Amogelang Moagi het geweldige uitdagings oorkom om ’n graad in arbeidsterapie te verwerf.
Amogelang Moagi laat nie toe dat staalheup, hartseer haar graadvreugde steel nie
- Amogelang Moagi het ’n baccalaureusgraad in arbeidsterapie verwerf.
- Sy moes ’n traumatiese aanranding, heupoperasie, en haar moeder se dood oorkom.
- Sy dra die graad op aan haar moeder.
“ ’n Heup van staal en ’n hart van staal.” Só beskryf Amogelang Moagi se dosent dr Susan de Klerk haar. Hierdie woorde is veral gepas, gegewe die geweldige uitdagings wat Moagi, wat van Klipgat in Noordwes afkomstig is, oorkom het op haar reis na die voltooiing van haar baccalaureusgraad in arbeidsterapie aan die Universiteit Stellenbosch (US). Sy het Donderdag (11 Desember 2025) gegradueer by die US se Desember-gradeplegtigheid.
Van herstel op krukke ná ’n heupoperasie wat op ’n traumatiese aanranding gevolg het, tot om die diepe hartseer oor die verlies van haar ma te verwerk, is Moagi se verhaal een van veerkragtigheid, deursettingsvermoë, vasberadenheid en onwrikbare geloof. Sy sê dit het oorweldigend gevoel om hierdie fisieke en emosionele uitdagings in haar akademies veeleisende finale jaar die hoof te bied.
“Elke tree met daardie krukke het my herinner aan wat gebeur het. Ek moes elke dag wakker word en myself daaraan herinner dat ek ondanks alles sterk is – en dat ek dit suksesvol tot by die einde sou maak.
“Emosioneel het ek hiperwaaksaam geword – sekere ruimtes en mense vermy om te verhoed dat ek getrigger word. Ek moes ’n ritme skep wat my genesing beskerm het: rus tussen klasse, dinge stadiger doen, en myself toelaat om sonder skuldgevoelens op ander te vertrou.”
Weer opstaan
Om haar ma gedurende haar finale jaar te verloor, was werklik verpletterend, sê Moagi.
“My ma was my grootste ondersteuner, en haar grootste droom was om my te sien gradueer. Hierdie droom het my vorentoe gedryf. Om te weet dat sy in my geglo het – tot haar laaste asemteug – het my leidende lig geword. Haar woorde, ‘moenie toelaat dat enigiets wat by die huis gebeur jou studie beïnvloed nie’, het my anker geword – die sin waaraan ek vasgehou het op die dae wat ek gevoel het ek wou ineenstort.
“Hierdie woorde was haar seën. Hulle het my daaraan herinner dat sy wou hê my toekoms moes groter as my pyn wees. Ek het met haar stem in my hart gewerk, en dit het my deur die donkerste oomblikke gedra.
“Elke werkopdrag, elke pynlike dag, elke vroeë oggend het ek haar saam met my gedra. Om te gradueer het meer as ’n plegtigheid geword – dit het ’n belofte geword wat ek aan haar en aan myself gemaak het.”
Moagi, wat geseën is met hardnekkige vasberadenheid, het geweier om haar aan trauma, vrees of pyn oor te gee. In plaas daarvan het sy besluit om elke keer weer op te staan en aan te hou beweeg, al was dit stadig, versigtig of in trane.
“Om te weet dat daar mense is wat in my glo, het my ook die moed gegee om aan te gaan. Om met my studie voort te gaan, het my manier geword om my ma te eer en haar droom vorentoe te dra.”
Moagi sê haar geloof het haar die gerusstelling gegee dat sy nie haar donkerste oomblikke van besering en verlies alleen hoef te hanteer nie.
“Op dae wat ek verlate gevoel het, het gebed my gedra. Op dae wat ek alleen gevoel het, het ek gevoel hoe my ma en my voorouers langs my loop. En selfs op dae toe God ver gevoel het, het ek vasgehou aan die stille versekering dat ek nie hierdie reis alleen stap nie. Geloof het my daaraan herinner dat my storie gerig, beskerm en veel groter is as die pyn wat ek deurgemaak het.”
Ondersteuningstelsel
Sy is ook dankbaar teenoor haar vriende, klasmaats, dosente en die US dat hulle haar oor die wenstreep gehelp het.
“My ondersteuningstelsel was ongelooflik sterk. Ek was afhanklik van my maats in my koshuis vir eenvoudige take soos aantrek, bad en kos voorberei. My vriende het my elke dag kom haal, my tasse gedra en saam met my klas toe gestap.
“Twee van my beste vriende was mede-klasmaats, en hulle het my ondersteun deur dieselfde beginsels te gebruik wat ons in arbeidsterapie leer – om onafhanklikheid aan te moedig terwyl hulle help waar nodig.
“Hulle was my grootste lofsangers; op die dag toe ek uiteindelik sonder krukke geloop het, het hulle dit kliphard gevier, al het ek steeds mank geloop. Hulle ondersteuning was nie net fisiek nie. Hulle teenwoordigheid, hulle luisterende ore en hulle voortdurende herinneringe dat ek sterk was, het ’n groot rol in die herbou van my selfvertroue en onafhanklikheid gespeel.”
Moagi voeg by dat almal in die Afdeling Arbeidsterapie ’n handjie bygesit het, en dat sy ook die dienste van die Sentrum vir Studentevoorligting en -ontwikkeling (SSVO) gebruik het.
“Die Afdeling Arbeidsterapie het my van die dag van my besering af ondersteun. Dosente en personeel het my besoek, geskenke gebring, my dopgehou en seker gemaak dat ek altyd vasgehou gevoel het. Dr Susan de Klerk en Karen Ferreira, in die besonder, het al die pad saam met my gestap, maar eerlikwaar, die hele afdeling het tot die laaste dag opgedaag – en daardie verhoudings het veel verder as die akademie gestrek. An-Maree Nel by die SSOV het my kom besoek op dae wat ek hofverhore gehad het, asook voor én na my ma se afsterwe.”
Groei
As sy op ’n uitdagende jaar terugkyk, sê Moagi sy is trots op haarself dat sy elke dag opgedaag het, geglimlag het, met pasiënte omgegaan het, ’n vriendin en ’n suster was en elke assessering geslaag het.
Sy weier om haarself as ’n slagoffer te sien.
“Ek is nie ’n slagoffer van wat met my gebeur het nie. Ek is ’n bewys van genesing, krag en transformasie. Om oor die verhoog te stap met graduering beteken ek laat die oortuiging agter dat my ervarings hindernisse was en dat ek vorentoe tree met die wete dat hulle die grondslag van my groei geword het.”
Moagi glo haar ervarings het ook die soort arbeidsterapeut wat sy hoop om te word, beïnvloed.
“My ervarings het my meer empaties, geduldiger en meer ingestel op verborge pyn gemaak. Ek wil die soort arbeidsterapeut wees wat die hele persoon sien, nie net hul;e diagnose nie, en wat verstaan dat veerkragtigheid vir elkeen anders lyk.”
En wat is haar boodskap aan ander studente wat deur trauma, hartseer of oorweldigende uitdagings in die gesig gestaar word?
“Ek hoop hulle weet dat hulle pyn hulle nie diskwalifiseer om op te staan nie. Genesing is nie lineêr nie, en krag lyk nie altyd lawaaierig nie – soms is dit net om te kies om môre weer te probeer. Dis oukei om op ander te steun, te rus, te huil en stadig te beweeg. Wat saak maak, is dat jy nie toelaat dat jou uitdagings jou oortuig dat jy nie jou doelwitte werd is nie.
“Jy kan jou wonde dra en steeds jou toekoms tegemoet stap. Jou storie eindig nie by wat met jou gebeur het nie – dit gaan aan met hoe jy kies om te herbou. En jy mag maar sagkens herbou.”
Moagi doen aanstaande jaar haar gemeenskapsdiens by die Potchefstroom-hospitaal.