
Dr Zara Trafford het ʼn vroeëloopbaan-toekenning van die Wellcome Trust ontvang.
US-wetenskaplike ontvang R12 miljoen-toekenning vir navorsing oor gestremdheid
- Dr Zara Trafford het ʼn vroeëloopbaan-toekenning van Wellcome Trust ontvang.
- Sy is die eerste US-ontvanger van hierdie toekenning.
- Haar projek fokus op gestremde jongmense in gemeenskappe met beperkte hulpbronne.
Dr Zara Trafford, ʼn kundige in gestremdheidstudies aan die Instituut vir Lewensloopgesondheidsnavorsing in die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe van die Universiteit Stellenbosch (US), het onlangs ʼn gesogte vroeëloopbaan-toekenning van R12 miljoen van die Wellcome Trust ontvang. Sy is die eerste akademikus van die US om dié toekenning, wat gesondheidsnavorsing deur en die loopbaanontwikkeling van ʼn opkomende navorser vir ʼn tydperk van vyf jaar finansier, te ontvang.
Die toekenning sal Trafford in staat stel om ʼn projek te lei wat aspekte van die lewe ondersoek wat dikwels in navorsing oor gestremde jongmense in gemeenskappe met beperkte hulpbronne oor die hoof gesien word. Dit sluit vreugde, plesier, behoort, betekenis en vervulling in. Sy sê ʼn sleuteldoelwit van die projek is om kontemporêre konseptuele raamwerke vir kinder- en jeugwelstand, soos subjektiewe welstand en beroepsgeregtigheid, te ontwikkel en uit te brei deur spesifieke insigte oor hierdie populasie in die Suid-Afrikaanse konteks in te sluit.
“Kinders en jongmense met intellektuele en ontwikkelingsgestremdhede word deurgaans uitgesluit van geleenthede vir sosialisering, speel, ontspanning en deelname aan aktiwiteite wat aan hulle plesier en vreugde verskaf. Hulle is dikwels afwesig van of geniet minder prioriteit in besprekings oor hoe menslike verbondenheid, verhoudings, kommunikasie en ʼn sin van doelgerigtheid swak gesondheid help voorkom en geesteswelstand ondersteun, veral gedurende adolessensie en vroeë volwassenheid.
“Hierdie uitsluiting, wat identiteitsvorming, toegang en deelname dwarsdeur die lewensloop nadelig raak, druis regstreeks teen ons land se Grondwet in, asook teen die riglyne van die Afrika-Unie en die Verenigde Nasies.”
Trafford sal oor die volgende vyf jaar met verskeie burgerlike samelewings- en diensorganisasies saamwerk, met die fokus op aktiwiteite wat sosiale interaksie en stimulasie vir jongmense met intellektuele of ontwikkelingsgestremdhede ondersteun. Hierdie organisasies sluit in ʼn branderryspan in ʼn landelike Wes-Kaapse dorp wat mense met verskeie gestremdhede afrig, asook ʼn dansgroep-medewerking tussen ʼn plaaslike teater en ʼn skool vir dowe en gehoorgestremde jongmense.
Die projekontwerp is buigsaam genoeg om beduidende insette van medenavorsers toe te laat en sy sal nou met ʼn Adviespaneel oor Geleefde Ervarings van jongmense met intellektuele en ontwikkelingsgestremdhede saamwerk om die navorsingsagenda van ontwerp tot verspreiding te rig.
Trafford sê die toekenning sal aan haar die geleentheid bied om beter te verstaan wat hierdie inisiatiewe beteken vir die jongmense wat daaraan deelneem, asook wat die organiseerders motiveer om sulke programme aan te bied.
“Ek stel veral belang in die rol van sosiale verbondenheid en aktiwiteite wat individue besig hou en waarde tot hul daaglikse lewe toevoeg, insluitend verhoudings en deelname, asook hoe dit geestesgesondheid en lewensgehalte ondersteun.”
Volgens Trafford sal die toekenning haar ʼn paar jaar gun om nét op die ontwikkeling van ʼn intellektuele projek te fokus, eerder as om navorsing met die gedurige soeke na nuwe befondsingsgeleenthede te balanseer. Sy is dankbaar vir die institusionele ondersteuning van die mededirekteure van haar navorsingseenheid, proff Mark Tomlinson en Sarah Skeen (Instituut vir Lewensloopgesondheidsnavorsing), asook vir die uitgebreide mentorskap en leiding van haar voormalige doktorale studieleier, prof Leslie Swartz van die Departement Sielkunde.
“Omdat die Vroeëloopbaan-toekenning voorsiening vir die uitbreiding van die hoofnavorser se vaardighede maak, sal ek ook opleiding in verskeie kommunikasiemetodes onderneem, insluitend aanvullende en alternatiewe kommunikasie en Suid-Afrikaanse Gebaretaal,” sê Trafford.
“Ek sal leer hoe om dokumente in die ‘maklike lees’-formaat te ‘vertaal’. Dit verbeter die leesbaarheid van geskrewe dokumente vir mense met kognitiewe verswakking of lae geletterdheidsvlakke. Al die uitsette van hierdie projek sal ook vir dié formaat aangepas word. Hierdie vaardigheidsontwikkeling sal my die gereedskap gee wat ek nodig het om ʼn langtermynloopbaan in deelnemende navorsing te begin met jongmense wat sonder spraak of buite die grense van die gesproke woord kommunikeer.”
Benewens verspreiding deur middel van publikasies, beplan Trafford om blywende verhoudings tussen die akademiese, beleids-, programmatiese en dienssektore te vestig, asook om ʼn nadoktorale navorsingsassistent te werf en op te lei. Met die hulp van die Adviespaneel oor Geleefde Ervarings gaan sy haar bevindings vir ʼn stel kopieregvrye kinderboeke aanpas en met gestremde medenavorsingspanne in Uganda en Kenia saamwerk.
Trafford hoop om tot die kommunikasie van die subjektiewe voorkeure en behoeftes van jongmense met intellektuele en ontwikkelingsgestremdhede in Suid-Afrika by te dra. Met hierdie projek beoog sy om erkenning aan hul regte en vermoëns te verleen en die aandag te vestig op die werk van individue en organisasies wat daartoe verbind is om hul horisonne te verbreed.