Breadcrumb
Ons werk
Die Botaniese Tuin dien nie net die behoeftes van die Universiteit Stellenbosch deur navorsing en onderrig te ondersteun nie, maar lewer ook ’n uiters belangrike diens aan die breër gemeenskap deur streekplantbewaringspogings en gemeenskapsprojekte te ondersteun, en deur as ’n opeluglaboratorium en inligtingsentrum vir die publiek op te tree.
Onderrig
Onderrig was nog altyd deel van botaniese tuine – dikwels deurdat hulle met universiteite in die omgewing geassosieer is of saam met hulle gestig is. By die Stellenbosch Universiteit se Botaniese Tuin streef ons daarna om ’n verskil te maak in die lewens van diegene wat hier woon, leer en werk deur ’n ervaring te bied wat mense nie net weer met die natuur verbind nie, maar hulle ook leer oor die wonders daarvan. Daarom is ’n paar verskillende opvoedkundige toeropsies vir geregistreerde onderwysinstellings ontwikkel om dit te fasiliteer. Toere kan bespreek word deur die tuin telefonies of per e-pos te kontak. Geen toegangsgeld sal vir voorafbespreekte, geregistreerde groepe gehef word nie. Voorafbespreking is noodsaaklik. Opvoedkundige toere is ontwikkel om met die CAPS-skoolkurrikulum te korrespondeer.
Neem kennis:
- Leerder kry gratis toegang wanneer hulle deel is van ’n voorafbespreekte groep.
- Neem die weer in ag en waarsku leerders betyds sodat hulle gepas kan voorberei.
- Dit help ons om ’n meer insiggewende toer te bied as ons genoegsame kennis vooraf het om voor te berei; maak dus seker dat u ruim vooruit bespreek om dit te verseker.
Kontakbesonderhede
Epos: [email protected]
Telefoon: +27 21 808 3054
Hierdie toer behels gesprekke oor temas soos wat iets lewend maak, die waterkringloop en asemhaling by plante. Die toer sal aangepas word vir die spesifieke groep, met inagneming van die meerderheid graad teenwoordig. Ons hoop om te inspireer en om dit wat in die klaskamer geleer word, tot lewe te bring, sodat leerders op ’n relevante manier met die temas kan omgaan en ’n waardering vir die natuur kan ontwikkel.
Hierdie toere duur gewoonlik minder as 1 uur.
Daar is baie verskillende leerstyle en, vir sommige, is die beste manier om te leer om dinge self te ervaar – om dit te sien, ruik en voel! Hierdie toer is ontwerp om ’n aanvulling tot hoërskoolbiologie te wees en om teorie ’n bietjie meer tasbaar en kleurvol te maak. Ons bespreek temas soos die verskillende klassifikasiestelsels van lewe, biome en ekologie, tot by hormonale plantverdedigingsmeganismes. Ons spog met ’n pragtige bewaringsversameling, ’n inheemse medisyne- en voedseltuintjie, asook ’n uitstalling van indringerplante – alles om te help dat die kennis wat in die klaskamer geleer word, tot lewe kom. Toere kan sekere temas beklemtoon indien verkies, maar dit is nie noodsaaklik nie.
Hierdie toere duur gewoonlik ongeveer 90 minute (ongeveer 1½ uur).
Ons hou van samewerking en nooi enige reisende akademici uit om ons direk te kontak om ’n persoonlike toer met ons kurator of assistentkurator te reël.
Hulpbronne vir plantnavrae
Het jy ‘n plant, plaag of siekte wat jy wil identifiseer, of benodig jy tuiniersadvies? Probeer hierdie handige aanlynhulpbronne! Let asseblief daarop dat die Stellenbosch Universiteit Botaniese Tuin nie plantidentifikasie of tuinbouadvies bied nie, aangesien ons nie die personeel of hulpbronne het om dit te ondersteun nie. Ons kan egter sommige uitstekende aanlynhulpbronne aanbeveel wat jou kan help.
iNaturalist.org is ons voorkeurplatform vir die identifikasie van wilde inheemse plante. Ons het ‘n baie aktiewe gebruikersgemeenskap in die Kaap, waarvan baie wêreldspesialisdeskundiges is. Burgerwetenskaplike rekordhouding lewer ‘n uiters waardevolle bydrae tot bewaring en navorsing. Die platform bied ‘n ewekniebeoordelingsproses vir identifikasie, sodat identifikasies deur kenners bevestig, ondersteun of bevraagteken kan word. Ons gebruik dit as ‘n noodsaaklike hulpmiddel vir ons werk, en SUBG-personeel en internskappe het tans meer as 12 297 waarnemings van 2 696 spesies op iNaturalist.org.
Die Plant Siektekliniek by die Departement Plantpatologie kan monsters van plantmateriaal diagnoseer. Kontak hulle asseblief direk vir meer inligting.
PlantZAfrica is ‘n uitgebreide aanlyn plantediens met inligting oor ons inheemse plante en hoe om dit te kweek.