Skip to main content
Language day banner
Image by: Supplied

Deelnemers aan die US se Taaldag, aangebied deur die Taalsentrum by STIAS, waar studente en personeel besin het oor veeltaligheid as ‘n hoeksteen van toegang en transformasie.

Kunste, tale en sosiale wetenskappe Institusionele nuus Gebeure

Taaldag besin oor meertalige ingesteldheid as bepaler van studentesukses

Corporate Communications
07 Oktober 2025
  • Taaldag het beklemtoon hoe veeltaligheid toegang en sukses in alle areas van studentelewe aan die US versterk.
  • Studente en personeel het ervarings gedeel wat illustreer hoe taal identiteit, leer en betekenisvolle betrokkenheid in ‘n veeltalige gemeenskap vorm.
  • Besprekings het bevestig dat taal sentraal staan tot transformasie – ‘n brug na waardigheid, geleentheid en wedersydse begrip.

Meertaligheid by die Universiteit Stellenbosch (US) het ’n ryke en unieke geskiedenis, en is diepgewortel in die Suid-Afrikaanse konteks. Dit is ook ’n kerndeel van die Universiteit se voortgesette werk van restitusie, transformasie, billikheid en respek. 

Gesprekke by vanjaar se Taaldag, ’n tweejaarlikse geleentheid wat die stand van meertaligheid by die US weerspieël, het gehandel oor hoe taal elke tree van die studentereis beïnvloed – van registrasie tot gradedag. Die Taalsentrum het die geleentheid vroeg in September by die Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Navorsing (STIAS) aangebied, en ’n groep van sowat 100 studente en personeellede uit alle dele van die Universiteit het deelgeneem. Die twee interaktiewe paneelbesprekings, kleingroepbesprekings en algemene terugvoersessies op die program het op taal in akademiese, sosiale en leefruimtes sowel as in die werkswêreld gekonsentreer. Elke gesprek is deur die lens van meertaligheid en respek vir taaldiversiteit benader, en het ook kernaspekte van interkulturele bevoegdheid aangeroer, soos om te luister vir begrip, en om verskillende multikulturele kontekste te respekteer.

Gesprekke oor taal by die US is nie altyd eenvoudig nie, maar geleenthede soos Taaldag toon die vele maniere waarop meertaligheid en multikulturalisme aktief gevier en in die universiteitslewe geïntegreer word. Die dag se aktiwiteite het getoon dat taal en kultuur vloeibaar is en gerespekteer word – van tolke wat grappe en nuanses moeiteloos tussen isiXhosa-, Afrikaans- en Engelssprekendes oordra, tot boeiende gesprekke in deelnemers se voorkeurtaal eerder as ’n voorgeskrewe taal, en die viering van Afrikaanse kultuurdiversiteit en die maniere waarop dit deel geword het van die restitusieprojek. 

Die US se Rektor en Visekanselier, prof Deresh Ramjugernath, het in sy openingsrede die toon aangegee vir die dag se besinning oor samehorigheid en toegang deur taal. “Elke twee jaar kom ons bymekaar vir Taaldag; nie om beleid of strukture te bespreek nie, maar om eerlike gesprekke te hê oor hoe taal ons daaglikse ervarings beïnvloed,” het hy gesê. Hy het deelnemers daaraan herinner dat taal by die US oor sowel identiteit as pedagogie gaan, en bygevoeg: “Taal is nooit neutraal nie: Dit bepaal wie ingesluit voel, wie se kennis op prys gestel word, en hoe ons die wêreld om ons verstaan.”

Ramjugernath het verduidelik hoe die US se benadering tot taal op nasionale beleid en die realiteite van ’n meertalige vasteland in ’n geglobaliseerde wêreld gegrond is. Engels oorheers dalk in die hoër onderwys en die werkplek, het hy opgemerk, maar dít versterk juis die argument vir meertaligheid eerder as om dit te verswak. “Vir ons in die hoër onderwys is meertaligheid nie opsioneel nie,” het hy gesê, en die gehoor herinner aan die tipe graduandi wat die Universiteit graag wil oplewer: leerders met ’n ondersoekende gees, dinamiese beroepslui en betrokke burgers wat oor verskille heen kan kommunikeer.

Die eerste paneel het gehandel oor insluiting, betrokkenheid en samehorigheid vir studentesukses. Onder leiding van dr Benita Bobo (Sentrum vir Onderrig en Leer) het paneellede dr Heidi October (Sentrum vir Studentelewe en -leer), dr Simthembile Xeketwana (Afrikatale), In-Aam Kafaar (primaria van Silene, en student in Algemene Taalwetenskap) en Gerrit Stemmet (voorsitter van Dagbreek se Meertaligheidskomitee, en student in Datawetenskap) oor hulle sienings en persoonlike ervarings gesels. Xeketwana het navorsing voorgelê oor die gevoel van taalmarginalisasie by studente wie se skoolloopbaan in landelike of townshipskole verskeie tale ingesluit het, maar wat met die oorgang na uitsluitlik Engelse tersiêre onderrig voor akademiese en sosiale hindernisse te staan gekom het. 

Die tema van die tweede paneel was meertalige bevoegdheid as ’n graduandi-kenmerk met die oog op wêreldburgerskap. Fasiliteerder dr Katlego Letlonkane (Menslike Hulpbronne) het haar eie intensionele gebruik van Tswana en haar agtergrond in die arbeidsreg by die gesprek ingeweef. Paneellede prof Karin Wolff (onderrig-en-leeradviseur in Ingenieurswese), prof Marcelyn Oostendorp (Algemene Taalwetenskap), Simangele Mashazi (Algemene Taalwetenskap) en Sarah Richmond (Eenheid vir Globale Leer, US Internasionaal) het sienings uitgeruil. Wolff het beklemtoon interkulturele bevoegdheid is deurslaggewend vir beroepsukses en bedryfserkenning, veral noudat die klem toenemend op wêreldwye aanstelbaarheid val. Richmond het oor “tuis-internasionalisering” en wêreldburgerskap as uitkomste van meertalige praktyk op kampus gesels, terwyl Oostendorp en Mashazi hulle gedagtes oor ’n taalburgerskapsbenadering tot onderrig en leer met die gehoor gedeel het. 

Deelnemers se terugvoer het praktiese aspekte uitgelig. “Aanvaar individueel verantwoordelikheid daarvoor om ander se taal aan te leer,” het een gesê. “Doen dit ongeag jou vrese, selfs al klink jy moontlik anders of snaaks.” Die deelnemer het bygevoeg dat dosente “dit ook in die klaskamer moet modelleer”. Ander het gesê personeel en studente moet aansporings ontvang om hulle meertaligheidsvaardighede te bou, en dat kunsmatige intelligensie strategies gebruik kan word om taalleer en onderlinge begrip te fasiliteer. Eenvoudige gebare maak óók saak, soos geblyk het uit een deelnemer se voorstel dat dosente “kernfrases of -woorde uit ander tale kan gebruik terwyl hulle klasgee om te wys hulle gee om”. 

Die waarnemende Viserektor: Leer en Onderrig, prof Richard Stevens, het die dag afgesluit deur die elemente van samehorigheid, identiteit en toegang saam te bind. “Julle stemme en stories het ons aan die kern van vandag se tema herinner: dat taal nooit net oor woorde gaan nie. Dit gaan oor samehorigheid, identiteit en toegang,” het hy gesê. Hy het kollegas aangemoedig om transtaling – die dinamiese gebruik van verskillende tale in een ruimte – te omarm. “Transtaling is allesbehalwe verdelend; dit bring ons eerder bymekaar,” het hy gesê.

Die oorkoepelende beginsel wat uit die dag se gesprekke geblyk het, was dat taal ’n brug is. Soos Ramjugernath dit gestel het: “Om studente as gevolg van taal van volle deelname uit te sluit ontneem hulle van waardigheid, geleenthede en toegang. Om te transformeer, moet ons taal eerder as ’n brug beskou.” 

Verwante stories