Deelnemers aan die bekendstelling van die Afrika-streeksamewerking vir landbou, voeding en gesondheid (ANH-ARC) by die Universiteit van Ghana in Accra op 30 April 2026.
US ʼn sleutelspeler in nuwe platform vir sterker voedselstelsels in Afrika
- ʼn Nuwe platform is daarop gemik om die gaping tussen navorsing en implementering ten opsigte van voedselstelsels in Afrika te oorbrug.
- Die inisiatief word gesamentlik gelei deur die Universiteit Stellenbosch, die Universiteit van Ghana en Ethiopië se Instituut vir Beleidstudies.
- Die Afrika-streeksamewerking vir landbou, voeding en gesondheid (ANH-ARC) het ten doel om toegang tot bekostigbare, voedsame en volhoubare voedsel op die hele vasteland te verbeter.
Afrika het nie ʼn tekort aan navorsing oor voedselstelsels nie, maar dit bly ʼn uitdaging om dié kennis om te sit in doeltreffende intervensies vir die verbetering van gesondheid en lewens regoor die vasteland.
ʼn Gevoel van dringendheid om tot aksie oor te gaan was verlede week in Accra tasbaar, waar 'n nuwe inisiatief – die Afrika-streeksamewerking vir landbou, voeding en gesondheid (ANH-ARC) – van stapel gestuur is.
“Die atmosfeer is elektries,” het prof Kennedy Dzama, dekaan van die Fakulteit AgriWetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch (US), gesê toe hy die toneel beskryf het waar navorsers, beleidmakers en ontwikkelingsvennote vir die geleentheid saamgetrek het.
“Daar is 'n tasbare gevoel dat ons woorde in dade moet omsit.”
Só word die gaping oorbrug
ANH-ARC is amptelik op 30 April 2026 by die Universiteit van Ghana geloods. Die inisiatief word gesamentlik gelei deur die Universiteit Stellenbosch (US) in Suider-Afrika, die Universiteit van Ghana (UG) in Wes-Afrika, en Ethiopië se Beleidstudie-instituut (PSI) in Oos-Afrika, in samewerking met die internasionale ANH Akademie se platform vir wetenskap en beleid.
Die platform is daarop gemik om die skakel tussen navorsingsbewyse, beleid en implementering in Afrika-voedselstelsels te versterk ten einde gesondheid, gelykberegtiging en klimaatsveerkragtigheid te bevorder.
“Dit gaan daaroor om te verseker dat ons navorsing nie net in vaktydskrifte opgeteken word nie, maar impak maak op sowel beleid as praktyk,” het Dzama gesê. Hy is een van die nuwe inisiatief se navorsingsleiers.
In woord en daad
Voedselstelsels in Afrika is onder toenemende druk. Ondervoeding bly wydverspreid, terwyl vetsug, mikronutriënttekorte en dieetverwante siektes toeneem.
Klimaatsverandering, ongelykheid en veranderende voedselomgewings vererger hierdie druk.
Navorsers, regerings en streekliggame brei die bewysmateriaal en beleidsraamwerke uit om hierdie uitdagings te oorkom, maar omskakeling in beleid en praktyk bly oneweredig.
ANH-ARC is ontwerp as ʼn geïntegreerde program van begin tot einde – wat bewysgebaseerde navorsing met finansiering, bestuur en implementering verbind.
Deur 'n Afrika-gemeenskap van kundiges te bou, beoog die ANH-ARC om navorsingsbewyse sentraal te stel in besluitneming – en samewerking en aksie te versnel om toegang tot bekostigbare, voedsame en volhoubare voedsel regoor die vasteland te verbeter.
Prof Amos Laar van UG het gesê die inisiatief poog om fragmentering oor sektore heen aan te spreek: “Landbou, voeding en gesondheid kan nie meer in silo’s funksioneer nie – ons moet dié sektore doelbewus verbind.”
Dr Alebel Weldesilassie van die PSI het beklemtoon: “Doeltreffende transformasie van voedselstelsels vereis nie net robuuste navorsingsbewyse nie, maar ook samehangende finansieringsstrategieë en beleidskoördinering oor sektore heen.”
Sy kollega, dr Tseday Mekasha het uitgewys dat geslags- en billikheidsoorwegings ingebed moet wees in hoe navorsingsbewyse oor voedselstelsels gegenereer word, beleid ontwerp word en besluite geneem word – anders loop hulle gevaar om te misluk.
Samewerking gelei deur Afrika
ANH-ARC is doelbewus ontwerp om deur Afrikane gelei te word, terwyl dit ook met die res van die wêreld verbind is.
“Die vennootskap verseker dat Afrika-stemme die agenda bepaal,” het Dzama gesê.
Die inisiatief maak deel uit van die internasionale ANH Akademie, byeengeroep deur die London School of Hygiene & Tropical Medicine (LSHTM) in samewerking met Tufts Universiteit in die Verenigde State en die Universiteit van Sheffield in die Verenigde Koninkryk (VK). Die inisiatief word befonds met steun van die VK se Kantoor vir Buitelandse en Gemenebesontwikkeling (UK FCDO) en die Gates-stigting.
Prof Suneetha Kadiyala van LSHTM het namens die ANH Akademie gesê: “Platforms soos ANH-ARC is belangrik, nie net omdat hulle die omskakeling van bewysmateriaal in beleid versterk nie, maar ook omdat hulle 'n meer billike en streeksgebaseerde manier van kennisproduksie demonstreer.”
“Volhoubare verandering hang nie net af van beter navorsingsbewyse nie, maar ook van vennootskappe.”
Die befondsers het dié klem op samewerking beaam.
“Ek is trots op die VK se belegging in die ANH Akademie en in die ARC. Dis ʼn sterk verbintenis tot navorsing wat deur Afrika gelei word en op wesentlike impak gemik is,” het prof Sir John Edmunds van UK FCDO gesê.
Ana Maria Loboguerrero van die Gates-stigting het bygevoeg dat die inisiatief op ʼn kritieke oomblik kom: “Deur toonaangewende navorsers en beleidkundiges byeen te bring, verbeter die platform toegang tot veilige, bekostigbare en gesonde voedsel. Hulle gebruik bewysmateriaal wat gewortel is in plaaslike omstandighede, wat sal lei tot beter uitkomste regoor die vasteland."
Só pas die Universiteit Stellenbosch in
By die US is die inisiatief gesetel in die Fakulteit AgriWetenskappe, wat die program se bestuurskomponent lei. Die fakulteit word beskou as die beste in Afrika vir landbounavorsing en -onderrig, en word wêreldwyd hoog aangeslaan vir voedselstelselwetenskap.
Die fakulteit se interdissiplinêre aard – insluitend gebiede soos landbou-ekonomie, akkerboukunde, veekunde, plantpatologie en voedselverwante dissiplines – stel dit in staat om oor die volle voedselstelselwaardeketting heen betrokke te raak, van produksie tot voeding en beleid.
Hierdie kapasiteit word verder versterk deur die "Fakulteit van die Toekoms"-inisiatief, 'n belangrike kampusvernuwingsprogram wat daarop gemik is om navorsing, onderrig en infrastruktuur te bevorder om ontluikende uitdagings in voedselstelsels, klimaatsveerkragtigheid en volhoubare landbou die hoof te bied.
Dzama, wat sedert Januarie 2026 dekaan is, is ʼn internasionaal erkende navorser in diereteling, genetika en volhoubare landbou, met ʼn fokus op veestelsels wat veerkragtigheid toon ten opsigte van klimaatsverandering.
Hy het beklemtoon: “Die versterking van bestuurstelsels en verantwoordingsmeganismes sal van kritieke belang wees om kennis in volhoubare impak op groot skaal om te skakel.”
Spanwerk
By die US word 'n multidissiplinêre span byeen gebring om saam aan ANH-ARC se temas te werk.
- Prof Dzama dien as hoofondersoeker
- Prof Scott Drimie is die mede-hoofondersoeker, wat werk lei oor ‘lewende laboratoriums’ en die betrokkenheid van verskeie belanghebbendes
- Prof Lisanne du Plessis en dr Sandra Boatemaa kyk na die bestuur van voedselstelsels
- Dr Obvious Mapiye fokus op die veranderende rol van vee in voedselstelsels
- Julia Harper bestuur die projek
Navorsing aan praktyk gekoppel
ʼn Kenmerk van ANH-ARC is die klem op samewerking tussen verskillende rolspelers. By die US bou dít voort op die werk van die Voedsellaboratorium vir Suider-Afrika (SAFL), wat die staat, universiteite, sakesektor en die burgerlike samelewing saamsnoer in die soeke na oplossings vir komplekse voedselstelseluitdagings.
“Ons bring verskillende dissiplines en akteurs bymekaar om voedselstelseluitdagings op 'n gekoördineerde wyse aan te spreek,” sê Dzama, wat ook die SAFL lei.
Hierdie benaderings – gegrond op dialoog, eksperimentering en samewerking – sal na verwagting help om die gaping tussen kennis en aksie te oorbrug.
Afrika-prioriteite
Die inisiatief is in lyn met relevante raamwerke van die Afrika-Unie, insluitend Agenda 2063, die Omvattende Afrika-landbou-ontwikkelingsprogram (CAADP) 2026–2035, die Kampala-verklaring oor landbou en voedselsekerheid, en die Afrika-kontinentale Vryhandelsgebied (AfCFTA).
Deur navorsing aan hierdie beleidsraamwerke te koppel, beoog ANH-ARC om meer samehangende en gekoördineerde voedselstelseltransformasie regoor die vasteland te steun.
Vooruitskouing
Die ware toets van ANH-ARC sal wees of dit die stelsels (bestuur, koördinering en verantwoordbaarheid) wat benodig word om navorsingsbewyse in dade om te skakel, kan versterk – op kontinentale vlak.
“Ons wil hê dat hierdie werk nie net beleid nie, maar ook praktyk moet beïnvloed. Dít is waar ons impak moet maak,” het Dzama gesê.