Skip to main content
Pokkel. SU's mascot, welcomes new students to SU
Image by: Stefan Els

Pokkel, die US se amptelike gelukbringer, het verlede jaar studente hartlik by die verwelkomingsgeleentheid verwelkom

Kampuslewe

Gees loop hoog terwyl US voorberei om sy nuwe Maties te verwelkom

Anél Lewis
Senior journalist
23 Januarie 2026
  • Duisende nuwelingstudente sal op die Universiteit Stellenbosch (US) se kampusse aankom om deel te neem aan die amptelike Verwelkomingsprogram.
  • Die propvol program is ontwerp om nuwe studente te help om by die universiteitslewe aan te pas.
  • Een van die hoogtepunte van die program is die amptelike verwelkomingsgeleentheid, aangebied deur die US se Rektor en Visekanselier, prof Deresh Ramjugernath.

Duisende nuwelingstudente sal vanaf Maandag 26 Januarie op die Universiteit Stellenbosch (US) se kampusse aankom om deel te neem aan die amptelike Verwelkomingsprogram wat tot 8 Februarie duur. 

Die propvol program is ontwerp om nuwe studente te help om by die universiteitslewe aan te pas. Nuwelinge sal hulle mentors ontmoet, aan kampusruimtes bekendgestel word, nuwe vriende maak en meer oor hulle akademiese programme leer, asook oor die wye reeks ondersteuningsdienste en aktiwiteite wat op die US se kampusse beskikbaar is. Daar word 'n bykomende SOAR Pre-verwelkomingsprogram vir eerste-generasie studente aangebied wat Saterdag 25 Januarie afskop.

As deel van die Universiteit se verbintenis daartoe om 'n transformerende studente-ervaring te bied, bestaan die Verwelkomingsprogram uit drie kernkomponente:

  1. 'n Institusionele verwelkomingsprogram, insluitende die amptelike verwelkomingsgeleentheid by die Danie Craven-stadion, die groepfoto en die ikoniese Droomoptog;
  2. 'n Akademiese verwelkomings- en oriënteringsprogram binne elke fakulteit; en
  3. Verwelkomingsaktiwiteite binne studentegemeenskappe en koshuise, insluitende georganiseerde studentelewe, sport, verenigings, mentorskap, klusters, sosiale geleenthede en ondersteuningsdienste.

Een van die hoogtepunte van die program is die amptelike verwelkomingsgeleentheid, aangebied deur die US se Rektor en Visekanselier, prof Deresh Ramjugernath, wat Woensdag 28 Januarie by die Danie Craven-stadion gehou word. Hierdie feestelike geleentheid sal ook deur lede van die Rektoraat, dekane, senior bestuur, die Studenteraad, ander studentestrukture en die Universiteit se geliefde gelukbringer, Pokkel, bygewoon word.

Na afloop van die formele verrigtinge en die neem van die amptelike 2026-foto, sal studente aan die simboliese Droomoptog al langs Victoriastraat deelneem, waar hulle by 'n banier sal verbystap wat die simboliese aanvang van hulle akademiese reis aandui. 

In ooreenstemming met tradisie sal nuwelinge ook die geleentheid hê om handgeskrewe kaartjies met hulle hoop en drome daarop geskryf, aan die bome langs die roete te heg. 

"Ons is verheug om ons nuutste Maties by die Universiteit Stellenbosch te verwelkom. Die Verwelkomingsprogram is ontwerp om studente te help om ingeburger te raak, te voel hulle word ondersteun en om die verbintenisse te begin bou wat hulle studente-ervaring sal vorm, sê Ramjugernath. "Een van die betekenisvolste oomblikke is die Droomoptog al langs Victoriastraat. Dit is 'n simboliese herinnering daaraan dat studente se tyd op Stellenbosch nie net gaan oor wat hulle gaan leer nie, maar ook oor wie hulle gaan word." 

Ander hoogtepunte van die twee weke lange program sluit die verwelkomingsfees in, wat Vrydag 30 Januarie by die Danie Craven-stadion gehou word. Hier sal studente die geleentheid kry om meer oor die verskillende verenigings, Maties Sport en Fasiliteitsbestuur uit te vind en betrokke te raak. Maties Sport sal ook die volgende dag 'n pretwedloop vanaf die Maties Sport Gimnasium aanbied. 

Die Verwelkomingsprogram bereik Saterdag 7 Februarie sy hoogtepunt met die Vensters/Connect-fees wat by die Coetzenburg-sportterrein plaasvind. Hierdie prettige middagprogram met 'n karnavaltema sluit nuweling-optredes, kos- en handwerkstalletjies en interaktiewe vennoot-aktiverings in. 

Die nuwelingstudente begin Maandag 9 Februarie met hulle klasse wanneer die 2026-akademiese jaar amptelik 'n aanvang neem.

Meer inligting oor die Universiteit se 2026-verwelkomingsprogram: 

Verwante stories