Skip to main content
Studente vier skryfvreugde

Studente vier skryfvreugde

Afrikaans en Nederlands
04 Maart 2022

VER[r]AS, die Departement Afrikaans en Nederlands se studentevereniging, het Woensdag 2 Maart die 2021-uitgawe van Penseel bekendgestel. Agt en twintig digters en kortverhaalskrywers is in die bundel opgeneem. Keuring vir die 2021-uitgawe is deur dr Amanda Marais, dr Alfred Schaffer en mnr Marius Swart gedoen.

Die 2021-redaksie – studente wat volgens eie bekentenis almal vrek oor die wêreld van lees en skryf – beskryf die proses om die bundel saam te stel as lank en uitdagend, maar ook verfrissend, bevredigend en leersaam. En die van hulle wat vir die 2022-uitgawe nog op kampus is, sien daarna uit om weer deel van die proses te wees.

Die 2021-redaksie is: Maryna Adshade (redakteur), Charlton Andrew, Pippa Bester, Anouk Cronjé, Madeleine Kruger, Rentia Meyer, Karla van der Merwe (assistentredakteur) en Duné van Jaarsveld.

Penseel het 'n luisterryke geskiedenis wat terugstrek na 1969/1970 en 'n inisiatief van die toe-nog-onbekende Danie Botha en Fanie Olivier. Sedertdien het skrywers soos Joan Hambidge, Daniel Hugo, Loftus Marais en Marlene van Niekerk almal bydraes gelewer. Die uitgawes van 2021 en 2022 verdien hulle plek in die geskiedenis omdat hulle verskyn het en saamgestel sal word in die Departement Afrikaans en Nederlands se honderdste bestaansjaar.