Die Universiteit Stellenbosch Botaniese Tuin stel landmerk- botaniese kunsversameling van skaars en bedreigde Suid-Afrikaanse plante bekend
- Die Universiteit Stellenbosch Botaniese Tuin (USBT) sal sy eerste permanente kunsversameling, die James & Shirley Sherwood Botaniese Kunsversameling, in Mei 2026 bekend stel.
Die Universiteit Stellenbosch Botaniese Tuin (USBT) sal sy eerste permanente kunsversameling, die James & Shirley Sherwood Botaniese Kunsversameling, in Mei 2026 bekend stel. Die versameling sal in die geskiedkundig belangrike USBT-kantoorgebou gehuisves word en die kunswerke van talle van die voorste Suid-Afrikaanse botaniese kunstenaars ten toon stel.
Die versameling vang die prag en diversiteit van Suid-Afrika se flora vas en fokus terselfdertyd die aandag op plante wat toenemend bedreig word. Deur ’n kombinasie van kuns, wetenskap en bewaring, beoog die projek om die verbintenis met die Kaap se buitengewone planterfenis te verdiep, plaaslike botaniese kunskapasiteit te versterk en groter bewustheid van die dringende behoefte aan plantbewaring aan te wakker.
Botaniese kuns by die USBT is in 2023 deur die spesialis- botaniese kunskurator, Karen Stewart, en wyle dr Donovan Kirkwood, voormalige kurator van die USBT, begin. Die twee het besef hoe waardevol botaniese kuns in die kommunikasie van die dikwels flietende skoonheid van plante kan wees, om mense te inspireer om met die natuur in voeling te kom en sodoende bewustheid van die bewaringsbehoeftes van talle plante aan te wakker. Sedert 2023 het die USBT ’n jaarlikse botaniese kuns- en fotografie-uitstalling aangebied, wat die grondslag gelê het vir die vestiging van hierdie permanente botaniese kunsversameling. Die James & Shirley Sherwood Botaniese Kunsversameling sal skilderye deur sommige van Suid-Afrika se voorste botaniese kunstenaars en ook kunstenaars wat nog vroeg in hulle loopbaan staan, insluit. Elke werk sal met die tuin se bewaringsversamelings verband hou.
Die USBT huisves meer as 200 versamelings plantspesies wat die risiko van uitwissing loop. Baie van hierdie plante is nie in hulle natuurlike habitat toeganklik nie en kan slegs tydens ’n besoek aan die tuin besigtig word. Etlike van die plante in hierdie spesiale versamelings is egter dormant in die somer en lyk verwaarloos, of verdwyn heeltemal vir verskeie maande. Die kunswerke in die James & Shirley Sherwood Botaniese Kunsversameling sal ’n kragtige herinnering wees aan die seisoenale skoonheid van hierdie plante en besoekers inspireer om die natuur deur al die seisoene heen te waardeer. Baie plantspesies in die USBT-versamelings is nog nooit voorheen geïllustreer nie en talle is uiters bedreig, of word nou eers formeel deur die wetenskap beskryf.
’n Unieke geleentheid vir botaniese kunstenaars
Die ondersteuning en opheffing van botaniese kunstenaars staan sentraal tot hierdie projek. As sodanig sal deelnemende kunstenaars spesiale toegang hê tot skaars lewende plantversamelings. Hulle sal ook steun van die USBT-kenners en akademiese vennote ontvang om hulle wetenskaplike begrip te versterk en die belangrikheid van akkuraatheid in botaniese illustrasies te verskans. Jong botaniese kunstenaars sal spesiale steun ontvang deur ’n mentorskapsprogram onder leiding van ervare Suid-Afrikaanse botaniese kunstenaars.
Deur hierdie inisiatief hoop die USBT om die James & Shirley Sherwood Botaniese Kunsversameling as die enigste amptelike wetenskaplike institusionele tuiste vir botaniese kuns in Suid-Afrika te vestig.
Skenkingsgeleentheid
Beskermhere van die kunste en korporatiewe vennote word genooi om deel te wees van ’n roemryke, hoëprofielprojek wat die kosbare flora van die Kaap en Suid-Afrika sal dokumenteer. Die kunswerke sal permanent deur ’n spesialisspan van die USBT gehuisves, saamgestel en versorg word.
Ontmoet die span
Hierdie medewerkende projek is die inisiatief van Karen Stewart, MPhil (spesialisering in botaniese illustrasie) en voorsitter van die Kaapse tak van die Botaniese Kunstenaarsvereniging van Suider-Afrika; dr Donovan Kirkwood (PhD in plantkunde-ekologie), voormalige kurator van die USBT; Annerie Senekal, waarnemende kurator van die USBT; Martine Robinson (BArg), ’n gesaghebbende Suid-Afrikaanse botaniese kunstenaar, wat fokus op skaars en bedreigde geofiete; en akademiese vennoot, prof Léanne Dreyer, kenner van die megadiverse Kaapse Oxalis. Vicki Thomas en Chris Lochner het in die projek se keuringspaneel gedien.
Kontak
Donateurs kan ’n gedetailleerde voorstel en begrotingsprojeksie by Annerie Senekal aanvra: [email protected]
Kunstenaars wat aansoek wil doen om deel te neem, kan die kunskurator, Karen Stewart, e-pos by [email protected].
Vir projekbesonderhede en die jongste nuus, besoek gerus: https://www.su.ac.za/en/visitors/outdoor/botanical-garden en volg ons op Instagram: @subotgarden
Top stories
Discover stories of our pursuit of impactful solutions, building learning communities that leverage the latest technologies, and our exceptional people.
Bewaring en bosbou
Die Universiteit Stellenbosch Botaniese Tuin stel landmerk- botaniese kunsversameling van skaars en bedreigde Suid-Afrikaanse plante bekend
Die Universiteit Stellenbosch Botaniese Tuin (USBT) sal sy eerste permanente kunsversameling, die James & Shirley Sherwood Botaniese Kunsversameling, in Mei...