Toekennings vir Kampvegters vir Sosiale Geregtigheid vier onbesonge helde
- Die Universiteit Stellenbosch het Suid-Afrika se onbesonge kampvegters vir gelykheid met die jaarlikse Toekennings vir Kampvegters vir Sosiale Geregtigheid vereer.
- Dr Sheena Swemmer, Sonja Cilliers, Chevano Frans en Lesego Louw is erken vir die bevordering van geregtigheid en gemeenskapsopheffing.
- Sprekers het ’n oproep om gesamentlike optrede gedoen en gaste daaraan herinner dat maatskaplike geregtigheid empatie, moed en gedeelde verantwoordelikheid vereis.
Suid-Afrika se onbesonge kampvegters vir gelykheid en maatskaplike impak is onlangs by 'n formele gala by die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum deur die Sentrum vir Sosiale Geregtigheid (CSJ) aan die Universiteit Stellenbosch (US), in samewerking met Champion South Africa, met sy jaarlikse Sosiale Geregtigheid-kampvegtertoekennings vereer. Die geleentheid, wat deel was van die sesde Internasionale Konferensie oor Sosiale Geregtigheid en die sewende Beraad oor Sosiale Geregtigheid, het hooggeplaastes, akademiese leiers, korporatiewe vennote en die burgerlike samelewing byeengebring vir 'n aangrypende viering van vordering in die stryd teen ongeregtigheid.
Van die feminis-regsgeleerde dr Sheena Swemmer tot die gemeenskapsopvoeder Sonja Cilliers en jeugleiers Chevano Frans en Lesego Louw, het die aand die kollig op individue laat val wie se moed, deernis en toewyding lewens verander. Hulle verhale van voorspraak en innovasie het gaste daaraan herinner dat die strewe na geregtigheid nie net 'n morele plig is nie, maar 'n gesamentlike daad van hoop.
Vermaak deur die gevierde musikant Solomon Mathipa en die gesprokewoord-kunstenaar Bulelwa Basse het die toon aangegee vir 'n aand van nadenke, inspirasie en kollektiewe vasberadenheid. Programdirekteure Nosipho Nzube, Kaapstadse takvoorsitter van die Swart Bestuursforum, en die omgewingsaktivis Catherine Constantinides het die geleentheid se sentrale tema beaam: maatskaplike geregtigheid is nie 'n toeskouersport nie.
Prof Thuli Madonsela, Direkteur van die CSJ en die bekleër van die Regstrust-navorsingsleerstoel in Sosiale Geregtigheid in die US se Fakulteit Regsgeleerdheid, het haar in haar openingsrede op Wêreldvoedseldag beroep – wat met die gala saamgeval het – om 'n sleutelboodskap te beklemtoon: "Voedselsekerheid is nie net 'n nasionale of kontinentale imperatief nie, maar 'n wêreldwye een. Ware sosiale geregtigheid verseker elke persoon se waardigheid en die regverdige verdeling van geleenthede, hulpbronne, voorregte en laste," het Madonsela gesê.
Sy het die gehoor daaraan herinner dat dit nog nooit so belangrik was om kampvegters vir sosiale geregtigheid te vier nie. Madonsela het gesê dit is in 'n wêreld van oorvloed maar toenemende verdeeldheid – waar algoritmes haat versterk en ongelykheid groter word – van die uiterste belang dat hierdie kampvegters gesien, gehoor en erken word sodat hulle voorbeeld ander kan inspireer.
Sy het die aanhef van die Suid-Afrikaanse Grondwet aangehaal en die gehoor herinner aan die land se verbintenis daartoe om die wonde van die verlede te genees en 'n verenigde toekoms te bou. "Die mense wat ons vanaand erken, maak seker dat sosiale geregtigheid nie 'n verbygaande tendens is nie, maar die hartklop van ons menslikheid," het Madonsela opgemerk.
Die medevoorsitter van die Raad van Kampvegters vir Sosiale Geregtighed (‘Council of Social Justice Champions’), die sakevrou en filantroop Basetsana Kumalo, het maatskaplike geregtigheid as "elke persoon se menslikheid wat verwesenlik word deur die regverdige en billike verdeling van die samelewing se voordele" gedefinieer. Sy het die deurslaggewende rol van inklusiewe dialoog en die belangrikheid daarvan om bydraes tot gelykheid en geregtigheid te erken, beklemtoon.
Die geleentheidspreker, Roy Bagattini, uitvoerende hoof van die Woolworths-groep, het besin oor die skynbare teenstrydigheid van vooruitgang in 'n gebroke wêreld en die morele verantwoordelikheid van die sakewêreld om maatskaplike en ekonomiese skeidings te help oorbrug. Hy het gewaarsku dat ongelykheid, waninligting en die erosie van vertroue in instellings demokrasie en menswaardigheid bedreig. Geregtigheid, het hy gesê, is nie 'n abstrakte ideaal nie, maar 'n daaglikse daad van moed wat empatie, insluiting en morele oortuiging vereis – veral in tye wanneer deernis te maklik as swakheid afgemaak word.
"Wette alleen bou nie geregtigheid nie, maar mense wel," het Bagattini beklemtoon. "Die onus rus dus op ons as individue en as maatskappye om maatskaplike geregtigheid in ons samelewing 'n werklikheid te maak." Hy het Woolworths se verbintenis tot maatskaplike geregtigheid uiteengesit en bygevoeg: "Menswaardigheid is nie onderhandelbaar nie. Hoe ons ons mense – werknemers en kliënte – behandel, weerspieël ons verbintenis tot maatskaplike geregtigheid. Ons reis is deurlopend, ongemaklik, maar tog uiters noodsaaklik."
Bagattini het ook aangekondig dat Woolworths finansiële ondersteuning aan die CSJ sal verskaf vir sleutelaanstellings ter ondersteuning van die Musa-plan vir sosiale geregtigheid. "Die samewerking weerspieël ons oortuiging dat die bevordering van maatskaplike geregtigheid meer as verklarings verg. Dit verg belegging, vennootskap en vasberadenheid, en ons is geëerd om deel van hierdie belangrike werk te wees," het hy gesê.
Die oorhandiging van die toekennings wat erkenning aan diegene gee wat buitengewone bydraes tot die bevordering van gelykheid in Suid-Afrika lewer, was een van die vernaamste items op die program.
- Sosiale Geregtigheid-kampvegter van die Jaar
Dr Sheena Swemmer, feminis-prokureur, aktivis en hoof van die Gendergeregtigheidsprogram by die Sentrum vir Toegepaste Regstudie aan die Universiteit van die Witwatersrand, is as Sosiale Geregtigheid-kampvegter van die Jaar aangewys. Die prys van R40 000 is deur die Swart Bestuursforum geborg. Swemmer se werk – om geweld teen vroue uit te daag en wetlike raamwerke vir toestemming en aanspreeklikheid te herbedink – is as transformerend geloof. Sy het haar toekenning aan die mense opgedra wat moedig die menseregte en waardigheid van gewone Suid-Afrikaners in hofsale en gemeenskappe verdedig. - Brugbouertoekenning
Die Brugbouertoekenning – vernoem ter nagedagtenis aan dr Beatrice Wiid, 'n pionier in die oorbrugging van skeidings – is aan Sonja Cilliers, uitvoerende direkteur van MathMoms NPC, toegeken. Haar organisasie bemagtig ma’s uit gemeenskappe met min hulpbronne om deur mentorskap en gemeenskapsgebaseerde wiskunde-ondersteuning syfervaardighede en selfvertroue onder jong leerders te verbeter. Cilliers het die gehoor daaraan herinner dat "geregtigheid nie net in hofsale plaasvind nie". "Geregtigheid is hoe ons na mekaar kyk, hoe ons met mekaar praat – die vriendelikheid wat genesing word." - Toekennings vir die opkomende sterre vir sosiale geregtigheid
Twee dinamiese jong leiers, Chevano Frans en Lesego Louw, het toekennings as opkomende sterre ontvang – elk vergesel van 'n kontantprys van R25 000 wat deur die Nasionale Jeugontwikkelingsagentskap geborg is. Frans, 'n professionele gemeenskapsontwikkelingspraktisyn en gegradueerde van die TSIBA-sakeskool, is vir inisiatiewe soos Chev's Kitchen – 'n gemeenskapsopkombuis – en sy leierskap by Rotaract Waterfront erken. Hy is ook as een van die "100 Young Mandelas" vir sy liefdadigheidswerk aangewys. Louw, 'n Jeugregte-medewerker by die Verenigde Nasies se Menseregtekantoor, is vir haar voorspraak teen studentehaweloosheid, haar #DemocracyWeek veldtog en haar toewyding aan vroue- en jeugregte beloon. Sy het die politieke aktivis Charlotte Maxeke aangehaal en gesê: "Hierdie werk is nie vir jouself nie … As jy opgang maak, neem iemand saam." Louw het bygevoeg: "Hoewel my naam op hierdie toekenning verskyn, behoort dit aan al die sterk vroue wat my voorafgegaan het."
Zinzi Mgolodela, Woolworths se Direkteur: Korporatiewe Maatskaplike Geregtigheid, het die verrigtinge afgesluit deur gaste daaraan te herinner dat maatskaplike geregtigheidswerk moeilik is. "Maar wanneer ons ons pogings met oortuiging belyn, kan ons lewens verander en niemand agterlaat nie."
Die geleentheid, geborg deur vennote soos die Swart Bestuursforum en die Makwanda-bemagtigingstrust, is met 'n besielende oproep vir almal wat teenwoordig was – en vir alle Suid-Afrikaners – afgesluit om 'n regverdiger, meer deernisvolle samelewing te help bou.
- Die beoordelaars vir die 2025 Toekennings vir Kampvegters vir Sosiale Geregtigheid was prof Thuli Madonsela, Thembalethu Seyisi (navorsingsbeampte by die CSJ), Ashraf Garda (uitsaaier en stigter van Champion South Africa), die gevierde akteur John Kani, dr Louise van Rhyn, Basetsana Kumalo en Zinzi Mgolodela.