Skip to main content
Pregnancy
Persverklaring

Vroeë bevalling veiliger vir ma en baba in geval van hoëbloeddruk-swangerskappe

Cochrane Press Office
22 Mei 2026
  • 'n Groot Cochrane-oorsig het bevind dat beplande vroeë geboorte na 34 weke by vroue met hoë bloeddruk ernstige moederlike komplikasies byna halveer en die risiko van stilgeboorte verminder.
  • Die ontleding van 3 491 vroue in verskeie lande toon geen verhoogde risiko van keisersnee of opname in die neonatale eenheid met vroeë geboorte nie.
  • Bevindinge ondersteun huidige riglyne: beplande vroeë geboorte (teen 37 weke vir pre-eklampsie) verbeter uitkomste en vermy vertraagde noodgeboortes wat dikwels groter risiko inhou.

ʼn Nuwe Cochrane-oorsig wat op Wêreldpreëklampsiedag (22 Mei) gepubliseer is, het aan die lig gebring dat beplande vroeë bevallings vir swanger vroue met hoë bloeddruk komplikasies onder moeders met bykans die helfte verminder en die risiko van stilgeboorte verklein sonder om die waarskynlikheid van ʼn keisersnee te verhoog.

Verskeie instellings het aan hierdie belangrike studie deelgeneem en prof Catherine Cluver, navorser aan die Universiteit Stellenbosch en die Tygerberg-hospitaal, was ʼn senior outeur van die oorsig.

Hipertensie-afwykings tydens swangerskap, wat preëklampsie, swangerskapshipertensie en chroniese hipertensie insluit, is die tweede grootste oorsaak van moedersterftes wêreldwyd. Vir vroue met preëklampsie bly ʼn vroeë bevalling die enigste bewese behandeling, aangesien die toestand deur die plasenta aangedryf word en eers ná verlossing van die baba en die plasenta verdwyn.

Hierdie oorsig onder leiding van King’s College London het die data saamgevoeg van ses ewekansig beheerde proewe waaraan 3 491 vroue deelgeneem het en waarin beplande vroeë bevallings ná 34 weke met waaksame wagtyd vergelyk is. Die proewe het vroue met een of meer tipes hipertensie-afwyking ingesluit en is in verskeie omgewings uitgevoer, insluitend Nederland, die Verenigde Koninkryk, die VSA, Indië en Zambië.

Voordele vir ma en baba

Die bevindings toon bewyse met hoë sekerheid dat ernstige komplikasies bykans gehalveer is onder ma’s wat ʼn beplande vroeë bevalling gehad het vergeleke met dié wat deur waaksame wagtyd bestuur is.

Beplande vroeë bevallings verklein waarskynlik ook die risiko van stilgeboorte met sowat 75%, hoewel dit met omsigtigheid geïnterpreteer moet word. Dié bevinding is gegrond op bewyse met matige sekerheid, en die afname is aangevoor deur ʼn enkele proefneming in Indië en Zambië, waar stilgeboortekoerse hoër is. Geen stilgeboortes is in die proewe in hoë-inkomstelande aangeteken nie. Dis gerusstellend dat beplande vroeë bevallings waarskynlik ook geen toename in opnames in neonatale eenhede tot gevolg het nie, hoewel hierdie bevinding ook op bewyse met matige sekerheid gegrond is.

Dis belangrik om daarop te let dat die voordeel vir ma’s in hoë- én lae-inkomste-omgewings gehandhaaf is, wat daarop dui dat vroeë bevallings komplikasies verminder selfs wanneer vroue reeds toepaslike monitering en sorg ontvang.

“Hierdie bevindings bied duideliker leiding aan klinici en vroue oor die tydsberekening van geboorte wanneer hoë bloeddruk tydens swangerskap ontwikkel,” het Cluver gesê. “Veral vir vroue met preëklampsie ondersteun die bewyse die aanbieding van beplande vroeë bevallings van 34 weke af, en nie later as 37 weke nie.”

“Die vraag waarmee ons elke dag klinies worstel, is om te oordeel wanneer om ʼn bevalling aan te bied,” het dr Alice Beardmore-Gray, hoofskrywer van die oorsig en verloskundige by King’s College London, gesê. 

Die outeurs het bygevoeg dat in twee van die proewe wat ingesluit is, meer as die helfte van die vroue wat aan die waaksame wagtyd-groep toegewys is, uiteindelik ʼn noodbevalling voor 37 weke nodig gehad het, tipies net drie tot vyf dae later as vroue in die groep vir beplande vroeë bevallings, en dat hulle dikwels meer komplikasies ervaar het.

“ʼn Algemene wanopvatting is dat ma en baba meer tyd wen deur langer te wag, maar dikwels vertraag jy net ʼn onvermydelike noodbevalling, wanneer albei in ʼn erger toestand kan wees,” het Beardmore-Gray verduidelik.

Geen verhoogde risiko van keisersnee 

Die oorsig het bewyse met hoë sekerheid gevind dat daar geen verhoogde risiko vir ʼn keisersnee by beplande vroeë bevallings is nie. Dit is ʼn bevinding wat die outeurs as veral belangrik vir kliniese voorligting en besluitneming deur vroue beskou.

“Dis die eerste vraag wat enigiemand vra wanneer jy hulle ʼn vroeë induksie aanbied: Sal dit nie my risiko van ʼn keisersnee verhoog nie?” het Beardmore-Gray gesê. “Om duidelik nee te kan antwoord, is ʼn baie belangrike stukkie inligting wat mens an vroue kan gee wanneer jy hulle oor die tydsberekening van hul bevalling voorlig.”

Die outeurs beveel aan dat die tydsberekening van bevallings die vrou se voorkeure en die erns van haar toestand in ag moet neem. Hierdie bevindings strook met en versterk huidige internasionale riglyne, wat aanbeveel dat ʼn beplande vroeë bevalling van nie later nie as 37 weke nie aan alle vroue met preëklampsie aangebied moet word. Vroue met swangerskaps- of chroniese hipertensie sonder ernstige simptome kan kies om voort te gaan met waaksame monitering, met beplande vroeë bevallings wat van 39 weke af oorweeg word.

Verdere navorsing is nodig oor langertermyn-uitkomste vir laat premature babas en die langtermyn- kardiovaskulêre gesondheid van moeders wat deur hipertensie-afwykings van swangerskap geraak word.

Notas aan redakteurs:

“Planned early birth versus expectant management for hypertensive disorders from 34 weeks’ gestation to term” sal in die Cochrane-databasis van Sistematiese Oorsigte gepubliseer word.

Om toegang tot die konsepmanuskrip onder embargo te verkry, gebruik asseblief die volgende skakel. Die toegangswagwoord is EmbargoMay2026.

Nadat die embargo opgehef is, sal dit by die volgende url beskikbaar wees: https://www.cochranelibrary.com/cdsr/doi/10.1002/14651858.CD009273.pub3

Vir verdere inligting kontak asb.: 

Mia Parkinson, Cochrane-mediakantoor

Vir ʼn onderhoud met die hoofskrywer, kontak asseblief die mediakantoor van King’s College London by [email protected].

[email protected] of [email protected], +44 20 4591 8310 

Merkers

Gesondheidsorg

Verwante stories