer as 18 jaar ondervinding in die hoër onderwys, en sy loopbaan sluit onderrig, navorsing, nagraadse studieleiding, akademiese leierskap, kurrikuluminnovasie en internasionale samewerking in.

Sy akademiese werk lê op die kruispunt van wiskundekognisie, neurokognitiewe verbetering in STEM (wetenskap, tegnologie, ingenieurswese en wiskunde), die interaksie tussen mens en KI, en datagegronde modellering. Prof Bayaga se navorsing ondersoek hoe leerders wiskundige en wetenskaplike kennis ontwikkel, voorstel en toepas, met ’n bepaalde klem op ruimtelike visualisering, syferkognisie, verstandelike rotasie, metakognisie, probleemoplossing en tegnologiebemiddelde leer. Deur ál sy werk loop die volgende vraag: Hoe ontwikkel denke, en hoe kan dit deur pedagogiese, tegnologiese en rekenaarkundige intervensies versterk word?

Prof Bayaga het ’n PhD in Inligtingstelsels aan die Universiteit van Kaapstad sowel as ’n PhD in Opvoedkunde aan die Universiteit van Fort Hare verwerf. Hy beskik ook oor die grade MCom in Inligtingstelsels, MEd, en HonsBEd in Wiskunde. Sy interdissiplinêre kennisbasis is verder versterk deur nagraadse studie in Datawetenskap en Bedryfsanalitika deur die Universiteit van Texas, Austin, en nagraadse opleiding in Aktuariële Wetenskap deur die Universiteit van Leicester.

Voordat hy hom in 2025 by die US aangesluit het, het hy senior akademiese en leierskapsposte by die Universiteit van Wes-Kaapland, Nelson Mandela Universiteit, die Universiteit van Zululand sowel as die Universiteit van Fort Hare beklee. In ál hierdie rolle het hy tot programontwikkeling, kurrikulumvernuwing, navorsingsvermoëbou, gehalteversekering en die strategiese integrasie van ontluikende tegnologieë in onderrig en leer bygedra.

Sy navorsingsgeskiedenis sluit meer as 80 ewekniebeoordeelde artikels oor die onderwys, inligtingstelsels, kunsmatige intelligensie (KI) sowel as STEM-leer in. Sy werk het al in vaktydskrifte soos Education and Information Technologies, Computers in Human Behavior Reports, Computers & Education, Telematics and Informatics Reports, Discover Education en Frontiers in Education verskyn. Sy onlangse studies gebruik strukturele vergelykingsmodellering, kunsmatige senuweenetwerke, PLS-SEM (strukturele vergelykingsmodellering van gedeeltelike kleinste kwadrate), epistemiese netwerkontleding en voorspellingsanalitika om KI-gesteunde leer, STEM-kognisie, tegnologiegebruik en billikheid in die onderwys te ondersoek. Met sy werk streef hy na ’n onderwystoekoms waar intelligente tegnologieë menslike oordeel verbeter en wêreldwye KI-vooruitgang met die realiteite van Afrikaklaskamers, -instellings en -gemeenskappe verbind.

As ’n voormalige Fulbright-beursontvanger, het prof Bayaga by George Washington-universiteit in die Verenigde State navorsing onderneem. Ander internasionale projekte sluit in samewerking met Michigan-staatsuniversiteit en die Appalachiese staatsuniversiteit (albei in die Verenigde State), die Universiteit van Umeå (Swede), die Universiteit van Coventry (Verenigde Koninkryk), en die Afrika-instituut vir Wiskundige Wetenskappe in Ghana. Boonop is hy ’n stigterslid en medeleier van die tematiese groep oor digitale transformasie en ontluikende tegnologieë van CoEASE (’n konsortium vir STEM-onderwys in Europa en Afrika).

Hy dien as nagraadse studieleier op verskeie terreine, waaronder wiskundekognisie, KI in die onderwys, mobiele en aanpasbare leer, robotika, rekenaardenke en wolkrekenaarkunde. Hy dra ook tot die breër sektor by as eindredaksielid en gasredakteur van vaktydskrifte, en as ewekniebeoordelaar en evalueerder van navorsing, onder meer vir projekte van die Raad op Hoër Onderwys en die Wetenskapakademie van Suid-Afrika. Daarbenewens is prof Bayaga ’n lid van die Association for Computing Machinery (ACM), ’n wêreldwye beroepsvereniging, sowel as van die Mixed Methods International Research Association (MMIRA).