
Ons nuwe webwerf is hier!
Vars, toeganklik, toekomsgereed: Die US se nuwe webwerf is hier!
- Skoon, moderne ontwerp met 'n meer intuïtiewe, gebruikersgerigte ervaring.
- Nie alle bladsye onmiddellik beskikbaar nie, bykomende inhoud en kenmerke sal gereeld bygevoeg word.
- Toeganklike ontwerp maak die webblad meer inklusief en verwelkomend.
Die lente lui 'n nuwe begin in en vanjaar vier die Universiteit Stellenbosch (US) fees met die bekendstelling van sy splinternuwe webwerf op 30 September. Dit is meer as net 'n herontwerp, dit is ons Universiteit se nuwe digitale tuiste by 'n nuwe adres – www.su.ac.za – wat dieselfde maroengees wat ons definieer, voortsit.
Marick Hornsveld, eienaar van die webwerf-herontwikkelingsprojek, sê dit was 'n jare lange reis tot by hierdie groot oomblik. Die behoefte aan 'n nuwe webwerf is in 2018 geïdentifiseer, en in 2019 het breedvoerige navorsing begin om 'n visie te formuleer van wat die US se digitale tuiste kon wees. "In 2020 het 'n bestekopname van die projek ons laat besef dit sou baie groter en ingewikkelder wees as wat verwag is." Teen 2021 is die grondslag gelê: Diensverskaffers is aangestel en herontwikkeling het in alle erns begin. "In April van dieselfde jaar het die Universiteit sy nuwe logo en verfrisde handelsmerk bekendgestel, wat die perfekte geleentheid geskep het om ons webwerf met die Universiteit se nuwe identiteit te belyn," verduidelik sy.
Die omvang van die taak was geweldig: Meer as 10 000 bladsye oor 430 subwebwerwe moes na die nuwe webwerf gemigreer word. Gedurende hierdie digitale "verhuising" is sowat 50 000 dokumente en beelde, tesame met byna 15 250 argiefnuusberigte in Afrikaans én Engels wat sover as 2013 terugstrek, sorgvuldig oorgeplaas.
Die bekendstelling is die eerste fase van die US se herverbeelde aanlyn-teenwoordigheid. Besoekers word met 'n skoon, moderne ontwerp met 'n meer intuïtiewe, gebruikersgerigte ervaring oor toestelle heen verwelkom. Hoewel nie alle bladsye onmiddellik beskikbaar sal wees nie, sal bykomende inhoud en kenmerke steeds gereeld bygevoeg word. Die platform is egter van die begin af ontwerp om toeganklik, verwelkomend en toekomsgerig te wees.
Van die uitstaande kenmerke sluit 'n indrukwekkende soekfunksie, 'n interaktiewe kalender en 'n omvattende A-tot-Z-lys in, wat die navigasie van die webwerf eenvoudiger en doeltreffender as ooit maak. "Ek is veral trots op hierdie kenmerk," sê Hornsveld. "Ons het maande daaraan gewerk en dit getoets om te verseker dat alles wat gebruikers dalk wil vind, maklik soekbaar is." Saam weerspieël hierdie instrumente die US se verbintenis tot die skep van 'n digitale ruimte wat sy gemeenskap saambind en waar hulle kan verken en floreer.
Toeganklikheid was die kern van die herontwerp. Die nuwe webwerf, wat in samewerking met die US se Eenheid vir Gestremdhede ontwikkel is, voldoen aan riglyne vir toeganklikheid van webinhoud en sluit kenmerke soos sigbare toeganklikheidslegstukke, verbeterde kleurkontras, leesbare lettertipes en behoorlike alt-teks in. Bydraeropleiding verseker dat hierdie beste praktyke op die lang termyn in plek bly. "Om toeganklikheid te verbeter is iets waaraan ons voortdurend sal werk, maar hierdie is 'n eerste stap in die regte rigting," sê Hornsveld. "Die Eenheid vir Gestremdhede doen ongelooflike werk, en ons wil hê ons webwerf moet dit ondersteun."
Met sy skaalbare ontwerp is die webwerf ook in staat om saam met opkomende tegnologieë, insluitende KI, te groei, om te verseker dat die US se aanlyn teenwoordigheid toekomsgereed bly.
"Dit is meer as net 'n herontwerp," sê Hornsveld ten slotte. "Dit is die begin van 'n groeiende, verwelkomende ruimte waar almal ingesluit kan voel. Ons hoop besoekers voel geïnspireerd en tuis op die nuwe webwerf. Dit is ontwerp om 'n toonbeeld daarvan te wees dat die Universiteit Stellenbosch 'n uitstekende plek is om by te studeer en te werk en mee saam te werk."