Skip to main content
Mr Bernard Fick, an independent non-executive director of companies, was elected as the Chair of the Stellenbosch University (SU) Council at a scheduled meeting on 13 April 2026.

Mnr Bernard Fick, 'n onafhanklike nie-uitvoerende direkteur van maatskappye, is op 13 April 2026 by 'n geskeduleerde vergadering as voorsitter van die Universiteit Stellenbosch (US) Raad verkies

Persverklaring

Bernard Fick as nuwe voorsitter van Universiteit Stellenbosch Raad verkies

Stellenbosch University
14 April 2026
  • Mnr Bernard Fick, 'n onafhanklike nie-uitvoerende direkteur van maatskappye, is op 13 April 2026 by 'n geskeduleerde vergadering as voorsitter van die Universiteit Stellenbosch Raad verkies.
  • Die verkiesing van die voorsitter het volgens die proses wat in die US-statuut voorgeskryf word, verloop en moes uit spesifieke kategorieë van eksterne raadslede geskied.
  • Fick is 'n US-alumnus en 'n aktuaris van beroep (geoktrooieerde aktuaris en 'n genoot van die Fakulteit van Aktuarisse) en werk reeds meer as 30 jaar in die finansiële sektor.

Mnr Bernard Fick, 'n onafhanklike nie-uitvoerende direkteur van maatskappye, is op 13 April 2026 by 'n geskeduleerde vergadering as voorsitter van die Universiteit Stellenbosch (US) Raad verkies.

Fick, wat in 2024 deur skenkers verkies is as een van drie lede van die Raad wat deur die kieskollege van skenkers verkies word, dien ook as lid van die Uitvoerende Komitee van die Raad, voorsitter van die Oudit- en Risikokomitee (ORK) en lid van die Beleggingskomitee. Hy was die enigste benoeming. Ingevolge US-regulasies sal hy nou uit die ORK tree. 

Die verkiesing van die voorsitter het volgens die proses wat in die US-statuut voorgeskryf word, verloop en moes uit spesifieke kategorieë van eksterne raadslede geskied.

Die termyn van die vorige voorsitter, dr Nicky Newton-King, het op 1 April geëindig. Sy het besluit om haar nie weer as skenkerkandidaat vir die Raad beskikbaar te stel nie.

Fick het dit as 'n groot eer beskryf om met hierdie verantwoordelikheid vertrou te word: "Die Universiteit Stellenbosch het 'n trotse geskiedenis en 'n duidelike sin van doelgerigtheid. Ek sien uit daarna om saam met die Raad en die Universiteitsleierskap te werk om die voortgesette verwesenliking van sy visie en strategiese doelwitte te ondersteun. Ons sal daarop fokus om sterk oorsigbestuur, aanspreeklikheid en volgehoue vordering in diens van die instelling en die breër samelewing wat dit dien, te verseker."

Die US se Rektor en Visekanselier, prof Deresh Ramjugernath, het Fick met sy verkiesing gelukgewens en gesê sy aanstelling kom op 'n belangrike tydstip vir die Universiteit. "Bernard bring 'n seldsame kombinasie van groot finansiële kundigheid, sterk bestuurservaring en 'n duidelike begrip van die Universiteit Stellenbosch se konteks en aspirasies. Sy langtermynverbintenis met die instelling, tesame met sy professionele rekord, plaas hom in 'n goeie posisie om die Raad met integriteit en versiendheid te lei. Ek sien uit daarna om nou saam met hom te werk terwyl ons voortgaan om die Universiteit se strategiese prioriteite en langtermynvolhoubaarheid te bevorder."

Fick is 'n US-alumnus en 'n aktuaris van beroep (geoktrooieerde aktuaris en 'n genoot van die Fakulteit van Aktuarisse) en werk reeds meer as 30 jaar in die finansiële sektor. Hy was onder meer 14 jaar aan Prudential Investment Managers (nou M&G Investments Southern Africa) verbonde, waar hy vir 12 jaar die hoof- uitvoerende beampte was.

Hy dien steeds as 'n onafhanklike nie-uitvoerende direkteur van die M&G (Suid-Afrika) Global Funds ICAV. Hy is ook 'n onafhanklike nie-uitvoerende direkteur van Alexforbes Investments Ltd, Alexforbes Investments Unit Trusts Ltd en Alexforbes Invest Nominees (Rf) Ltd.

Hy is in 2023 as 'n onafhanklike lid van die beleggingskomitee van die US Raad en in 2024 as lid van die Oudit- en Risikokomitee gekoöpteer. 

Fick is 'n ywerige gholfspeler en fietsryer. Hy en sy vrou, Liezel, het twee volwasse kinders wat albei aan die US studeer.

Merkers

Raad

Verwante stories