Skip to main content
Matie is new CEO of USA Tennis / Matie nuwe uitvoerende hoof van VSA-tennisvereniging
Image by: Supplied

Craig Tiley(Ekon 1983) is aangestel as uitvoerende hoof van die Verenigde State-tennisvereniging. 

Toekennings en mylpale Sport

Matie-alumnus nuwe uitvoerende hoof van Verenigde State-tennisvereniging

Ontwikkeling en Alumni
06 Maart 2026
  • Stellenbosch tot die wêreldverhoog.
  • ’n Lewenslange Maties-verbintenis.
  • Hy is van plan om ’n herlewing in Suid-Afrikaanse tennis te help skep deur die vestiging van ’n nuwe Stellenbosch Raketsentrum.

Van die Maties-tennisbane op Stellenbosch tot leier van een van die grootste organisasies in wêreldtennis – dít is die kort weergawe van Craig Tiley, Universiteit Stellenbosch- (US-)alumnus (Ekon 1983), se opgang tot uitvoerende hoof van die Verenigde State-tennisvereniging (USTA). Hy sal teen die middel van die jaar sy nuwe amp aanvaar. Vanuit die Verenigde State, waar hy gereed maak vir dié skuif, verduidelik Craig: “Ek het ná 13 jaar as uitvoerende hoof van Tennis Australië besluit dit is tyd vir ’n nuwe uitdaging.

“Ek is baie opgewonde oor die geleentheid by USTA, want ek sal verantwoordelik wees vir alle aspekte van die spel in die Verenigde State, waaronder die Amerikaanse Ope,” voeg hy by. “Die Verenigde State het die meeste topspelers, sowel mans as vroue; dit bied die meeste elite-wêreldtennisbyeenkomste aan, en het die hoogste deelnamesyfers. Bykans 28 miljoen mense speel gereeld tennis in Amerika, en daar is boonop geleentheid om die getal spelers verder te verhoog.” 

Craig sal met spanne van oor die hele land saamwerk om tennis in die verskillende state uit te bou, en met die nasionale kantoor om die sport nasionaal te laat groei. Hy sal aan die stuur staan van ’n span van 800 mense by USTA, waarvan die hoofkantoor in New York en Orlando, Florida, geleë is.

“Ek sal aanvanklik luister en leer om te identifiseer wat gedoen moet word, en om ál die fantastiese goed wat my voorgangers gedoen het behoorlik te verstaan,” sê hy. “Dit is immers danksy hulle uitstekende werk dat meer mense in die Verenigde State deesdae tennis speel as ooit vantevore, en dat al hoe meer topspelers hulle verskyning maak.”

Hy is nogtans hartseer om Tennis Australië te verlaat, sê Craig. “Dit was ’n voorreg om daar te werk, en ons het ’n voortreflike span gebou wat dinge nou tot die volgende vlak sal voer. Vir my is dit sowel persoonlik as professioneel baie belangrik dat ek Tennis Australië in ’n beter toestand agterlaat as toe ek daar begin het.”

Craig, sy vrou, Alicia, en hulle drie kinders, wat almal in Australië gebore is, sal saam van Melbourne na Florida verhuis. “Dit is moeilik vir die kinders om hulle hegte vriende in Australië agter te laat, maar hulle sal wel in kontak bly,” sê hy.

Hulle dogter, Marlowe, is 13 en ’n goeie basketbalspeler, en 12-jarige tweelingseuns Archer en Weston is bedrewe op die tennisbaan. Craig sê ál tennis wat hy deesdae speel, is saam met die tweeling.

Alicia is Amerikaans en sien daarna uit om met familie en vriende herenig te word. “Dis nie maklik om weg te wees van jou familie nie,” sê Craig. “Ek is dit my lewe lank gewoond, maar ek besoek darem my familie in Suid-Afrika so gereeld moontlik. Ek hoop om in April vanjaar weer te kom kuier.”

Craig het die US die eerste keer beleef as ’n 16-jarige skoolseun aan die Hoërskool Bryanston in Johannesburg, waar hy vir die eerste span tennis gespeel het. Hy het die Universiteit in die skoolvakansie vir ’n tenniskamp besoek. “Die Maties-tenniskamp is deur twee ongelooflike afrigters, Jaroslav Houba en Philip Soderlund, aangebied, en baie van die top- en opkomende spelers het dit bygewoon,” onthou hy. Hy sê hy het “dadelik verlief geraak” op die US. “Lesings was destyds in Afrikaans, wat nie my eerste taal is nie, maar ek het dit as vak op skool gehad, so ek was vasberade om ’n Matie te word. Ek het in 1980 vir my Ekonomie-graad ingeskryf. Ek het met ’n Afrikaans-Engels-woordeboek langs my handboeke gestudeer, en dit was lekker om Afrikaans vlot te leer praat.”

Craig het van 1980 tot 1983, toe hy gegradueer het, vir Maties eerstespan tennis sowel as hokkie gespeel. 

Hy is van plan om ’n herlewing in Suid-Afrikaanse tennis te help skep deur die vestiging van ’n nuwe Stellenbosch Raketsentrum. Craig is by die projek betrek deur sy interaksie met Karen Bruns en Hans Scriba van die Universiteit Stellenbosch, sowel as John-Laffnie de Jager, ’n voormalige toptennisspeler van Suid-Afrika. Hy is al geruime tyd besig met fondswerwing om dié tennisontwikkelingsentrum op kampus te bou. “Dit sal die spel op universiteits- én skoolvlak bevorder, met fasiliteite waar jong spelers van oor die hele Afrika kan kom afrigting kry,” verduidelik hy.

“Ek wil graag teruggee aan die US, want wat ek in my lewe en loopbaan bereik het, is grootliks danksy die grondslag wat ek op Stellenbosch ontvang het, waarvoor ek baie dankbaar is.”

Hy doen ’n beroep op sportsterre, individue met ’n hoë netto waarde en organisasies wêreldwyd om tot die tennissentrum by te dra. “Ek is bevoorreg om te kan vriende wees met mense wat die hoogste vlak in tennis bereik het, wat almal met fondswerwing help. Ons is sterk op pad om die nodige finansiering te bekom, en ons wil graag binne die volgende 12 tot 18 maande begin bou,” sê hy. Ek is baie opgewonde daaroor, want ek glo werklik dit is belangrik om op jou lewensreis ook diegene te ondersteun wat ná jou kom. Ek sal graag wil sien dat Suid-Afrikaanse tennis weer goed vaar en een van die dae ’n wêreldkampioen oplewer.” 

Merkers

Ekonomie

Verwante stories