Dr Marietjie Lutz en haar vriendin, Juanita Kruger, pak die 2026 Absa Cape Epic aan – 'n uitmergelende 707 kilometer van "rou wildernis" en 15 900 meter se klim.
US-dosent pak epiese uitdaging aan om geld vir wetenskapstudente in nood in te samel
- 'n Eerstejaar-chemiedosent aan die Universiteit Stellenbosch (US), dr Marietjie Lutz, is terug in die saal vir 'n goeie saak – om geld vir studente in nood in te samel.
- 'n Eerstejaar-chemiedosent aan die Universiteit Stellenbosch (US), dr Marietjie Lutz, is terug in die saal vir 'n goeie saak – om geld vir studente in nood in te samel.
- Sy pak die 2026 Absa Cape Epic aan – 'n uitmergelende 707 kilometer van "rou wildernis" en 15 900 meter se klim.
- Lutz is al gesout daarin om fiets te trap vir 'n goeie doel: Sy het al twee keer 600 km van George na Kaapstad gery as deel van die "Wheels of Opportunity – WOOP"-inisiatief.
'n Eerstejaar-chemiedosent aan die Universiteit Stellenbosch (US), dr Marietjie Lutz, is terug in die saal vir 'n goeie saak – om geld vir studente in nood in te samel. Maar hierdie keer pak sy die 2026 Absa Cape Epic aan – 'n uitmergelende 707 kilometer van "rou wildernis" en 15 900 meter se klim.
"Dit gaan moeilik wees; dit gaan 'n monster wees. Maar ons is opgewonde en ons is gereed," sê sy, met net 'n paar dae oor voordat sy en haar fietsrymaat, Juanita Kruger, eerskomende Sondag 15 Maart by die Meerendal-wynlandgoed wegspring vir die proloog.
Die voltydse dosent en ma van vier klim elke weeksoggend om 05:00 op haar fiets ter voorbereiding van hierdie veeleisende prestige bergfietswedren. Haar dogter, Isabel, in graad 12 by Bloemhof, sluit dikwels by haar aan vir die oggendritte as ondersteuning en motivering. Lutz spandeer ook tot tien uur oor naweke op haar fiets. Gelukkig is hierdie uitdaging 'n "spanpoging", en die Lutz-gesin help waar nodig wanneer Ma moet oefen.
Lutz is al gesout daarin om fiets te trap vir 'n goeie doel: Sy het al twee keer 600 km van George na Kaapstad gery as deel van die "Wheels of Opportunity – WOOP"-inisiatief. Die idee vir WOOP het ontstaan nadat Lutz in 2022 ontdek het een van haar studente staar haweloosheid in die gesig weens finansiële nood, terwyl die student steeds akademies presteer het. Sy het besluit om voorgraadse BSc-studente wat finansieel sukkel, deur 'n geldinsamelingsfietsuitdaging te ondersteun.
Vanjaar gaan Lutz weer die Maties #Move4Food-inisiatief deur WOOP ondersteun, en sy hoop om ten minste R100 000 vir studente in nood in te samel. Verlede jaar het WOOP sy teiken oortref en die veldtog het die afgelope twee jaar altesame R180 000 ingesamel.
Viering van mylpale
Lutz het verlede jaar 50 geword het, en sê die Epic is die ideale manier om hierdie mylpaal te vier – deur die lewe te vier en terug te gee aan diegene wat dit die nodigste het. Dit sal nie die eerste keer wees dat sy hierdie hoogtepunt op die bergfietskalender aanpak nie. Nadat sy dit in 2016 en 2017 voltooi het, sal hierdie derde wedren aan haar lidmaatskap van die Amabubesi, die Absa Cape Epic Finisher Club, besorg. “Amabubesi” beteken "trots van leeus" in Zoeloe.
Kruger, Lutz se fietsreismaat, vier ook 'n belangrike mylpaal – om tien jaar kankervry te wees. Kruger, 'n teaterverpleegkundige van Somerset-Wes, sal ook 'n lid van die gesogte Amabubesi word wanneer hulle op 22 Maart die wedren voltooi. "Ek kan nie aan iemand beter as sy dink om dit mee saam te doen nie."
Verander lewens
Die uitdaging laat Lutz weer eens toe om haar liefde vir fietsry met 'n goeie doel te kombineer. Sy vertel dat die student wat verlede jaar deur haar WOOP-inisiatief gehelp is, nou in haar finale jaar is. As een van die sogenaamde "verlore middel"-studente wat nie vir regeringsfinansiering gekwalifiseer het nie, het Lutz se ondersteuning haar in staat gestel om vir haar studie te registreer. Blessed Muyanga, die student wat vier jaar gelede die WOOP-geldinsamelingspoging geïnspireer het, gradueer in Maart aan die US. "Dit is belangrik om nie net op jouself te fokus nie, maar om 'n bydrae – maak nie saak hoe klein nie – tot iemand anders se toekoms te maak," sê Lutz.
Met net 'n paar dae oor voordat hulle vir hierdie ikoniese wedren wegspring, erken Lutz die senuwees knaag wel 'n bietjie. "Groei gebeur selde in die gemaksones. Uitdagings soos die Cape Epic por jou fisies en geestelik aan, maar wanneer jy vir iets groter as jouself ry, word die motivering sterker as die ongemak."
Om 'n bydrae te maak, besoek: < https://www.givengain.com/project/marietjie-raising-funds-for-stellenbosch-university-south-africa-120424>