SA Staatsbefondsing
Die Suid-Afrikaanse regering bied opsies vir tersiêre befondsing aan voornemende universiteitstudente wat aan die minimum kiesbaarheidskriteria voldoen.
Die minimum kiesbaarheidskriteria is dat:
- die student ’n Suid-Afrikaanse burger is, of permanenteverblyfstatus het
- die student tans in graad 12 is en tot dusver goeie akademiese uitslae behaal het, of graad 12 met goeie akademiese uitslae geslaag het
Aansoek word direk by die staat gedoen en sluitingsdatums verskil, so maak asseblief seker dat jy die instruksies presies volg en voor die sperdatum aansoek doen.
Neem asseblief kennis dat die Universiteit Stellenbosch nie die aansoekproses of die keuringsproses vir enige staatsbefondsing bestuur nie. Dit help slegs met die administrasie van beursuitbetalings aan suksesvolle ontvangers onder opdrag van die staatsagentskap.
Alle studente wat om NSFAS aansoek gedoen het of wat tans deur NSFAS befonds word, moet ook jaarliks aansoek om Universiteit Stellenbosch-Befondsingsgeleenthede (SUFO)* doen. Die student word dan op die SVBL se databasis vir finansiële bystand geregistreer, waarna hulle vir aanvullende befondsing (om finansiële gapings te oorbrug wat nie deur NSFAS-toelaes gedek word nie) oorweeg kan word. Hierdie US-befondsing sluit nood- en/of studenteskuldbefondsing in. Die SUFO-aansoekproses vind aanlyn plaas. Jy sal na ’n veilige webwerf geneem word om die aansoekvorm te voltooi. Vir instruksies oor hoe om aansoek te doen, beveel ons aan dat jy die SUFO How to apply (slegs in Engels) pdf-boekie nagaan en jou ondersteuningsdokumente bymekaarmaak. Kliek dan op “Doen nou aansoek”.
BELANGRIKE KENNISGEWING *Die Universiteit het beperkte fondse beskikbaar; ’n aansoek om US-befondsing is nie ’n waarborg dat befondsing toegeken sal word nie.
COID-(Vergoedingsfonds-)beursskema
Voorgraadse studente word genooi om aansoek te doen om die Vergoedingsfondsbeursskema (COID) van die SA regering se departement van indiensneming en arbeid.
Hierdie beurs dek klasgelde, voorgeskrewe studiemateriaal, ’n maandelikse toelae en verblyf. Die toekenning kan elke jaar hernu word – vir die duur van die ingeskrewe studieprogram – na gelang van die beskikbaarheid van fondse en akademiese prestasie.
Maak asseblief eers seker of jy aan die kiesbaarheidskriteria voldoen. Neem dan kennis dat jy die volgende ondersteuningsdokumente benodig om jou aansoek te voltooi:
- gesertifiseerde kopie van ID (student en ouers/wettige voogde)
- sertifisering en verifikasie van liggaamlike gestremdheid, indien jy ’n student is wat met ’n gestremdheid leef
- bewys van COID-pensioenarisstatus van ouer/voog, indien jy die afhanklike van ’n COID-pensioenaris of die afhanklike van ’n noodlottig beseerde werker is
- bewys van inkomste van jou ouers/wettige voogde
Om aansoek te doen, moet jy die aansoekvorm voltooi en dit saam met jou ondersteuningsdokumente oplaai.
Aansoeke is gesluit vir 2025.
Fasset – SETA
Fasset is die Onderwys- en Opleidingsowerheid vir Finansies en Rekeningkundige Dienste en verwys na organisasies wat deur hierdie sektor bedien word, insluitend beleggingsentiteite en -trusts en maatskappysekretarisdienste; aandelemakelary en finansiële markte; finansiële ontwikkelingsorganisasies; rekeningkunde, boekhouding, ouditering en belastingdienste; besigheids- en bestuurskonsultasiedienste; die Suid-Afrikaanse Inkomstediens; die nasionale en provinsiale tesourie; en ander aktiwiteite wat bydra tot finansiële bemiddeling, soos skuldinvordering.
Fasset werk saam met openbare verskaffers van universiteite en universiteite van tegnologie wat by DHOO geregistreer is om te verseker dat leerders ten volle vergoed word om formele kwalifikasies te verwerf wat uiteindelik hul kanse sal verbeter om leerlingskappe, internskappe, of voltydse werk in die breër ekonomie te verkry, insluitend in die Fasset sektor.
Keuringskriteria en geskiktheid (vir werklose leerders)
- Slegs Suid-Afrikaanse burgers kom in aanmerking om aansoek te doen
- 'n Leerder moet van die huis af wees waar die gesamentlike huishoudelike inkomste nie R1 000 000 per jaar (R83 333 per maand) oorskry nie
- Leerders moet geregistreer wees of aanvaar gewees het by 'n openbare universiteit, universiteit van tegnologie, of TVET-kollege
- Die gekose kwalifikasies moet binne die FAS-sektor wees, maar voorkeur sal gegee word aan IT-verwante kwalifikasies en ander nasionale kritieke vaardighede
Wat dek die beurs?
Die beursbefondsing sal beperk word tot R100 000 vir universiteitsleerders. Dit dek slegs klasgelde, voorgeskrewe handboeke, verblyf en etetoelaes.
Vereiste ondersteuningsdokumente
Die volgende verpligte dokumente moet die aansoekvorm vergesel:
- Gesertifiseerde ID-afskrif van leerder (nie ouer as 6 maande met indiening nie)
- Gesertifiseerde ID-afskrifte van ouers/voogde (nie ouer as 6 maande met indiening nie)
- Gewaarmerkte afskrifte van hoogste kwalifikasies en akademiese rekord (nie ouer 6 maande met indiening nie)
- Leerders in graad 12 moet proefeksamenuitslae indien
- Bewys van huishoudelike inkomste (betaalstrokies van albei ouers of 'n voog – beëdigde verklarings word vereis in die afwesigheid van betaalstrokies)
- Bewys van registrasie of aanvaardingsbrief van die universiteit
- Bewys van verblyf
- FASSET-werkloosheidsverklaringsvorm (vir werklose aansoekers) (FASSET unemployed declaration form – net in Engels beskikbaar)
Selection will be on a first come first served basis. However, priority will be given to academic achievement.
Aansoeke is gesluit vir 2025.
Funza Lushaka-beursskema (slegs BEd-studente)
Maak ’n verskil. Word ’n onderwyser.
Die Funza Lushaka-beursprogram – wat deur die SA regering se departement van basiese onderwys geadministreer word – is ’n meerjarige program ter bevordering van onderrig as ’n beroep. Om te kwalifiseer, moet voornemende studente – 30 jaar of jonger – aan die Universiteit aanvaar wees om ’n vierjarige Baccalaureusgraad in Opvoedkunde (BEd) of ’n nagraadse onderwyssertifikaat (NGOS) in die seniorfases en VOO te studeer. Die onderwyskwalifikasie moet egter aan die nasionale prioriteitsvakgebiede voldoen.
Wat is die nasionale prioriteitsvakgebiede?
- Grondslagfase (d.w.s. graad R – 3): Grondslagfaseneuro-ontwikkelingsbehoeftes (met ’n voorkeur vir Suid-Afrikaanse Inheemse Tale), Braille, SAGT.
- Intermediêre en Seniorfase (d.w.s. graad 4 – 9): Voorkeur sal gegee word aan ’n onderrighoofvak in twee van die volgende: tale, wiskunde, natuurwetenskap en tegnologie.
- VOO-fase (d.w.s. graad 10 – 12): Voorkeur sal gegee word aan ’n onderrighoofvak in twee van die volgende: rekeningkunde, landbouwetenskappe, landboutegnologie, siviele tegnologie, rekenaartoepassingstegnologie, elektriese tegnologie, ingenieursgrafika en -ontwerp, geografie , inligtingstegnologie, lewenswetenskappe, wiskunde, meganiese tegnologie, fisiese wetenskappe, tale, maritieme studies, kodering en robotika, tegniese wiskunde en tegniese wetenskap.
Wat dek die beurs?
Die Funza Lushaka-beurs dek die meeste van die ontvanger se noodsaaklike uitgawes. Uitgawes wat gedek word, kan die volgende insluit: klasgelde, verblyf insluitend maaltye, boeke en leermateriaal, en indien moontlik, ’n klein toelaag vir maandelikse lewenskoste. Die toekenning aan enige individuele student word tot ’n spesifieke waarde beperk.
Belangrike kennisgewing oor terugbetaling: Daar word van beursontvangers verwag om vir dieselfde hoeveelheid jare as wat hulle die beurs ontvang het by ’n openbare skool te onderrig. Geen terugbetaling word dus vereis nie.
Vir meer inligting oor die beursprogram, rolle en verantwoordelikhede, aansoeke en kiesbaarheid, keuring en geldsake, gaan asseblief die Gereelde vrae op die amptelike staatswebwerf na.
Hoe om aansoek te doen
Aansoek kan slegs aanlyn gedoen word.
Besoek die Funza Lushaka-webwerf vir meer inligting oor die kiesbaarheidskriteria en instruksies oor hoe om aansoek te doen. Daar is nege stappe wat jy moet volg om die toegang tot die e-gov-portaal te kry, daarop te registreer en dan aansoek te doen. Onthou asseblief om noukeurig deur die aansoeknotas te lees voordat jy aansoek doen.
Indien jy enige navrae het, stuur e-pos na [email protected] of skakel die Departement van Basiese Onderwys by 012 357 3000.
Vir eerstekeer-aansoekers: Aansoeke open vroeg in Oktober en sluit vroeg in Februarie.
Vir heraansoeke (vir bestaande/terugkerende studente): Aansoeke sluit aan die einde van November.
MKO-SOOO/MQA-SETA
Die Mynboukwalifikasie-owerheid (MKO) is ’n sektorale onderwys- en opleidingsowerheid (SOOO) vir die mynbou- en mineralesektor ingevolge die Wet op Vaardigheidsontwikkeling, Wet 97 van 1988.
Die MQA nooi graad 12-leerders en huidige voorgraadse studente om aansoek om ’n MQA-beurs vir die komende akademiese jaar te doen. Die beurs dek klasgelde en toelaes vir verblyf, boeke en maaltye.
Kiesbaarheid
As jy ’n Suid-Afrikaanse burger is en een van die volgende programme aan ’n universiteit studeer, kom jy in aanmerking om aansoek te doen: analitiese chemie, chemiese ingenieurswese, elektriese ingenieurswese, elektro-meganiese ingenieurswese, omgewingsgesondheid en -bestuur, omgewingswetenskap, geologie, bedryfsingenieurswese , juweliersware-ontwerp en -vervaardiging, meganiese ingenieurswese, metallurgiese ingenieurswese, mynopmeetkunde, mynbou-ingenieurswese, beroepsgesondheid en -veiligheid, beroepshigiëne, beroepsgeneeskunde, operasionele bestuur of gehaltebestuur.
Voorkeur sal gegee word aan die volgende aspekte by die keuring van kandidate:
- aansoekers wat as histories benadeelde individue geklassifiseer is
- finansieel behoeftige aansoekers, met ’n bruto huishoudelike inkomste van hoogstens R600 000 per jaar (R50 000 per maand)
- vroulike aansoekers
- aansoekers wat in landelike gemeenskappe woon
- aansoekers wat aansoek gedoen het om by hulle plaaslike tersiêre instellings te studeer
- goeie akademiese prestasie
Aansoekvorm
Jy kan meer inligting asook skakels na ’n aansoekgids en die aansoekvorm hier te klik. kry (sien #4 in aansoekvorm).
Aansoeke is gesluit vir 2025.
NSFAS
Die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente (NSFAS) is ’n beurs vir ’n student wat uit ’n huis kom waar die bruto huishoudelike inkomste nie meer as R350 000 per jaar (R29 167 per maand) is nie. Vir ’n student met ’n gestremdheid moet die bruto huishoudelike inkomste nie meer as R600 000 per jaar (R50 000 per maand) wees nie. Vir studente wat voor 2018 begin studeer het, moet die bruto huishoudelike inkomste minder as R122 000 per jaar (R10 167 per maand) wees.
Slegs Suid-Afrikaanse burgers en alle ontvangers van ’n SASSA-toelaag kwalifiseer vir befondsing. Jy kwalifiseer nie indien jy ’n vorige kwalifikasie voltooi het, of reeds aansoek gedoen het, gekwalifiseer het en befondsing ontvang het nie. Befondsing is vir die duur van jou studieprogram, mits jy jou modules slaag en aan die akademiese vereistes voldoen.
Wat dek die beurs?
Die befondsing dek registrasiekoste, klasgelde en leermateriaal, verblyf (beperk en waar die koste vir privaat verblyf nie die koste vir ’n plek in ’n universiteitskoshuis mag oorskry nie) of vervoer, ’n lewenskostetoelaag, ’n toelaag vir die koste van persoonlike sorg (vir studente in koshuise met spyseniering). Die waarde van die toekenning word jaarliks in ooreenstemming met die jongste goedgekeurde riglyne van die Departement van Hoër Onderwys (DHOO) hersien.
Neem asseblief kennis dat NSFAS nie meer ’n volkostebeurs is nie. Voornemende en huidige studente word aangemoedig om ook jaarliks aansoek om US-befondsing te doen sodat hulle vir aanvullende befondsing (vir koste wat nie deur NSFAS-toelaes gedek word nie) oorweeg kan word. Verwys asseblief na die afdeling oor die Universiteit Stellenbosch Befondsingsgeleenthede (SUFO) Aansoekproses -oortjie vir meer besonderhede.
Watter ondersteuningsdokumente benodig jy?
NSFAS vereis persoonlike inligting van agentskappe met betrekking tot die indiensnemingstatus en vlak van inkomste van die ouers of voogde/gade van die aansoeker.
- NSFAS-verklaringsvorm [declaration form] word deur die skoolhoof of die maatskaplike werker voltooi. (Slegs nie-SASSA)
- Die Wees- en kwesbare kind-verklaringsvorm [orphan and vulnerable child declaration form](vir aansoekers onder 18 jaar) word deur die maatskaplike werker voltooi. (Slegs nie-SASSA)
- Die NSFAS-toestemmingsvorm [consent form] word voltooi deur aansoeker en/of ouer/s, voog of gade. SASSA-ontvangers benodig nie hierdie vorm nie. (Slegs nie-SASSA)
- Indien 'n aansoeker aangedui het dat hulle 'n wettige voog het, moet hulle bewys lewer van voogdyskap uitgereik deur die hof
- Voogdyskap (nie deur die hof aangestel nie) aansoeker om NSFAS-verklaringsvorm [declaration form] te verskaf
- Gestremdheidbylaagvorm: Die vorm moet ingevul word deur ’n gesertifiseerde, behoorlik geregistreerde mediese dokter of ’n ander toepaslik gekwalifiseerde professionele persoon (soos ’n oogkundige, fisioterapeut of hoof van die gestremdheidseenheid) wat die student se status as gestremd kan bevestig en die soort ondersteuning wat die student benodig asook hoe die student by die voorgestelde ondersteuning sal baat, kan spesifiseer
Hoe om aansoek te doen
- Besoek die NSFAS-webwerf.
- Skep jou eie myNSFAS-profiel (via die oortjie regs bo op die webblad).
- Voltooi al die vereiste inligting.
- Dien jou aansoek in.
Vir enige navrae, skakel tolvry 0800 0 67 3 27 of e-pos [email protected].
Aansoeke is gesluit vir 2025.
Ander staatsopsies
Sekere staatsdepartementbefondsing vereis dat daar aan unieke kiesbaarheidskriteria voldoen word, soos dat die student byvoorbeeld van ’n spesifieke area/provinsie afkomstig moet wees.