
BASE-argitektuur kan mens en masjien beter laat saamwerk
Namate die vervaardigingsbedryf al hoe meer digitaal en geoutomatiseer word, moet mense beter geïntegreer word met hierdie omgewings sodat fabrieke voordeel kan trek uit al hul werkers se positiewe eienskappe, terwyl hulle terselfdertyd digitale tegnologieë en robotte gebruik om vir werkers se tekortkominge te vergoed of aan te vul.
Só sê dr Dale Sparrow wat onlangs sy doktorsgraad in Megatroniese Ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch (US) behaal het.
As deel van sy navorsing, het Sparrow 'n eenvoudige BASE-argitektuur (“Biography-Attributes-Schedule-Execution" in Engels, of te wel Biografie-Eienskappe-Skedule-Uitvoering) geskep wat baie administratiewe take en dié wat nie waarde toevoeg nie, kan outomatiseer terwyl dit terselfdertyd werkers in staat stel om beter met masjiene en stelsel rondom hulle in die fabriek te kommunikeer.
“Ons het gedink 'n digitale plaasvervanger vir die werker is nodig wat na administrasie en kommunikasie kan omsien. Daarom het ons hierdie konsep 'n administratiewe dop (administration shell) genoem. Ons het 'n gestruktureerde manier nodig gehad om so 'n administratiewe dop te implementeer en die finale uitkoms van die navorsing is 'n veralgemeende argitektuur wat ons BASE noem. Dit sal ontwikkelaars lei oor hoe om só 'n administratiewe dop te skep.
“'n Administratiewe dop wat volgens hul ontwikkelde BASE-argitektuur in werking gestel word, sal soos 'n persoonlike assistent funksioneer wat die werk in die digitale fabrieksomgewing sal verteenwoordig en beter kommunikasie met en beheer oor ander digitale stelsels of mense sal toelaat."
Volgens Sparrow is BASE spesifiek geskep om al die voordele van digitale vermoëns aan menslike werkers te bied ten einde hul sterkpunte voordelig aan te wend sodat hulle relevant kan bly in 'n werkplek wat voortdurende verander.
Meer produktief
Volgens hom lê een van die groot kwessies met geoutomatiseerde stelsels en menslike integrasie in die fundamentele verskil in kommunikasie en inligtingsverwerking tussen mense en masjiene.
“Deur die administrasiedop toe te laat om digitale inligting namens mense te vertaal, te onthou en te kommunikeer, stel dit hulle in staat om voordeel te trek uit digitale ontleding, skedulering en intydse kommunikasie en samewerking."
Sparrow sê BASE is op werkers in 'n fabrieksomgewing getoets en dit het hulle gehelp om hul omstandigheidsbewustheid en naspeurbaarheid van aktiwiteite te verhoog.
“Dit stel hulle ook in staat om goed te wees in die doen van menslike dinge soos probleemoplossing, organisering en om met hul hande te werk, terwyl die administrasiedop die vervelige administratiewe en kommunikasietake verrig. Mense bly relevant in nywerhede wat geneig is om te óóroutomatiseer en kan ook 'n bydrae met hul vaardighede lewer.
“Werkers sal produktiewer wees, meer tyd aan vaardighede spandeer wat waarde toevoeg en minder aan administrasie (om goed neer te skryf, om te probeer onthou wat presies hulle gedoen het, om probleme te probeer verduidelik, ens)."
“Aangesien 'n BASE-administrasiedop werkers toelaat om hul waarnemings en besluite aan ander met 'n soortgelyke tipe dop beskikbaar te stel, word dit makliker om kennis te deel, opleidingstyd te verkort en is dit goedkoper om werkers aan te stel.
“Jou werkers word kosbaarder, aangesien hulle belangrike intydse inligting tot jou fabriek se besluitneming bydra. Opleiding is goedkoper aangesien die administrasiedop inligting aan die werker kan voer en hul aksies kan vaslê, en werkers kan meer staatmaak op die hulp wat die administrasiedop verskaf om ingewikkelde take uit te voer waarvoor hulle normaalweg uitgebreide opleiding nodig sou hê."
Kommunikeer en werk saam
Wat hierdie administrasiedop spesiaal maak, is dat dit met ander BASE-administrasiedoppe wat aan ander hulpbronne of aktiwiteite in 'n fabriek behoort, kan kommunikeer en saamwerk, sê Sparrow.
“Dit beteken 'n masjien wat die hulp van 'n hersteldiens benodig, kan sy BASE-administrasiedop aansê om met mense in die fabriek se BASE-administrasiedoppe te praat om by hulle uit te vind wie kan help.
“Die masjien se administrasiedop sal dan die geskikste persoon kies en daardie persoon se administrasiedop aansê om hom/haar te help. Die persoon se administrasiedop sal dan sy/haar foon, e-pos, oorfone of enige ander manier wat dit kan, gebruik om met die gekose herstelpersoon in verbinding te tree en hom/haar te sê dat die masjien hulp benodig."
Volgens Sparrow verstaan al die BASE-administrasiedoppe hoe om met mekaar te kommunikeer vir skedulering en oor watter kommunikasie nodig is om aktiwiteite uit te voer. Hulle stoor en verpak ook inligting vir ontleding op dieselfde manier sodat dit makliker is om dit te herwin.
Hy sê elke implementering van hierdie doppe kan aangepas word sodat hulle besluite kan neem en aksies kan uitvoer.
“Iemand mag dalk 'n sagteware-aanpassing vir 'n tablet hê sodat hy/sy knoppies kan druk om dinge te laat gebeur, of 'n masjien kan dalk ʼn sagteware-aanpassing hê wat foute opspoor en aanmeld en wat gepas op die data in die BASE-administrasiedop sal reageer. BASE sorg dan dat daardie verslag die regte persoon bereik."
Sparrow sê die BASE-argitektuur kan ook op die geneeskunde, landbou, mynwese, kleinhandel of onderwys toegepas word.
“Ons is tans besig om die platform aan die mynbedryf voor te lê en sal hopelik uiteindelik ook die openbare gesondheidstelsel kan help deur elke pasiënt met 'n BASE-administrasiedop toe te rus wat tred hou met medikasie, opvolgondersoeke en die pasiënt se geskiedenis en wat die pasiënt se BASE-administrasiedop in staat sal stel om met die betrokke dokters, personeel en toerusting te kommunikeer."
Sparrow is saam met sy voormalige studieleier, dr Karel Kruger van die US se departement Meganiese en Megatroniese Ingenieurswese, besig om 'n afwentelmaatskappy, Cybarete, op die been te bring.
SLEGS VIR MEDIANAVRAE
Dr Dale Sparrow
E-pos: [email protected]
UITGEREIK DEUR
Martin Viljoen
Bestuurder: Media
Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Universiteit Stellenbosch
Tel: 021 808 4921
E-pos: [email protected]