Veelsydige student ontvang fakulteit se hoogste toekenning
As Niel Botha sê hy was verras om die 2019 CGW Schumann-medalje vir die beste nagraadse student in die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe (EBW) te ontvang, glo jy hom.
Sien, dié nederige nagraadse student is nie die soort wat sy eie beuel blaas nie. Inteendeel, hy laat liewer sy dade – van sy wedervaringe op the sportveld tot sy akademiese prestasies tot sy werk in die gemeenskap – die praatwerk doen. Dis ander wat waarneem, hom bewonder en sy lof besing.
Soos die Departement Statistiek en Aktuariële Wetenskap wat hom vir die toekenning benoem het en die EBW-fakulteitskomitee wat hom as die mees geskikte kandidaat beskou het.
Botha (23) het die Schumann-medalje, wat na die Fakulteit se baanbrekerdekaan* vernoem is en sedert 1986 jaarliks toegeken word, tydens 'n oorhandigingsplegtigheid op Stellenbosch op Vrydag, 26 Julie ontvang. Die toekenning is die hoogste eer wat die Fakulteit aan 'n student kan betoon.
Botha het die volgende oor sy toekenning gesê: “Dis iets wat ek geensins verwag het nie; dit was 'n groot verrassing! Ek het die e-pos wat my ingelig het dat ek die ontvanger van die medalje was, twee maande gelede ontvang. Ek was nie eers bewus van my benoeming nie. Ek beskou dit as 'n groot eer en 'n voorreg."
Volgens prof Ingrid Woolard, dekaan van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, is Botha – wat die grade BCom (Aktuariële Wetenskap) en HonsBCom (Aktuariële Wetenskap) cum laude verwerf het – 'n waardige wenner.
“Dis nie net sy uitmuntende akademiese rekord wat hom onderskei nie, maar sy volgehoue deelname aan sosiale impakaktiwiteite en sport op 'n baie hoë vlak, spreek ook boekdele. Hy is 'n groot inspirasie vir ons en sy medestudente," het sy gesê.
Gedurende sy studiejare (2014-2018) het Botha as 'n veelsydige bouler vir sowel Maties en Boland op die krieketveld geskitter. Op gemeenskapsvlak het hy as tutor opgetree vir kinders in agtergeblewe skole en het hy vir Maties Krieket met afrigtingsklinieke gehelp.
“Ek was nog altyd baie mededingend, veral as dit by sport kom. Maar uiteidelik is my groot motiveerder om 'n verskil te maak. Dit hou jou voete plat op die aarde en maak van jou 'n beter en eerbare mens," sê Botha.
Hierdie Stellenbosse boorling, wat hoop om eendag 'n loopbaan in finansies te volg, vertrek in September na die Verenigde Koninkryk waar hy hoop om sy meestersgraad in Finansies aan Cambridge Universiteit te verwerf.
“Ek het aanvanklik eers aansoek gedoen vir 'n beurs om aan Oxford Universiteit te studeer, maar dit het deur die mat geval. Iemand het my toe na Cambridge verwys en omdat ek baie van die MPhil-kursus hou wat hulle aanbied, het ek besluit om aansoek te doen en is daarvoor aanvaar.
“My grootste uitdaging was om finansiering te kry om my onderriggelde en verblyfuitgawes vir die jaar lange kursus te dek. Gelukkig kon ek daarin slaag om 'n nagraadse beurs van die Skye Stigting te kry. Skye is deur die Zylstra-gesin gestig en ken jaarliks beurse toe aan nagraadse studente wat deur die dekane van hul fakulteite genomineer word."
Ironies genoeg het Botha byna 'n heel ander rigting ingeslaan toe hy in 2014 sy studies aan US begin het.
“Ek was geregistreer om Rekeningkunde te studeer, maar het op die laaste oomblik van plan verander. Miskien was dit die invloed van my broer en ˈn familielid wat albei besig was om Aktuariële Wetenskap by US te studeer. Ek is net bly dat ek die regte besluit geneem het en dat ek my wiskundige vermoëns beter kon benut."
Dié voormalige leerder van Paul Roos Gimnasium het in 2013 gematrikuleer en is die jongste lid van 'n gesin wat diep spore in Stellenbosch getrap het. Sy ma, Wouri, en pa, Dewald, 'n voormalige Matie en bekende gholfspeler, is albei tandartse. Sy ouer broer, Dewald, het ook Aktuariële Wetenskap aan US studeer en die krieketspanne van Maties en Boland aangevoer. Sy oudste broer, Ian, werk tans in Johannesburg en het Ingenieurswese aan US studeer. Sy oupa, Felix Botha, was 'n professor in Sielkunde by US.
Die jong Botha lyk oorgehaal om in hulle voetspore te volg.
* Prof CGW Schumann, pioniersdosent van die fakulteit sedert 1924, asook dekaan vir 'n kwarteeu vanaf 1935, het 'n reuse-bydrae tot die uitbou van die fakulteit gemaak.
- Foto deur Anton Jordaan: Niel Botha, wenner van vanjaar se CGW Schumannmedalje vir die beste nagraadse student in die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch, by sy ouers, mnr Dewald en mev Wouri Botha, wat albei tandartse is.