Maties-roeier ontvang nasionale kleure vir kusroei
- In ’n trotse oomblik vir Maties Sport het Isabella Bruce, ’n BA-studente-atleet in haar derde jaar en ’n verteenwoordiger van die Maties-roeiklub by die Universiteit Stellenbosch (US), verlede maand haar nasionale kleure in kusroei ontvang by die toonaangewende Buffalo (RMB) Regatta in Oos-Londen.
In ’n trotse oomblik vir Maties Sport het Isabella Bruce, ’n BA-studente-atleet in haar derde jaar en ’n verteenwoordiger van die Maties-roeiklub by die Universiteit Stellenbosch (US), verlede maand haar nasionale kleure in kusroei ontvang by die toonaangewende Buffalo (RMB) Regatta in Oos-Londen.
“Dit was ’n voorreg en ’n eer om my nasionale kleure by die Buffalo Regatta te ontvang,” het Bruce gesê. “Ek is baie dankbaar vir die ondersteuning van my spanmaats en die afrigters van die nasionale groep wat my gehelp het om hierdie punt in my reis te bereik.”
Haar prestasie gee erkenning aan haar uitmuntende vertoning in en verbintenis tot die ontluikende dissipline van kusroei en dien as bewys van haar toegewydheid op die water én in die klaskamer.
Bruce het haar nasionale baadjie – die simbool van haar verkiesing om Suid-Afrika in kusroeikompetisies te verteenwoordig – by die prysuitdelingseremonie ontvang; ’n beduidende mylpaal vir enige studente-atleet.
Bruce se sukses is deel van ’n breër poging deur die Maties-roeiklub om diverse roeidissiplines te ondersteun. Maties Roei het tans een van die land se aktiefste universiteitroeiprogramme, en bied geleenthede in tradisionele items sowel as kusformate.
Kusroei is ’n dinamiese, seegebonde weergawe van roei wat roeiers uitdaag met oopwatertoestande, soos golwe, getye en veranderlike windtoestande. Dit verskil van konvensionele roei-items wat gewoonlik op mere of damme aangebied word.
“Ek vind kusroei baie meer opwindend, aangesien die toestande by elke kompetisie verskil. Die golwe kan groter wees, die wind kan draai, die deinings kan hoër word, en al die veranderlikes maak daarvan ’n opwindende uitdaging,” verduidelik Bruce.
Sy voeg by dat die dissipline oor meer as net roei gaan.
“Dit behels ook dat ’n mens op sand moet kan hardloop, die roete moet kan navigeer, en die beweging van die golwe moet kan verstaan sodat jy dit kan gebruik om jou na oorwinning aan te dryf. Dan is daar natuurlik ook die laaste stormloop na die eindstreep, waar jy nie meer jou bene kan voel nie, en die duik na die gonser terwyl jy hoop dat jy jou teenstander met ’n paar sekondes geklop het.”
Die Maties-roeiklub het ’n deurslaggewende rol gespeel in Bruce se sportreis.
“Dit is waar my liefde vir roei begin het,” het sy gesê. “Ek het in 2024 in my eerste jaar by die klub aangesluit, en onmiddellik verlief geraak op die sport en die mense wat ek ontmoet het.”
Sy het bygevoeg dat die omgewing haar help voorberei het vir die eise van elitekusroeikompetisies.
“Maties Roei het my gehelp om ’n grondslag vir kusroei te vestig, en my nasionale afrigters het my vaardighede verfyn en my gehelp om in die sport uit te blink.”
Bruce hoop om in die toekoms op die internasionale verhoog deel te neem.
“My doel in die nabye toekoms is om na die 2026 Wêreldkusroei-geleentheid in Qingdao, China, te gaan, waar ons aan strandrenroei (beach sprint rowing) en ’n uithouwedvaart aan die kus sal deelneem,” het sy gesê. “In die lang termyn sou ek graag wou streef na die 2032 Olimpiese Spele, maar vir nou is my reis na China my eerste mylpaal.”
Bruce se prestasie vier nie net haar persoonlike mylpaal nie, maar beklemtoon ook die groeiende landskap van roei by Maties Sport. Met kusroei wat steeds wêreldwyd groei, vind Maties-studente-atlete deurlopend nuwe geleenthede om Suid-Afrika internasionaal te verteenwoordig.