Skip to main content
Jan H Marais-prys vir uitsonderlike bydraes tot Afrikaans

Jan H Marais-prys vir uitsonderlike bydraes tot Afrikaans

Daniel Bugan
27 Mei 2021

Proff Ina Wolfaardt-Gräbe van Pretoria en Hennie van Coller van Bloemfontein deel vanjaar se Jan H Marais-prys vir uitstaande bydraes tot Afrikaans as wetenskapstaal. Die prysgeld van R500 000 word Vrydag (28 Mei 2021) by 'n geleentheid op Stellenbosch aan die wenners oorhandig.

Die Universiteit Stellenbosch (US), Het Jan Marais Nationale Fonds en Naspers het die jaarlikse Jan H Marais-prys in 2015 van stapel gestuur. Die prys heet na Johannes Henoch (Jannie) Marais (1860–1915), aan wie se visionêre steun ál drie instellings hulle ontstaan te danke het. Marais was van Stellenbosch en het in die 1870's sy fortuin saam met sy broers op die Kimberleyse diamantvelde gemaak. Hy was 'n vurige ondersteuner van Afrikaans as 'n akademiese en literêre taal, en dus is dit gepas dat die prys wetenskaplike werk en publikasies van gehalte in Afrikaans erken.

Prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die US, het proff Wolfaardt-Gräbe en Van Coller met hulle uitsonderlike prestasie gelukgewens. “Die US gee graag erkenning aan hulle bydraes tot Afrikaans as wetenskaptaal. Die US se aansienlike finansiële bydrae tot die prys getuig van ons voortgesette verbintenis tot meertalige en diverse akademiese uitnemendheid in Suid-Afrika," het hy gesê.

Albei wenners word hoog aangeslaan as literatuurwetenskaplikes van internasionale statuur. Prof Wolfaardt-Gräbe, wat haar doktorsgraad aan die destydse Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (deesdae Noordwes-Universiteit) behaal het, was van 1984 tot en met haar aftrede in 2005 verbonde aan die Universiteit van Suid-Afrika (UNISA) – eers aan die Departement Algemene Literatuurwetenskap en later die Departement Afrikaans. Sy is bekend vir haar werk as teoretikus, en as dryfkrag agter die Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 'n internasionaal gerekende Afrikaanse vaktydskrif.

“Om 'n prys te kan ontvang vir 'n lewensbydrae is verblydend, want dit beteken dat navorsing wat 'n mens tot op hede gedoen het, terugwerkend deur andere beoordeel word as 'goed' of 'goed genoeg'. Dat so 'n terugwerkende beoordeling geïnisieer is deur medenavorsers vir wie se werk ek baie respek het, is 'n bykomende rede waarom ek dié toekenning in hierdie stadium van my lewe as iets heel besonders kan koester," sê prof Wolfaardt-Gräbe. “Uiteraard is die feit dat hierdie prys vir betekenisvolle bydraes tot Afrikaans as wetenskaptaal gereserveer word, van kritieke belang op 'n tydstip waar dit algemene kennis is dat Afrikaans as onderrig- en wetenskaptaal onder druk verkeer," voeg sy by.

Prof Van Coller het op sy beurt 'n formidabele vakkundige publikasierekord as literatuurwetenskaplike, en is boonop 'n erkende digter, vertaler en prosaskrywer. Hy het sy eerste kwalifikasies aan die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) verwerf, en sy doktorsgrade aan die Universiteit van Utrecht in Nederland en die destydse Randse Afrikaanse Universiteit (RAU). Die Universiteit van die Vrystaat (UV) het hom in 1997 met 'n bevordering tot uitgelese professor vereer.

​“Ek het my lewe gewy aan Afrikaans – naas Engels, die enigste ander ontwikkelde wetenskaptaal in Suid-Afrika. Ek is daarvan oortuig dat in 'n geglobaliseerde wêreld die lokale beskerm moet word (en dit sluit artefakte, fauna, flora, mense én tale in). Afrikaans moet derhalwe ook 'n plek gegun word in veral die tersiêre sektor en openbare lewe. So nie, sal publikasies daarin kwyn. Die suksesvolle – en eties verantwoorde – onderneming én universiteit van die toekoms is die een wat hierdie balanstoertjie van lokaal en globaal suksesvol sal kan onderneem," sê prof Van Coller. Hy het ook sy dank uitgespreek teenoor sy vrou, Elsa, hulle drie dogters, skoonseun en kleinkinders vir hulle “ondersteuning, liefde en omgee oor die jare".

Die voorsitter van die keuringskomitee vir 2021 was prof Marius de Waal van die US se Fakulteit Regsgeleerdheid, wat onlangs oorlede is. Die res van die komitee het bestaan uit prof Ian Dubery (professor in biochemie aan die Universiteit van Johannesburg (UJ)), prof Albert Grundlingh (professor emeritus in geskiedenis aan die US), prof Ena Jansen (oudprofessor in Suid-Afrikaanse letterkunde aan die Universiteit van Amsterdam), prof Debra Meyer (dekaan van die Fakulteit Natuurwetenskappe aan UJ) en dr Johan van Zyl (oudrektor van die Universiteit van Pretoria (UP) en voormalige hoof van Sanlam). Prof Christof Heyns, voormalige professor in die regte aan UP, was jare lank lid van die komitee, maar is ook onlangs onverwags oorlede. Prof Andreas van Wyk, US-oudrektor, is op kort kennisgewing in prof Heyns se plek gekoöpteer.

Vorige wenners van die Jan H Marais-prys sluit in die bekende regsgeleerde prof Jean Christoph Sonnekus (2020), historikus prof Fransjohan Pretorius (2019), taalkundige prof Christo van Rensburg (2018), regsgeleerde prof Marinus Wiechers (2018), taalhistorikus en skrywer prof Jaap Steyn (2017), teoloog prof Jan van der Watt (2017) en geskiedkundige prof Hermann Giliomee (2016).​